Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 48

Gesondheidskwessies

Оглавление

Geen ma hou daarvan as haar baba nie lekker voel nie en dit is besonder ontstellend as so ’n jong babatjie siek word. In hierdie afdeling kyk ons na enkele algemene gesondheidsprobleme wat in die eerste drie maande kan opduik. Maar voor ons begin, onthou: Voorsorg voorkom nasorg.

Wenke om in dié stadium siekte te help voorkom

•Gaan voort om uitsluitlik te borsvoed.

•Moenie op dié vroeë tydstip vaste kosse gee nie.

•Gee jou baba hope liefde en interaksie, want ’n gelukkige baba sal meer waar­skynlik ’n gesonde baba wees.

•Behandel dadelik oormatige slym.

•Dokter jouself so gou moontlik met natuurlike geneesmiddels as jy self siek word.

Toe neus

’n Toe neus is baie algemeen onder klein babatjies. Dit is dikwels nie so erg as wat dit klink nie en word meestal veroorsaak deur die feit dat Baba nog nie sy neus kan snuit nie. Dit kom meer dikwels snags voor aangesien Baba dan plat lê en die slym dus nie kan dreineer nie. ’n Druppel soutoplossing in elke neusgat is dikwels doeltreffend om Baba alles te laat uitnies. Soms kan dit ook veroorsaak word deur suiwel- en graanprodukte in ’n ma wat borsvoed se dieet, of ’n suiwel- en soms sojagebaseerde melkformule, selfs net snags. As dit nie vanself opklaar nie, mag dit nodig wees om aanpassings te maak. Jy kan ook homeopatiese MucoCare gebruik as die toe neus herhaaldelik voorkom, en/of gebruik snags ’n bevogtiger met ’n bietjie bloekomolie. Dit moet egter elke oggend deeglik gewas en afgedroog word. ’n Paar druppels bloekomolie onder die warmwater­kraan wanneer jy Baba se badwater laat intap kan ook help vir die nag wat voorlê.

Hardlywigheid

Hardlywigheid is nogal ’n algemene probleem wanneer Baba van borsmelk gespeen word en op die bottel oorgaan of te gou met vaste kos begin. Hardlywige stoelgange is hard en ongereeld. As jou baba uitsluitlik borsmelk kry, mag hy moontlik in dié stadium net elke vyf dae of so ’n vuil doek hê – dit is nie hardlywigheid nie, al druk hy ook hoe hard en raak sy gesiggie bloedrooi. Beproef hierdie voorsorgmaatreëls en wenke vir die behandeling van hardlywigheid:

•Moet nog nie in dié stadium vir Baba pap gee nie.

•Gebruik ’n spesiale melkformule as suiwel- of sojaformule hardlywigheid ver­oorsaak.

•Smeer ’n bietjie petroleumjellie rondom Baba se anus en “ry fietsie” met sy bene wanneer hy probeer druk.

•Hou Baba regop en vryf sy laer rug wanneer hy opelyf wil hê.

•Masseer die drukpunt in die middel van sy linkerhakskeen se sool met jou kneukel om die dermkanaal te stimuleer – dit is ’n baie nuttige refleksologie-tegniek.

•As jy reeds vaste kos gee, beperk dit tot seisoenale vrugte of geel groente, maar bied voorlopig verkieslik meer van Baba se melk aan en eers later vaste kosse.

•Voeg ’n paar druppels olyfolie by twee bottels per dag vir bottelbabas.

•Gebruik homeopatiese middels soos Rescue Digest in die onwaarskynlike geval dat nie een van hierdie wenke help nie.

Klewerige ogies

Klewerige of waterige ogies word soms veroorsaak deur ’n verstopping van ’n traan­klier, maar dui selde op ’n werklike infeksie. Vee die klewerige afskeiding met afgekoelde kookwater en ’n stukkie watte af deur van die binnehoek na die buitehoek te werk. As jy borsvoed, druk ’n bietjie melk in ’n skoon houer uit en vee Baba se oë hiermee af, aangesien borsmelk ’n kragtige natuurlike ontsmettings­middel is. Masseer die onderste ooglid met sirkelbewegings van jou wysvinger van die buitehoek na die binnehoek om enige verstopping te help verwyder. Die weefselsoutmiddels Kali. mur. en Kali. sulph. (1 tablet van elk 3 maal per dag, op­ge­los in ’n bietjie water) is ook nuttig. As jou kleinding dikwels baie mukus af­skei of aan allergieë ly, kan dit daarmee verband hou. Suiwel- en graanprodukte in die dieet (óf jou eie indien jy borsvoed óf Baba s’n) is algemene oorsake. Dien homeopatiese MucoCare mondelings toe vir hierdie toestand. As niks anders wil help nie en dit nie teen ongeveer ses maande vanself op­klaar nie, sal jou dokter moontlik ’n klein operasietjie voorstel om die traanklier oop te maak en enige verstoppings te verwyder.

Hitte-uitslag

Hitte-uitslag kom tipies voor wanneer die temperatuur wissel. Dit laat die vel ligpienk en kollerig vertoon en kom meestal op die warmste plekke van die liggaam voor, soos die nek, gesig en velvoutjies of waar die klere teen die liggaam raak. Die uitslag verdwyn gewoonlik wanneer die liggaam teen die aand afkoel of wan­neer Baba se klere uitgetrek word. Dit jeuk skynbaar nie, maar Baba mag wel rusteloos en ongemaklik wees vanweë die hitte. Moenie hom te warm aantrek nie en gebruik kleertjies van suiwer katoen. In die somer is slegs ’n frokkie en ’n doek of ’n ligte babapakkie dikwels genoeg. As die uitslag egter nie verdwyn nie of as Baba olik lyk en tekens van koors of griepagtige simptome vertoon, mag dit ’n allergie wees. Allergie-uitslag word dikwels deur dieet, wasgoedwasmiddels, badseep of lyfroom veroorsaak. Neem Baba dokter toe as sy olik lyk, sodat die toestand korrek behandel kan word. Voeg ’n pot rooibostee by Baba se badwater en gee vir Baba homeopatiese Calendula-tablette om die gejeuk te laat bedaar.

Ontwrigte heupe

Verskillende grade van ontwrigte heupe kom by babas voor; dit word by ge­boorte getoets. ’n Ligte mate van ontwrigting kan bloot vereis dat Baba vir ’n paar weke tot ’n paar maande lank ’n paar handdoekstofdoeke oormekaar moet dra om die heupbene teen die regte hoek met die holte van die bekkenbeen te hou totdat die ligamente sterker is. Die weefselsoutmiddels Ferrum phos. en Calc. fluor kan aanvullend gebruik word om die ligamente wat die heupbeen aan die holte van die bekkenbeen heg sterker en meer elasties te help maak. Heupontwrigting is taamlik algemeen, veral by brugbabas, en kan gelukkig behandel word. In die ergste gevalle word Baba se beentjies ’n paar maande in ’n omgekeerde-V-spalk ge­plaas, met ’n stut wat die knietjies uitmekaar hou. Dit verg baie geduld en moed van die ouers. Hou by die ondersoekprogram wat die dokter aanbeveel en vra al jou vrae oor jou baba se vordering. Onthou dat die prognose uitstekend is; moet jou dus nie te veel hieroor ontstig nie.

Geelsug by babas

Die meeste gevalle van geelsug by babas is van ’n fisiologiese aard en nie, soos by hepa­titis, ’n simptoom van lewersiekte nie. Pasgebore babas het te veel rooi­bloedselle, wat ná geboorte deur die effens onderontwikkelde lewer afgebreek moet word. Hierdie oortollige rooibloedselle hou talle voordele in gedurende die eerste paar dae, maar namate hulle afgebreek word, word bilirubien gevorm – die geel pigment wat fisiologiese geelsug veroorsaak. Dit begin gewoonlik van die tweede of derde dag af en duur voort totdat dit heeltemal deur die liggaam uitgeskei is.

Geelsug net ná geboorte hou verband met die onversoenbaarheid van die Rhesus­faktor (die positiewe of negatiewe faktor van die bloedgroep) van die ma en baba se bloedgroepe. Dit is redelik seldsaam en word heeltemal anders behandel.

Soveel moontlik van Baba se lyfie moet tuis of selfs by die kliniek 2 maal per dag vir 5–10 minute aan sonlig blootgestel word. Wees versigtig vir sonbrand en be­skerm Baba se ogies. Klinieke gebruik fototerapie, en ’n mens kan ook so ’n een­heid tuis gebruik onder toesig van ’n verpleegsuster wat jou daagliks sal kom besoek.

Dit is noodsaaklik om Baba dikwels te borsvoed, aangesien meer vloeistof no­dig is om die bilirubien te help uitskei. Die geelsug duur soms langer by borsbabas, maar dit klaar vinniger op as jy nie die voedings skeduleer nie. Babas raak soms gouer moeg wanneer hulle geelsug het, dus mag dit nodig wees om hulle vir voedings wakker te maak. Borsbabas raak veral gouer moeg aangesien dit meer inspanning verg om aan die bors te drink.

Die jongste navorsing toon dat hoë bilirubienvlakke nie so gevaarlik is as wat voorheen gedink is nie, maar dit bly ’n goeie idee om te sorg dat dit gemonitor en behandel word.

Mukus

Babas is besonder geneig om mukus te ontwikkel en ’n mens moet dan die soort melk­­formule of die dieet van die ma wat borsvoed in heroënskou neem.

Dit is ook belangrik om die aard van die mukus te ontleed om dit behoorlik te kan behandel met weefselsoutterapie – ’n hoogs koste-effektiewe, veilige en doeltreffende oplossing sonder enige nadelige newe-effekte:

•Waterige, oorvloedige, skuimerige, branderige mukus wat gewoonlik met nies gepaardgaan, vereis Nat. mur.

•Dik, gryswit, taai mukus wat die boonste lugweë verstop, reageer goed op Kali. mur.

•Geel, taai of slymerige mukus reageer goed op Kali. sulph.

•Groen/geel klonterige, slymerige mukus word deur Calc. sulph. verlig.

Sproei by babas

Orale sproei-infeksies kan deur verskeie faktore veroorsaak word. Babas wat bottel drink en fopspeen suig is meer geneig om dit op te doen. Die beste sterili­sasie­metode is om alle komponente sowat 10 minute lank te kook, aangesien sekere steriliseeroplossings steeds nie die probleem oplos nie. Pasgebore babas wat in die hospitaal bottel gedrink het, ontwikkel dikwels binne die eerste twee weke by die huis sproei. Antibiotika lei ook dikwels tot sproei en ’n mens moet verkieslik tegelykertyd probiotika toedien. As Ma ’n sproei-infeksie het (vaginaal, siste­mies of aan haar borste – seer tepels is dikwels ’n aanduiding hiervan), kan dit ook na die baba oorgedra word en moet albei behandel word. Wenke vir tuisbehandeling:

•Gee vir Baba 3 maal per dag 10 ml AB-jogurt wat lewende kulture bevat.

•Dien 3 maal per dag homeopatiese Calendula-tablette en die weefselsout Kali. mur. toe (maak 1 tablet fyn en los dit op in ’n bietjie afgekoelde kookwater).

•Ma’s wat borsvoed moet ook hierdie geneesmiddels gebruik en ’n bietjie gousblomroom of spesiale babaveilige salf aan hul tepels smeer.

•’n Mens kan gentiaanviolet aan Baba se tong smeer, maar dit is taamlik morsig.

•Neem Baba se melkformule in heroënskou as sproei gereeld voorkom en vermy pap in dié vroeë stadium.

Onafgesakte testikels

In die embriostadium ontwikkel ’n seuntjie se testikels in die maagholte, naby die niere. Die normale verloop van sake is dat hulle laat in die swangerskap na hul plek in die skrotum afsak. Onafgesakte testikels is wel ’n rede tot kommer, aangesien die testikels sperm by ’n temperatuur effens laer as die normale liggaamstempera­tuur vervaardig. Wanneer hulle in die skrotum afsak, is die temperatuur effens laer. In die meeste gevalle bly net een testikel in die maagholte agter en sal dit nie tot algehele onvrugbaarheid lei nie, maar daar word algemeen aanvaar dat ’n operasie nodig is indien die testikel teen drie tot ses maande nog nie afgesak het nie.

Kort ná geboorte, tydens jou baba se eerste fisieke ondersoek, sal die dokter of vroedvrou voel of albei die testikels in die skrotum is. Dit is belangrik, aangesien ’n babaseuntjie se testikels soms tydelik terug in die maagholte verdwyn. Indien hulle reeds tevore afgesak het, is dit egter nie ’n permanente toestand nie. Jy kan af en toe voel of jy die ertjiegrootte testikels kan opspoor wanneer jy jou baba bad; lig jou dokter in as die skrotum leeg bly, al is dit net aan die een kant. Moet jou egter nie te veel daaroor bekommer nie, want dit is nie skadelik vir jou baba se gesondheid nie.

Naeltjiebreuk

Alle mense het ’n “naat” vertikaal oor die middellyn van die maag. Dit is bloot hoe ons ontwikkel. Ons organe ontwikkel eers buite die liggaam, waarna die maagwand dit omvou en die rande soos ’n naat sluit. Soms is die naat nog nie sterk genoeg vasgegroei by geboorte nie, veral rondom die naeltjie, waar die naelstring ’n potensieel swak plek skep. Die bekkengedeelte is ook ’n plek waar ’n breuk maklik ontstaan. Dit word ’n liesbreuk genoem.

Aanduidings van ’n naeltjiebreuk is ’n geneigdheid van die naeltjie om uit te bult, of ’n selfs nog duideliker omskrewe swakheid in die maagwand, waar die rande sig­baar onder die vel oopgaan en van die organe selfs deurpeul. Dit word ge­woon­lik vererger deur verhoogde druk op die maag wanneer Baba nies, huil of hoes.

Behandeling kan wissel: geringe breuksimptome waar die naeltjie net effens uitstaan, word nie behandel nie, terwyl ’n ernstige breuk ’n operasie mag nodig maak om die maagwand te heg ten einde te voorkom dat organe verwring of vasgeknyp word. ’n Verband of pleister op die gedeelte sal voorkom dat die naeltjie uitbult, maar die naat sal slegs met verloop van tyd self genees. Die weefselsoute Ferrum phos. en Calc. fluor is uitstekend om liggaamsweefsel sterker en meer elasties te maak en help skynbaar om die probleem vinniger op te los. Sou ’n ope­rasie nodig wees, word dit gewoonlik op ongeveer ses maande gedoen, maar dit sal afhang van hoe ernstig die probleem is.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх