Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 54

HOEKOM HUIL MY BABA?

Оглавление

Alle ma’s weet dat ’n baba huil omdat hy een of ander nood ervaar, en dat sy gou heelwat van dié huilgeluide sal leer ken en mettertyd uit ervaring sal weet hoe om die probleem redelik maklik op te los. Die meeste ma’s oorleef hul baba se huilery heel goed, mits dit nie te dikwels gebeur en te lank aanhou nie. Maar as niks wat jy doen skynbaar help nie en die gehuil eindeloos voortduur, kan jy desperaat begin voel en heel verstaanbaar begin dink dat daar iets ernstigs verkeerd moet wees. Dit kan jou selfvertroue as ma aftakel en dra dikwels by of gee aanleiding tot nageboortelike depressie.

Die tipiese redes waarom ’n baba huil en wenke oor hoe om jou baba se liggaamstaal en verskillende huilgeluide te verstaan, word elders in hierdie boek bespreek. As Baba se gehuil jou besonder ontstel, beproef een van die volgende wenke om die kabaal – en jou senuwees – te laat bedaar:

•Ongeag watter tyd van die dag of nag dit is, tap ’n diep, warm bad en lê ’n half­uur lank daarin saam met Baba. Plaas ’n waslap oor Baba se magie en bied ’n bors- of bottelvoeding aan.

•Masseer jou baba. Beweeg jou vingerpunte liggies in sirkels tussen die wenk­broue, langs die slape en agter die ore. ’n Daaglikse liggaamsmassering sal Baba geleidelik laat kalmeer. Jy kan hom ook op ’n groot swangerskapsbal laat lê, eers op sy maag en dan op sy rug, en dit versigtig vorentoe en agtertoe rol.

•Speel strelende of melodieuse musiek en dans met Baba, dit sal hom herinner aan die musiek wat hy in die baarmoeder gehoor het toe jy swanger was.

•Laat lê Baba onder ’n boom waar sy haar kan verkyk aan die aanhoudende be­weging van die blare in die briesie, die wolke wat bo verbydryf en die patrone van die sonlig deur die blare. Wissel ook die bewertjies bo die bababedjie af.

•Laat Baba by jou in die bed slaap as sy droewig huil. Dit is dikwels die enigste manier waarop jy self ook slaap gaan kry. Onthou: al wat tel, is jou behoefte om hierdie stadium te oorleef en oplossings te vind wat vir jóú werk.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх