Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 29

Rigiditeit

Оглавление

Kinders met ADHD is dikwels rigied en hou nie van ontwrigting nie. ’n Onverwagte verandering in hulle roetine – enigiets onvoorspelbaars – kan hulle baie onseker en angstig laat voel.

Drikus, agt jaar oud, se hele dag is ontwrig toe sy oupa hom by die skool moes gaan haal. Gewoonlik pik sy ouma hom by ’n spesifieke hek op. Maar dié dag sou sy oupa hom oplaai, en wel by ’n ander hek omdat dit die enigste is wat hy ken. Hy sou ook nie voor twee-uur daar kon wees nie. Deeglike reëlings is getref, maar Drikus kon dié dag glad nie konsentreer nie. Toe sy juffrou soos afgespreek saam met hom na die punt stap waar hy vyftien minute vir sy oupa sou moes wag, het hy hartstogtelik begin huil. Hy was verward en angstig. Toe daar niemand by die hek is nie, het hy na die gewone hek gehardloop, daar gaan sit en verseg om na rede te luister. Hy was bang dat sy oupa sou wegry as hy nie op die gewone plek wag nie.

Nog ’n uiterste geval is dié van die tienjarige Barend, ’n kranige rugby- en krieketspeler wat gereeld op sportkampe gaan. Sy ouers moet vooraf die volledige program by die organiseerders bekom sodat hulle Barend na al die eetplekke kan neem wat hulle gaan besoek. So kan Barend vooraf die spyskaart bestudeer en sal hy weet wat om te bestel. Met enige onverwagte afwyking van die plan ervaar Barend byna ondraaglike angs.

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes

Подняться наверх