Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 35
Swak beplanningsvermoë
ОглавлениеADHD-lyers sukkel om vooruit te beplan. Die lewe van menige ouer sal minder stresvol wees indien hulle hierdie feit aanvaar. As jy vandag Daniël se hele tas uitpak en netjies in vakkies met plakkers en al organiseer, beteken dit nie dat jou werk in dié verband nou vir die volgende jaar afgehandel is nie. Volgende week sal sy tas weer vol los papiere wees. Woensdag se huiswerk sal weer by Sondag s’n (of glad nie) ingeskryf wees.
Volwasse ADHD-lyers sal soms supernetjies en dan weer superslordig wees. Vanweë ’n perfeksionistiese karaktertrek wat dikwels by hierdie mense teenwoordig is, sal hulle buitengewoon lank neem om hulle lessenaar perfek te orden, maar ’n paar dae later is dit weer ’n volslae deurmekaarspul.
In die geval van ADHD-kinders loon dit tog die moeite om gereeld hulp te verleen met organisering, strukturering en ander vaardighede wat hulle nog nie bemeester het nie.
’n Gedig deur die Amerikaanse gesinsraadgewer Dorothy Law Nolte, hier in Afrikaans vertaal deur Nonna Weideman, verwoord watter belangrike dinge kinders uit ’n ouer se voorbeeld leer:
Kinders leer soos hulle leef
As kinders met kritiek saamleef, leer hulle veroordeel.
As kinders met vyandigheid saamleef, leer hulle baklei.
As kinders met vrees saamleef, leer hulle om bang te wees.
As kinders met bejammering saamleef, leer hulle om hulleself te bejammer.
As kinders met spot saamleef, leer hulle om skaam te wees.
As kinders met jaloesie saamleef, leer hulle wat afguns is.
As kinders met skande saamleef, leer hulle om skuldig te voel.
As kinders met verdraagsaamheid saamleef, leer hulle om geduld te hê.
As kinders met aanmoediging saamleef, leer hulle selfvertroue.
As kinders met aanprysing saamleef, leer hulle om te waardeer.
As kinders met goedkeuring saamleef, leer hulle om van hulleself te hou.
As kinders met aanvaarding saamleef, leer hulle om liefde om hulle te vind.
As kinders met erkenning saamleef, leer hulle om ’n doelwit te hê.
As kinders met mededeelsaamheid saamleef, leer hulle om vrygewig te wees.
As kinders met eerlikheid en regverdigheid saamleef, leer hulle wat waarheid en geregtigheid is.
As kinders met sekuriteit saamleef, leer hulle om vertroue in hulleself en in dié om hulle te hê.
As kinders met vriendelikheid saamleef, leer hulle dat die wêreld ’n lekker plek is om in te woon.
As kinders met kalmte van gees saamleef, leer hulle om gemoedsrus te hê.
Waarmee leef jou kinders saam?
Soos almal leer ADHD-kinders hulle waardes en gewoontes uit hulle omgewing – veral hulle ouerhuis – aan. Die positiewe dinge in die gedig wat ons by hulle wil tuisbring, is soveel belangriker as byvoorbeeld ’n mooi handskrif of ’n netjiese kas. Die beginsel bly egter dieselfde. Indien ’n ADHD-kind in ’n geordende huis grootword, is sy lessenaar by sy werkplek vyftien jaar later georden. Dit is belangrik om te onthou dat sekere van die simptome en probleme wat met ADHD gepaardgaan, vaardighede behels wat wel aangeleer kan word.
Een hiervan hou verband met die vermoë om te beplan en die deeglikheid waarmee ’n taak aangepak en uitgevoer word. Jy weet hoe die proses verloop as jy jou kind vra om die motor te was of om gou die leefkamer op te ruim of die gras te sny. Indien jy jou kind eers leer hoe om die opdrag uit te voer, soos Stephen Covey in The Seven Habits of Highly Effective People (1989) sy seun leer hoe om die tuin te versorg, kan die uitkoms anders lyk. Covey wys verskeie beginsels uit wat van onskatbare waarde is vir die benadering van ’n kind met ADHD. Ons sal later meer indringend daarna kyk. Vir eers wil ek illustreer hoe ’n ADHD-kind, net soos enige ander kind, geleer kan word om ’n taak te voltooi.
