Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 27
Ongeorganiseerdheid
ОглавлениеAlmal maak gedurig vir ADHD-kinders afskrifte van die afskrifte wat hulle verloor het. Om vas te stel waaroor hulle nou eintlik toets skryf en om daardie inligting op een plek bymekaar te kry is ’n kuns. Wanneer jy almal wild en wakker gebel het, die apteek se faksmasjien en die naaste fotokopieermasjien ingespan het om te help en alles is gereed – dan, o gaats – weg is die kind.
Wanneer die volwasse ADHD-lyer ’n inkopielysie moet opstel, drie telefoonoproepe moet maak en iemand moet ontvang wat onverwags opdaag, is daar chaos in sy kop. Meestal sal hy hiperfokus op een van daardie aktiwiteite (of selfs iets heeltemal anders), en wanneer dit dan neusie verby is, besef dat daar nou negatiewe gevolge is wat gedra moet word. Die skuld word dan dikwels op die ontydige buurman – of wie of wat ook al – geplaas.
As ons nie die humor raaksien nie – ma of pa, juffrou of meneer, terapeut – dan gaan ons gedaan anderkant uitkom. Die beeld wat by my opkom, is van ’n Tom-en-Jerry-strokiesprent. Ou Tom se tong hang uit, die skouers hang, die hare staan penorent asof hy ’n elektriese skok weg het – en Jerry dartel ligvoets oor ’n heuwel weg op pad na ’n volgende avontuur, met staccato-musiek op die agtergrond.