Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 26

Impulsiwiteit

Оглавление

Die impulsiwiteit wat met ADHD geassosieer word, word myns insiens nie duidelik genoeg in die DSM-5-kriteria uitgewys nie.

Ek hoor dikwels baie vermaaklike stories oor kinders met ADHD se impulsiwiteit en verkneukel my stilweg in hoe hulle spontane eerlikheid enige pretensie blootstel. Hulle sal byvoorbeeld sonder om te blik of te bloos kommentaar lewer oor die braaivleis wat middagete sou wees en duidelik nie voor sononder gereed gaan wees nie. Almal is honger en geïrriteerd maar bly ordentlikheidshalwe stil. Jaco sê egter prontuit hoe hy voel sodra hy die eerste hongerpyn beleef. Hy bedoel nie om oom Bertus, wat vyf keer die vuur laat doodgaan het, se eer te krenk nie. Hy is glad nie bewus van die vroue wat die ongemak probeer toesmeer nie. Sodra daar dan ’n doodse stilte ontstaan oor die sonde wat die kind nou weer gepleeg het (om die ding te sê soos dit is!), sal so ’n kind net sê: “Oeps!”

Hulle praat sonder om te dink. Hulle bedoel nie om enigeen te na te kom nie. Hulle is nie “aspris” nie. Hulle is nie soos sommige kinders wat onderlangs sal konkel en moeilikheid vir ander orkestreer nie. Hulle sê en doen ’n ding reguit. ’n Gedagte is nog skaars in hulle kop of dit is uit by hulle mond. Nodeloos om te sê – hulle is nie goed met geheime bewaar nie.

Eerlikheid gaan byna vanselfsprekend gepaard met impulsiwiteit. Oor die mooi eienskappe van hierdie kinders en volwassenes skryf ek in hoofstuk 12 in ’n meer ernstige trant. Ons fokus nou ter wille van volledigheid en struktuur op die ander gedragseienskappe wat dikwels met ADHD verbind word.

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes

Подняться наверх