Covey gaan só te werk: Hy maak seker dat sy seun Stephen eers ’n duidelike prentjie in sy kop het van hoe ’n goed versorgde tuin lyk. Hy gaan wys vir hom so ’n tuin. Hy som die prentjie vir sy seun op met “groen en skoon”. Hy wys sy seun daarop dat daar benewens die natuurlike kleure nie ander kleure in die netjiese tuin is nie. Hy verduidelik dat skoon beteken dat geen papiere, bene, speelgoed of stokke rondlê nie. Hulle ruim dan saam een helfte van die tuin op. Jong Stephen vergelyk dan die twee helftes en ruim daarna die tweede helfte op.
Hulle gaan dan ’n ooreenkoms aan. Die seun is nou self verantwoordelik vir die opruiming van die tuin. Hy mag sy pa se hulp vra. Twee maal per week sal hulle saam deur die tuin loop vir inspeksie. Vir twee weke rig sy pa hom af met die twee woorde “groen en skoon”. Ná twee weke glo Covey dat sy seun nou self die verantwoordelikheid sal aanvaar en dat hy hom nie langer daagliks hoef te herinner om sy tuinwerk te doen nie. Die beoogde uitkoms het egter nie gerealiseer nie.
Ná nege dae en ’n toenemende chaos in die tuin weerstaan Covey die versoeking om met sy seun te raas en hom te beveel om sy pligte na te kom. Hy nooi sy seun om saam met hom deur die tuin te stap, sodat hulle sy vordering kan evalueer – dit doen hy met ’n vriendelike stemtoon en glimlag.
Toe hulle buite kom, begin die seun se stem bewe en hy sê: “It’s so hard, Dad.” Die pa wil natuurlik weet wat dan nou so moeilik kan wees. Maar in plaas van die verwagte sarkastiese opmerking sê die pa eenvoudig: “Is there anything I can do to help?”
Die deursnee-kind kan nie op sy eie ’n vertrek opruim soos jy dit sou doen nie. Jy moet hom dit leer. Dit verg tyd en geduld. Op die lang duur spaar dit jou wel baie tyd. Dit gaan nóg meer tyd en geduld kos om ’n ADHD-kind “af te rig” om sekere verantwoordelikhede te aanvaar en opdragte doeltreffend uit te voer. Al fokus jy net op een bykomende verantwoordelikheid per jaar, vorder julle. Behalwe dat jy op die lang duur tyd terugwen, begin jy op ’n positiewe wyse ’n verantwoordelikheidsin by jou kind aanwakker. Respek en vertroue is baie sterk motivering. Maak gebruik daarvan.
Dit bring ons by die karaktertrekke wat met ADHD verbind word wat meer met emosionele ontwikkeling verband hou.
Onverantwoordelikheid
’n Swak ontwikkelde verantwoordelikheidsin word dikwels met ADHD-lyers verbind. Die pligsbesef wat óf laat óf dikwels net gedeeltelik ontwikkel, bekommer my meer as enige van die ander simptome en geassosieerde eienskappe van ADHD. Dit is juis hierdie aspek van die gedrag van ADHD-lyers wat baie spanning in die huishouding veroorsaak. Ek glo nietemin dat hierdie kinders wel stelselmatig geleer kan word om verantwoordelikheid te aanvaar. Die proses moet stadig verloop – soos teen Kilimandjaro uit. Die voorbeeld van Stephen Covey wat sy seun leer om die tuin op te ruim, het ek met ’n doel gekies. Daaruit blyk duidelik dat die manier waarop Covey sy seun stap vir stap leer om ’n taak te voltooi, ’n sin vir verantwoordelikheid kweek. Jy hoef nie elke negatiewe simptoom of eienskap van jou kind afsonderlik te takel nie. Die manier waarop jy met jou kind kommunikeer, kan dikwels die meeste probleme doeltreffend takel. Die kernbeginsels vir kommunikasie met ADHD-lyers word later bespreek.
Jy as ouer hoor waarskynlik gereeld kritiek aan oor jou kind se gebrekkige sin vir verantwoordelikheid. As onderwyser wonder jy miskien waar om die streep te trek. Jy weet reeds ’n ADHD-kind verg ekstra hulp en ondersteuning. Die vraag is: Hoeveel vergunnings moet jy toelaat en wanneer kan jy begin verwag dat die kind self verantwoordelikheid aanvaar? Ek vind die volgende riglyne sinvol in hierdie verband:
•Voeg take waarvoor die kind verantwoordelik is, een vir een by.
•Neem die kind stadig en stap vir stap deur die proses om die nuwe taak aan te leer.
•Onthou dat ADHD-kinders ’n agterstand van tot 36 maande (drie jaar) in hulle emosionele ontwikkeling of, meer spesifiek, in hulle gepresenteerde gedrag toon. Die ADHD-seun in graad 9 se gedrag lyk dus soos die gemiddelde graad 6-seun se gedrag. Dit gee jou ’n idee van die optrede wat jy van ’n ADHD-kind kan verwag.
’n Gebrekkige sin vir verantwoordelikheid hou ernstige implikasies vir ’n mens se hele lewe in. Dit is noodwendig so dat jou beroepslewe, verhoudings en sosiale funksionering negatief deur onverantwoordelike optrede beïnvloed word. Daar is ontstellende syfers oor ADHD-lyers wat die ronde doen, soos dat 32-40% van hulle nie hulle skoolloopbaan voltooi nie en dat 80% onderpresteer, soos reeds genoem. Net so skrikwekkend is studies wat wys dat 40% van tienerswangerskappe onder ADHD-lyers voorkom, dat 50-70% van hulle by antisosiale aktiwiteite betrokke raak en dat die padongeluksyfer hoër onder ADHD-lyers is.
Daar is nog sulke syfers. Ek verkies om te fokus op die feit dat 60-68% persent van ADHD-kinders wel hulle skoolloopbaan voltooi. Ja, hierdie kinders het ’n geneigdheid tot onverantwoordelike en roekelose gedrag. Wees bewus daarvan en wees ook realisties daaroor. Toegewings moet gemaak en spesiale moeite gedoen word met die aanleer van verantwoordelikheid. Hou in die proses die onderliggende beginsel van die gedig “Kinders leer soos hulle leef” wat jy vroeër gelees het, in gedagte.
Soms beny ons dalk selfs kinders met ADHD die vryheid wat hulle ervaar. Maar dikwels dra die gedrag van volwassenes by tot hulle onverantwoordelikheid – soos die volgende gevallestudie toon.
Lourens is ’n ADHD-lyer in graad 9. In sy geval is dit inderdaad aardjie na sy vaartjie. Hy is ’n hoogs intelligente seun. Volgens die IK-toets wat hy afgelê het, is sy verbale sowel as sy nieverbale vermoëns superieur. Hy is dus intelligenter as minstens 91% van veertienjarige seuns in Suid-Afrika. Sy prestasie reflekteer dit glad nie. Ek en sy ma maak in oorleg met sy skool aanpassings en spook en spartel om Lourens se punte te laat verbeter. ’n Tutor word aangestel om smiddae met sy huiswerk te help. Sy ma moet elke dag hot en haar bel en organiseer om alles gekoördineer te kry. Intussen begin die tutor (wat ook talle ander verantwoordelikhede het) geduld verloor en haar frustrasie hoop op.
Op ’n dag kom die skool vroeër uit. ’n Nuwe rolprent draai en Pa besluit hy en sy seun gaan ’n bietjie bond. Ma stres, want die tutor arriveer ’n uur nadat die twee uit die fliek kom. “Daar is niks om oor bekommerd te wees nie,” sê Pa, “dis oorgenoeg tyd.” Hy sal toesien dat die kind betyds is. Hy weet mos hoe belangrik dit is dat hy vir die volgende dag se toets leer. So gaan fliek hulle. Die fliek kom uit. Pa en seun gaan drink gou ’n koeldrank. Dit was nou ’n fliek so in hulle kraal. Hulle praat dat die biesies bewe. Die selfone is natuurlik nog afgeskakel. Die tutor kom. Ma bel en ry op en af. Die tutor gaan. Pa en seun geniet hulle besprekingsessie terdeë en kom heelwat later gelukkig en tevrede by die huis aan.