Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 28

Gebondenheid aan die konkrete

Оглавление

Kinders met ADHD (maar selfs ook die volwasse lyers) is oor die algemeen ongelooflik gebonde aan die konkrete in hulle denke. ’n Gevolg van hierdie konkreetgebondenheid is dat hulle werklik sukkel om opsommings te maak. Probeer ’n slag self ’n deel van die inhoud van ’n leerarea opsom wanneer jy en jou kind weer met skoolwerk spartel. Jy sal agterkom hoeveel abstrakte denkprosesse daarby betrokke is. Help jou kind dus daarmee of, indien nodig, doen dit selfs in die geheel vir hom. “Maar hy moet mos verantwoordelikheid leer,” sê juffrou C en Ouma. Die waarheid is dat jy net soveel energie en tyd het en dat daar soms belangriker sake is wat jou aandag vereis.

Jy het waarskynlik ook reeds agtergekom dat jou kind soms net nie ’n grappie kan snap nie. Ander kere verbaas sy weer almal met haar humorsin. Dit wil voorkom asof grappe van ’n meer abstrakte aard nie deur kinders – en dikwels ook nie deur volwassenes – met ADHD gesnap word nie. Omdat hulle so konkreet-gebonde is, interpreteer hulle dinge dikwels absoluut letterlik.

Op ’n dag gee ek vir ’n kind ’n aktiwiteit wat hy met inkleurkryte moet voltooi. Philip is nege jaar oud. Ek vra hom om ’n rooi kryt te kies vir die volgende patroon. Hy grawe in die roomysbak vol kryte en vis ’n baie kort enetjie – omtrent twee sentimeter lank – uit. Ek sê toe iets soos: “Ek sien jy kies toe die langste een.” Baie ernstig sê Philip: “Is nie, tannie, kyk,” en hy pak summier twintig of wat ellelange rooi kryte op die werktafel uit.

Kinders met ADHD word dikwels verkleineer of gespot omdat hulle dinge so letterlik opneem. ’n Ouer broer of suster sal hulle selfs voor vriende iets toesnou soos: “Verskoon my broer, hy’s ’n bietjie dof.”

Nog ’n gevolg van hulle konkreet-gebondenheid is dat hulle met sekere afdelings van wiskunde – spesifiek woordsomme – sukkel. Met ander dele gaan dit gewoonlik goed. Party van die kinders wat na my vir terapie kom, is selfs briljant in wiskunde. Kinders met ADHD is ook geneig om met die interpretasie van begripsleesstukke te sukkel. Hoewel hulle die feitevrae korrek kan beantwoord, lol dit as dit by die insigvrae kom.

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes

Подняться наверх