Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 53

’N GOEIE GRONDSLAG

Оглавление

Die keuse van die kliniek of kraaminrigting waar jy geboorte skenk, is belangrik vir ’n goeie grondslag – nie net fisiek nie, maar ook emosioneel. Daar is ’n internasionale inisiatief bekend as “babavriendelike hospitale”. Hoewel dit steeds verbeter, is daar ongelukkig te min inrigtings wat selfs probeer om enige van die internasionaal erkende vereistes vir babavriendelike hospitale na te kom. Die inisiatief berus op ’n hele aantal beginsels wat daarop gemik is om babas op ’n vriendeliker wyse in die wêreld te verwelkom, die emosionele versorging van babas en kinders in hospitale te verbeter en nie te streng reëlgebonde te wees ten opsigte van die liggaamlike roetines wat die grondslag van kindersorg vorm nie.

Een van die hoekstene van die inisiatief is dat Ma en Baba ’n kamer deel (“rooming in”). Mense dink soms dit beteken dat Baba die eerste aand van sy lewe in die babakamer slaap en in die loop van die volgende dag in ’n wiegie in Ma se kamer geplaas word. Ander mense dink weer dit beteken die baba bly bedags by die ma en slaap snags saam met die ander babas in die babakamer. In werklikheid beteken dit dat babas glad nie van hul ma’s geskei word van ná die geboorte nie, behalwe die tydjies wanneer Ma bad of as Baba intensiewe mediese sorg in ’n spesiale eenheid nodig het. Intieme liggaamlike kontak behoort aangemoedig te word en is belangriker as die roetinetake soos om Baba te weeg, te meet en te bad. As Ma die eerste paar dae geweldig moeg is, moet Baba verkieslik deur Pa of ’n familielid versorg te word terwyl sy slaap, en wanneer dit voedingstyd is, moet daardie persoon Ma en Baba bystaan.

Dit gee die ma die geleentheid om elke nuanse van haar baba se gedrag te leer ken sodat dit nie so ’n groot skok is wanneer sy huis toe gaan nie. Babas is rustiger as hulle nie weggeskeur word van die een persoon wat hulle die beste ken nie. Dit verseker ook dat daar geen prosedures of voedings plaasvind sonder jou toestemming nie. Teen die tyd dat jy huis toe gaan, sal jy reeds meer selfvertroue hê wat jou hantering van Baba betref, en dit is bemagtigend en gerusstellend.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх