Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 44

BABA SE VEL

Оглавление

’n Pasgebore baba se vel

Dié wonderlike orgaan beskerm, vervaardig, skei uit en absorbeer. Dit is die liggaam se grootste orgaan en het al ons respek en sorg nodig om gesond te bly. ’n Veluitslag is dikwels ’n weerspieëling van inwendige probleme en ’n mens moet eerder die oorsaak probeer vasstel as om net vinnig roompies aan te smeer. Hou hierdie wenke in gedagte:

•Gebruik sagte seep en sjampoe met rooibos- en gousblomekstrak vir bad.

•Gebruik poeier spaarsaam.

•As jou baba ’n veluitslag het, trek 500 ml rooibostee van 1 teesakkie en voeg by die badwater.

•Stel Baba daagliks ongeveer 15 minute lank aan sonlig bloot, maar nie op die hitte van die dag nie.

•Waspoeier en -versagmiddels veroorsaak dikwels ’n veluitslag – gebruik ’n spesiale wasmiddel vir babas met sensitiewe velletjies se klere en beddegoed.

•Moenie Baba te warm aantrek nie; dit veroorsaak hitte-uitslag.

•’n Baie ernstige droë veluitslag reageer goed op Calendula-tablette en gousblomroom.

•Beperk of vermy suiwelprodukte in jou dieet as jy borsvoed aangesien dit dikwels allergieë veroorsaak. Gebruik ’n allergievrye formule vir bottelbabas wat geneig is tot ’n veluitslag.

•Masseer jou baba elke dag. Daar is niks mooier as ’n baba se sagte, pêrelgladde velletjie nie, en aanraking is terapeuties! Jy hoef nie ’n spesiale tegniek aan te leer nie, doen dit net elke dag voor badtyd. Dit prikkel die afskeiding van endor­fien by jou en jou kind, en julle sal albei gou die ontpannende uitwerking voel. Gebruik ’n bietjie goeie babamasseer­olie en konsentreer op die bewegings wat jou baba geniet. Jy kan selfs uit­sien na ’n rustiger nagrus.

Muskietbyte

ROOIBOS VIR DIE HELE GESIN

Rooibos is meer as ’n gesonde kruietee – dit is ’n inheemse nasionale skat. Die hele gesin kan baat vind by die gebruik van rooibos met sy heilsame uitwerking vir die vel, senuwee­stelsel en spysverteringstelsel. Uitgebreide toetse wat in Japan en aan die Universiteit van die Vrystaat op rooibos uitgevoer is, het getoon dat dit ’n antioksiderende uitwerking het. Antioksidante speel ’n belangrike rol in algehele gesondheid en welsyn deur elke deel van die liggaam te help om doeltreffend te funksioneer. Rooibos is kafeïenvry en bevat baie lae vlakke van tannien, wat dit die ideale aanddrankie maak in plaas van koffie. Dit bevat ook belangrike spoorelemente en daarom vorm dit al jare lank deel van ’n rehidrasieprogram in talle kindersale.

Rooibos is ’n veilige drankie vir verwagtende moeders en hul babas, en kan ná die geboorte deel uitmaak van ’n gesonde dieet vir kleingoed van alle ouderdomme. Alle kruie­tees behoort as flou aftreksels gedrink te word – dit het ’n heerlik subtiele geur en daar is nooit die risiko van ’n nadelige uit­werking nie. Dit is noodsaaklik dat vroue hul energievlakke in stand hou tydens die kraam- en geboorteproses. Min vroue is egter lus om te eet, en rooibos bied die ideale oplossing. Voeg eenvoudig fruktosepoeier of -stroop by ’n fles rooibostee en drink daarvan in die loop van die kraamtyd. Dit sal jou laat ontspan en sorg dat jy genoeg stamina het vir die ongelooflike ervaring van die ge­boorte­proses. Dit het ook nog ’n ellelange lys ander gebruike, van ’n strelende middel vir Ma se gebarste tepels tot die verligting van Baba se koliek, waarna dwarsdeur hierdie boek verwys word.


Voorsorg voorkom nasorg; beproef dus hierdie wenke:

•Drup druppels sitronellaolie oral in Baba se kamer om die muskiete op ’n afstand te hou, maar moenie dit aan die baba self aanwend nie.

•Gebruik ’n muskietnet.

•Moenie muskietgeteisterde gebiede besoek tydens malariaspitstye nie.

•Kneus ’n hand vol kakiebos- of basilie-kruidblare en plaas in ’n blompot in Baba se kamer.

•Baba kan spesiale muskietwerende sitronella-armbandjies dra – dit is heel­temal veilig.

Behandel muskietbyte op een van die volgende maniere:

•Maak ’n pasta van koeksoda en water aan en smeer aan die bytplek.

•Voeg ’n pot sterk rooibostee by die badwater om die gejeuk te streel.

•Gee elke uur die weefselsout Ferrum phos. vir Baba tot die wond minder rooi en ontsteek lyk.

•Druk ’n Sister Lilian Calendula-tablet fyn, meng tot ’n strelende pasta met ’n bietjie water en smeer aan die jeukplekke.

Kry onmiddellik mediese hulp as julle ’n malariagebied besoek het en Baba siek lyk of koors ontwikkel. Gee ook elke uur die weefselsout Nat. sulph. tot Baba se toestand verbeter. Ek wil egter benadruk dat dit uiters on­ver­ant­woor­de­lik is om babas en klein kinder­tjies na malariagebiede te neem.

Babaskilfers

Babaskilfers is ’n korsagtige, geel lagie wat aan Baba se kopvel en moontlik ook die wenkbroue kleef. Dit is verwant aan ’n soort ekseem wat Baba moontlik later kan ontwikkel indien die nodige voorsorgmaatreëls nie getref word nie. Die volgende maatreëls bied doeltreffende behandeling vir babaskilfers:

•Gee homeopatiese Calendula-tablette en die weefselsoutmiddels Kali. mur. en Kali. sulph., 1 tablet van elk 3 maal per dag, fyngemaak en opgelos in 5 ml afgekoelde kookwater.

•Masseer olyfolie in die kopvel in, laat oornag aanbly en was die volgende dag uit, of gebruik ’n fynkam om die korsies te verwyder.

•Maak ’n pasta van koeksoda en water aan, wend aan die babaskilfers en spoel ná 5 minute af.

•In hardnekkige gevalle mag dit nodig wees om van Baba se huidige melk-formule na ’n spesiale allergieformule oor te skakel. As jy borsvoed, verminder die hoe­veelheid suiwel- en graanprodukte in jou dieet.

•Moenie babapap as ’n eerste of vroeë voedsel gebruik nie.

Milia (baba-aknee)

Milia (puisies op ’n baba se gesig, gewoonlik op die wange en neus) verdwyn ge­woonlik teen drie maande en word blykbaar veroorsaak deur verstopte porieë namate die sweetkliere en vel ontwikkel. Dit word ook dikwels “babasuur” ge­noem. Milia klaar binne ’n maand of twee vanself op, maar beproef hierdie wenke om genesing te bevorder:

•Voorkom sekondêre infeksie deur nie aan die plekkies te druk nie.

•Spoel die aangetaste gedeelte met afgekoelde rooibostee af.

•Wend daagliks ’n baie dun lagie gousblomroom aan.

•Dit help dikwels om suiwel, graan- en suurvormende voedsel soos koffie, suurtjies en te veel rooivleis in jou dieet te verminder terwyl jy borsvoed.

Babapoeier

Babapoeier se reputasie is baie meer indrukwekkend as die werklike waarde daarvan! Dit gee natuurlik daardie heerlike “egte baba”-reuk, maar dit spreek eintlik meer tot ’n mens se sentimentele kant.

Aangesien babas sulke sensitiewe velle het, moet babaskoonheidsmiddels baie versigtig gekies word. Beproef verkieslik dermatologies getoetste produkte en hou in gedagte dat iets wat geskik is vir een vel nie noodwendig vir ’n ander vel werk nie.

Poeier sal vogtigheid absorbeer, maar kan sensitiewe velletjies irriteer en is geneig om krummels te vorm wat ook die vel kan irriteer. Koop babasensitiewe produkte en gebruik spaarsamig.

As jy tog poeier wil gebruik, skud eers ’n bietjie op jou hand uit en smeer dit dan aan om te voorkom dat Baba in ’n wolk poeier verstik en van die deeltjies inasem. Dit kan die asemhalingsmembrane irriteer. As Baba se vel sensitief is maar jy regtig van daardie spesiale geur hou, kan jy sommer ’n bietjie aan die buitekant van die doek of frokkie tik.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх