Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 46

VERSORGING VAN BABA SE SENSITIEWE DELE

Оглавление

Daar is talle vrae oor Baba se sensitiewe dele en hoe om hulle te versorg: Baba se oë, ore, neus, mond, fontanelle, geslagsdele, naels en naeltjie. Hierdie gids lei jou deur elke stadium om Baba van sy toontjie tot sy kroontjie te versorg.

Kop

Baie ouers is bekommerd oor die sagte plekkies op ’n baba se kop en is bang dat hulle hul baba sal seermaak wanneer hulle die hare was of die koppie skoonmaak. Solank jy nie hard druk op hierdie plekke nie, is alles in orde.

Vee eenvoudig Baba se koppie met ’n warm, klam waslap skoon. As Baba ’n

dik bos hare het of sy kopvel baie sweet, mag dit nodig wees om dit 1–2 maal per dag te doen, of was sy hare met elke badtyd met ’n sagte sjampoe.

Party babas het babaskilfers, wat ’n dik, taai, geel laag op die kopvel en soms ook die wenkbroue vorm. Dit is nie heeltemal duidelik wat dit veroorsaak nie, maar dit is nie ’n ernstige toestand nie en pla Baba glad nie. Ma’s hou natuurlik nie van hoe dit lyk nie, en gelukkig bied hierdie gids ’n hele paar selfhelpoplossings vir die probleem.

Baie babas word wakker met ooglede wat aan mekaar vasklou en dik mukus in die binnehoeke van hul oë. Daar is selde rede tot kommer. Maak Baba se ooglede gedurende die eerste twee tot drie maande gereeld skoon as dit aangepak is deur ’n wattebolletjie in afgekoelde kookwater te doop en van die binnehoek na die buitehoek van die oog te vee. Gebruik ’n afsonderlike wattebolletjie vir die boonste en die onderste ooglid van elke oog om infeksie te voorkom.

Van drie maande af kan jy ’n spesiale waslap vir Baba se gesig en oë gebruik en is dit nie meer nodig om ekstra aandag aan die oë te gee nie, tensy die traankliere chronies verstop is.

Ore

Baba se ore is selfreinigend en ’n mens moet glad nie die binneoorkanaal probeer bereik om oorwas te verwyder nie, aangesien jy die delikate strukture kan beskadig. Maak net die oorskulp skoon met ’n wattestokkie. Gebruik altyd wattestokkies met ’n ekstra dik punt om te voorkom dat jy die oorkanaal binne­dring. Druk Baba se ore toe met jou duim en middelvinger van die hand waarmee jy die kop vashou wanneer jy hom bad om te voorkom dat daar water in die oorkanaal beland.

As Baba ’n oorvloedige of onwelriekende afskeiding uit die oor het, vee net af wat uitloop en gaan so gou moontlik dokter toe – die oordrom het moontlik gebars en Baba sal medikasie moet kry.

Onthou om altyd ’n bottelbaba teen ’n hoek van 45º vas te hou, nooit heeltemal horisontaal nie, om te voorkom dat formulemelk uit die keel in die oor loop en oorpyn of -infeksie veroorsaak.

Neus

Dit is nie nodig om ’n spesiale roetine te hê om Baba se neus skoon te maak nie. Party baie snuffelrige babas klink soos ’n stoomtrein, sukkel om te drink of word wakker van droë vliese omdat hulle deur hul mond asemhaal. Plaas 1–2 druppels soutoplossing in elke neusgat om enige onsigbare slym los te maak. Baba sal dit waarskynlik gou uitnies. Homeopatiese neusdruppels en -salf is ook baie doeltref­fend, of jy kan Baba se neusie met ’n sneesdoekie kielie om hom te laat nies. Dit is heeltemal veilig om ’n suiertjie te gebruik om die neusslym te verwyder, maar wees versigtig om nie die delikate vliesies te beskadig nie. Beproef die selfhelpwenke elders in hierdie gids, of kry mediese hulp as Baba chronies met slym sukkel of ander siektesimptome soos koors of pyn vertoon.

Mond

Baba se mond hoef nie skoongemaak te word nie, maar loer gereeld binne-in om seker te maak dat alles in orde is. As daar ’n wit, effens opgehewe lagie op die tong, aan die binnekant van die wange en die tandvleis sigbaar is, het Baba moont­lik sproei, wat behandel moet word. Jy kan homeopatiese Calendula-tablette, die weefselsout Kali. mur. en/of probiotiese middels gebruik om dit te behandel. Vra jou dokter vir ’n mondelingse of siste­­miese swamdoder as dit nie vinnige verligting bring nie. Dit help ook om gereeld gentiaan­-violet aan die aangetaste dele aan te wend, maar dis ’n baie morsige storie. As jy bors­voed, moet jy ook behandeling kry om kruisinfeksie van jou tepels te voorkom.

Borste

Moenie bekommerd wees as jy die eerste twee weke opmerk dat Baba se bors­weefsel geswel is nie. Dit is bloot ’n reaksie op jou hormone waaraan Baba in die baarmoeder blootgestel was en sal gou vanself verdwyn. Moenie daaraan druk of vat nie en maak eenvoudig skoon saam met die res van die lyfie. Daar sal soms selfs ’n effense afskeiding wees, maar dit sal vinnig opklaar.

Naeltjie

’n Pasgebore baba se naelstringstompie en naeltjie moet met elke doekomruil­sessie skoongemaak word. Gebruik gousblommelk of chirurgiese alkohol om die klampie, stompie en al die voutjies van die naeltjie te ontsmet totdat die stompie uitdroog en die naeltjie meer bereikbaar is. Gebruik aanvanklik wattebolletjies en later wattestokkies wanneer die stompie verdroog. Daar kan tot op ses weke ’n bietjie bloed uit die naeltjie sypel, maar dit behoort nie vryelik te bloei nie. Dit sal die eerste week tot tien dae effens klam wees met ’n geel korsie, maar tensy daar etter uitloop of dit sleg ruik, het dit nie verdere spesiale behandeling nodig nie. Die naelstring sal tussen dag agt en tien afval, of kan afgesny word as dit nog net aan ’n droë draadjie hang. Wend homeopatiese poeiers of salf aan as dit baie klam is.

Geslagsdele

Seuntjies se voorhuid is stewig aan die penis geheg en moenie teruggetrek word om dit skoon te maak nie. Die voorhuid sal eers teen vier jaar of selfs later losgaan, en op daardie tydstip moet hulle leer hoe om dit terug te trek en die penis skoon te maak om infeksie te voorkom. In die ou dae is daar geglo dat dit nodig is om ’n babaseuntjie s’n terug te trek, maar dit veroorsaak skeuring en pyn by onb­e­snyde seuntjies. As daar swelsel en rooiheid rondom die kop van die penis sigbaar is en urien in ’n ballon onder die voorhuid versamel omdat dit te styf span, is me­diese ingryping moontlik nodig, maar origens moet dit liefs met rus gelaat word.

Besnydenis vind gewoonlik binne enkele dae ná geboorte plaas, maar sommige ouers besluit om dit later te laat doen – die tydsberekening is nie eintlik van be­lang nie. Die prosedure verloop vinnig en maklik en genees in die meeste ge­valle binne ’n paar dae. Plaaslike verdowing word gewoonlik in die lies toegedien om pyn te verlig. Die meeste babas spartel en huil baie omdat hulle vasgehou word en aan soveel vreemde gesigte en stemme blootgestel word. Besnydenis is selde om me­diese redes noodsaaklik, tensy die voorhuid oormatig styf span of daar voortdurend infeksie intree. Besnydenis is ’n baie persoonlike besluit, maar moenie verplig voel om dit te laat doen net omdat Pa besny is, of uit vrees vir gesondheidsprobleme nie. Godsdienstige en kulturele tradisies moet natuurlik gerespekteer word.

’n Dogtertjie se labia (die lippe rondom die vagina) moet saggies oopgevou word wanneer jy haar skoonmaak tydens ’n doekomruiling, aangesien van die stoelgang daar kan agterbly en infeksie kan veroorsaak. Daar mag moontlik aanvanklik ’n vaginale afskeiding van mukus en bloed in die doek wees. Moenie bekommerd wees nie, dit is net ’n reaksie op jou hormone in die baarmoeder en sal gou verdwyn.

Sowel seuntjies as dogtertjies se geslagsdele is gewoonlik geswel by geboorte en kan nogal baie prominent vertoon. Dit is enersyds hormonaal, maar ook gedeelte­lik toe te skryf aan die drukking van die geboorteproses. Moet jou nie hieroor kwel nie, die swelsel sal binne ’n paar weke verdwyn.

Naels

Babas se naels groei baie vinnig en moet gereeld aandag kry. As Baba ná die verwagte datum gebore is, kan haar naels nogal lank en skerp wees. Hou hulle kort om te help voorkom dat sy haarself in die gesig krap, soos dikwels met klein baba­tjies gebeur.

Krapmerke aan Baba se gesiggie weens skerp, lang naels genees gelukkig baie vinnig danksy die uitstekende bloedtoevoer na die gesig. Die beste metode om die naels kort te hou is om ’n klein amarilbordjie te gebruik. ’n Naelknipper is beter en veiliger as ’n naelskêr.

Die beste tyd om Baba se naels met ’n naelskêr of naelknipper te knip, is terwyl sy slaap. Doen net ’n paar vingers op ’n keer sodat jy haar nie steur nie. Dit voorkom dat jy dalk ’n vingertjie raak knip. Party ma’s kou die naels af, maar dit is nie raadsaam nie, aangesien die nael kan inskeur.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх