Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 41
Probleme met grense
ОглавлениеMense met ADHD-simptome ervaar persoonlike ruimtes anders as die deursnee-mens. Daar word dikwels gesê dat hulle ’n probleem met grense het. Juffrou weet waarskynlik dat Petrus wat so aanhoudend by haar lessenaar is, ’n ADHD-kind is. Dit voel soms asof jy sy gesig voor jou gaan sien as jy in die middel van die nag wakker word. Dit is asof hy altyd vlak voor jou is.
Pa’s raak dikwels baie gefrustreerd hieroor. Pa kom moeg van die werk af en Rikus is by hom en bo-oor hom en vertel hom duisend dinge alles in een asem. Wanneer Pa uit Londen huis toe bel, kan hy omtrent nie met Ma praat nie, want Rikus neem die telefoon oor. Aan die einde van die gesprek kan Rikus nie vir Ma sê wat Pa gesê het nie en Pa weet ook nie wat Rikus gesê het nie. Pa is kwaad vir homself omdat hy geïrriteerd en kortaf met Rikus was. Rikus is huilerig en ongelukkig en Ma probeer die wonde heel.
Die volwasse lyer sal ongestoord in jou private ruimte inbars en glad nie aanvoel dat hy ’n grens oortree nie. Ek het nog niemand met ADHD teëgekom wat liggies aanklop of kug en vra of hy maar kan binnekom of nader staan nie.
So gaan vier van ons – ek, ’n vriendin van kindsbeen af, haar ma en nog ’n vriendin – weg vir ’n naweek. Elaine se ma is in die tagtig en steeds ’n klassieke ADHD-lyer. Dit is ’n voorreg om haar lewenslus en entoesiasme mee te maak. Ons verkneukel ons dikwels in haar prontuit sêgoed. Die dag toe ek Elaine en haar ma ná die naweek by die lughawe gaan aflaai, probeer sy haar bes om te luister na ’n storie wat ek vertel, maar my stem is sag en die storie raak lank. Die haar wat voor my oë hang, trek aanmekaar haar aandag. Tot sy ’n vasbeslote uitdrukking in die oë kry, die haar met mening vasvang en hom uitpluk. “Dis beter,” sê sy.