Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 24
Wat is die hoofsimptome van ADHD?
ОглавлениеDie drie hoofsimptome is:
•aandagafleibaarheid
•hiperaktiwiteit
•impulsiwiteit.
Al drie simptome is nie noodwendig by alle ADHD-lyers teenwoordig nie. Ongeveer 85 persent van ADHD-lyers word as die “gekombineerde groep” – waar al drie simptome aanwesig is – gediagnoseer. By adolessente en volwassenes is die hiperaktiwiteitskomponent egter dikwels as “praterigheid” teenwoordig. Hulle hardloop en spring dus nie noodwendig oormatig baie rond nie, maar praat gewoonlik baie. Iets wat ek dikwels by hierdie ouer lyers opmerk, is dat hulle fisieke ongemak, veral in hulle gewrigte, beleef wanneer hulle vir lang tye moet stilsit. Hulle toon ook soms emosionele probleme en perfeksionistiese en/of obsessief-kompulsiewe gedrag.
Die aanhoudende gevroetel en rusteloosheid wat so dikwels die gekombineerde en hiperaktiewe vorm van ADHD kenmerk, is dalk ook minder opsigtelik by volwasse lyers omdat hulle dan al beter konformeer met samelewingsnorme as jonger ADHD-lyers. Die jonger lyer sal dus waarskynlik in die skoolbank sit en kriewel en selfs opstaan, terwyl die volwasse lyer wel sal bly sit, maar ongemak beleef.