Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 47

KLEIN BABATJIES EN SLAAP

Оглавление

Die volgende perspektiewe en wenke kan jou dalk help om die hele slaapkwessie te verstaan en te oorleef. Raadpleeg ook die uitgebreide hoofstuk oor hierdie onder­werp.

Perspektiewe op slaap

•Die meeste babas slaap nie genoeg na hul ouers se sin nie – waarskynlik omdat die ouers onrealistiese verwagtinge koester.

•Babas se fisiologiese slaappatrone verskil van ouer kinders en volwassenes s’n.

•Swak slaappatrone is dikwels oorerflik.

•’n Traumatiese swangerskap en geboorte dra dikwels by tot ’n rustelose slaappatroon.

•Angstige ouers se babas is geneig om onrustig te slaap.

•Oudste kinders slaap gewoonlik onrustiger.

•Babas wie se ouers albei heeldag buite die huis werk, word dikwels meer ge­reeld wakker snags.

•Baie faktore in die lewe van ’n baba of klein kindjie, soos koliek, tande kry, siekte, immunisering en angstigheid, verhoog die kans dat hulle snags sal wakker word.

•Party babas ruil dag en nag om in die eerste paar weke.

•Swak slaappatrone kan ’n gewoonte word as dit nie reg hanteer word nie.

•Ouers wat verkies om nie self alleen te slaap nie, het moontlik onrealistiese verwagtinge van hul babas.

•Party babas het ’n aktiewe droomlewe wat hulle laat wakker skrik.

•Babas se slaappatrone verswak soms ná inentings.

Slaapwenke

•Behandel jou eie angstigheid met ontspanningstegnieke, homeopatiese Rescue Emotion en ’n meer geroetineerde lewenstyl.

•Moenie jou baba kwalik neem vir sy nagtelike eskapades nie, hy sal dit aanvoel en net meer dikwels wakker word weens angstigheid.

•Moet nooit op jou horlosie kyk hoe laat en hoeveel keer jy vir Baba moet op­staan nie.

•Lê Baba in haar eie kamer of bedjie neer wanneer sy in die dag slaap en met slaaptyd saans, maar sit haar in of langs jou bed wanneer sy die eerste keer die nag wakker word, sodat jy nie self helder wakker hoef te word wanneer jy in die loop van die nag na haar behoeftes moet omsien nie.

•Van omtrent ses weke af is dit nie nodig om snags doeke om te ruil nie, tensy Baba luieruitslag of ’n vuil doek het.

•Moenie Baba voed of optel sodra sy die geringste geluidjie maak nie.

•Moenie Baba wakker maak vir ’n voeding net voordat jy gaan slaap omdat jy dink dit sal haar langer laat slaap nie – ’n baba se slaappatroon word versteur as jy die “kernnagrus” onderbreek.

•Beperk snags jou interaksie met Baba tot die minimum, aangesien ’n geselsery, oogkontak en helder lig Baba wawyd wakker sal maak.

•Moenie wegskram van die gesinsbed nie – dit is dikwels net ’n kwessie van tyd tot Baba se slaappatroon volledig ontwikkel, en tot tyd en wyl het jy elke moont­like oorlewingswenk nodig!

•As Baba snags nie vaak is nie, maak seker dat die dagsorggewer haar nie langer as 2 uur op ’n slag laat slaap nie.

•Bou ’n afwenroetine in Baba se dag in deur van meer uitbundige na rustiger aktiwiteite oor te skakel.

•Masseer ’n swak slaper voor slaaptyd, en tussen sy wenkbroue en langs sy slape wanneer hy snags wakker word.

•Lê Baba neer voordat sy heeltemal aan die slaap raak aan die bors of met die bottel. Klop haar liggies op die ruggie om die proses te voltooi.

•As Baba oor die algemeen onrustig is, gee homeopatiese Rescue Rest of Chamomilla-tablette.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх