Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 56

FOPSPENE

Оглавление

Suig is ’n belangrike refleks en hoewel die behoefte gedeeltelik bevredig word wanneer Baba drink, moet ons onthou dat dit ook ’n emosionele faset het. Jy moet Baba genoeg in jou arms vashou en sus, maar party babas het eenvoudig ’n hoër behoeftevlak as ander, en ’n fopspeen kan help om onnodige of gereelde trane waarvoor daar oënskynlik geen ander rede is nie, te voorkom.

Borsbabas verkies dikwels Ma se bors bo die fopspeen, hoewel daar ’n goeie kans is dat Baba tevrede sal wees as jy die regte grootte gebruik (dit is ’n algemene fout om ’n fopspeen met ’n te groot tiet te gebruik), en verkieslik een van lateks, eerder as silikoon. Die vreemde gevoel en vorm van die “tiet” kan borsbabas verwar en veroorsaak dat hulle nie meer doeltreffend vassuig aan die bors nie. ’n Orto­don­tiese tiet sal sulke probleme tot die minimum beperk.

As jy graag wil borsvoed en tot elke prys wil voorkom dat Baba sproei kry, is dit beter om nie ’n fopspeen te gebruik nie.

Maak die fopspeen deeglik skoon en vermy liefs steriliseeroplossings aangesien die sproei-organisme in sommige soorte kan oorleef. Was dit deeglik met seepwater, plaas dit dan 10 minute lank in ’n houer vars gekookte water en bewaar in ’n lug­digte houer.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх