Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 34
Fisieke kenmerke
ОглавлениеDie meeste navorsers is dit eens dat die volgende fisieke eienskappe algemeen by ADHD-lyers voorkom:
•kieskeurige óf vraatsige eetgewoontes
•allergieë (die gene wat allergieë en ADHD oordra, is volgens prof. André Venter van die Universiteit van die Vrystaat naby mekaar op dieselfde chromosoom geleë)
•slaapprobleme
•koördinasieprobleme (kom lomp voor, het ’n swak balans en slordige handskrif).
Ek wei nie te veel uit oor die fisieke kenmerke van ADHD-lyers nie, omdat daar in dié verband nie duidelike patrone na vore gekom het met die kinders met wie ek deur die jare gewerk het nie. Ek kom byvoorbeeld minder lyers met slaapprobleme teë as dié wat slaap sodra die kop die kussing tref.
Sommige ADHD-lyers is kieskeurige eters en ander nie. Baie vergeet om te eet as hulle nie daaraan herinner word nie. Wanneer hulle dan honger word, is hulle verskriklik honger en moet hulle onmiddellik eet.
Wat koördinasie betref, het die meeste ADHD-tieners waarmee ek te doen kry, ’n voorliefde vir skaatsplankry nes ander tieners. Ek het dit ook al probeer – ’n mens moet nogal rats op jou voete wees om dit reg te kry! Ek glo wel dit is oor die algemeen waar dat ADHD-lyers ’n probleem met fynspierkoördinasie het. Dit strook met my ervaring dat hulle soos gereïnkarneerde krappe skryf! Maar hulle handskrif verbeter wel beduidend wanneer hulle op medikasie is, en baie teken pragtig. In daardie gevalle (en ek vermoed in die meeste gevalle) is die slordige handskrif nie die gevolg van swak koördinasie nie, maar iets anders.