Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 45

ALLES WAT JY OOR DOEKE MOET WEET

Оглавление

Boudjiesorgwenke

Dit is iets wat jy minstens 4 000 keer vir elkeen van jou babas gaan doen, dus is dit die moeite werd om dit goed te doen! Goeie boudjiesorg met elke doekomruiling sal pynlike, onooglike luieruitslag voorkom. Hierdie wenke sal sorg dat Baba se boudjies so sag bly soos . . . wel . . . ’n baba se boudjies:

•Ruil dadelik ’n vuil doek om.

•Was tuis Baba se boudjies met elke doekomruiling in die wasbak of ’n skottel met genoeg water en ’n delikate seep.

•Moenie watte en olie gebruik om boudjies skoon te maak nie.

•Vee die boudjies gereeld met ’n klam waslap af.

•Gekoopte klam lappies behoort net gerieflikheidshalwe gebruik te word wanneer jy uitstappies onderneem – koop ’n babasensitiewe produk.

•Laat Baba 10 minute lank sonder ’n doek rondspeel nadat jy hom skoongemaak het om die boudjies deeglik te laat droog word.

•As Baba ’n sensitiewe vel of luieruitslag het, stel die boudjies elke dag 5–10 mi­nute lank aan direkte sonlig bloot (nie op die hitte van die middag nie) om genesing te bevorder.

•As die uitslag erg is, klam ’n rooibosteesakkie met 2 teelepels kookwater aan, laat afkoel en plaas op die aangetaste gedeelte tot die volgende doekomruiling, aangesien rooibos genesende eienskappe het.

•’n Hardnekkige uitslag dui dikwels op ’n sproei-infeksie, wat met ’n swamwerende room of homeopatiese Calendula-tablette behandel moet word.

•Gebruik weggooidoeke van goeie gehalte, aangesien dit probleme met luieruitslag en irritasies verminder.

Hoeveel doeke sal Baba in die eerste paar weke nodig hê?

Hou in gedagte dat babas se liggaamsbou verskil, moet dus nie te veel weggooidoeke van dieselfde grootte koop tot jy sien hoe jou baba groei nie.

•Gedurende die eerste ses weke sal Baba omtrent met elke doelomruiling ’n vuil doek hê, veral as jy borsvoed, en jy sal dus ses tot tien doeke per dag gebruik.

•Van ses tot twaalf weke behoort dit op ongeveer ses doeke per dag te stabiliseer (borsbabas sal teen dié tyd baie minder vuil doeke hê, soms slegs een doek per week, omdat borsmelk so volkome verteerbaar is).

•Ná drie maande en tot ses maande sal vyf tot ses doeke per dag voldoende wees, tensy daar ’n maagvirus woed.

•Van ses maande af is vyf doeke per dag gewoonlik genoeg.

•Ná ’n jaar gebruik ’n mens tot so min as vier per dag, tot Baba heeltemal van die doek af gaan.

VOUTEGNIEK VIR HANDDOEKSTOFDOEKE


Borsbabas se stoelgange

In die eerste maande, voordat enige aanvullende melkvoedings of vaste kos gegee word, vertoon borsbabas se stoelgange ’n tipiese patroon. Die eerste paar dae ná geboorte is dit mekoniumstoelgange – dit is ’n taai, donkergroen/swart stof wat die dermkanaal vul terwyl Baba in die baarmoeder is. Byna elke doek sal dit bevat, soms meer, soms minder, aangesien die vroeë moedersmelk, bekend as kolostrum, ’n lakserende uitwerking het om die gestel te help om van hierdie taai stoelgang ontslae te raak. In die loop van die eerste drie dae raak die kleur geleide­lik al hoe ligter, tot dit ’n rukkie later die gewone mosterdkleur van ’n normale borsmelkstoelgang begin aanneem. Mekonium word die maklikste afgevee met wattebolletjies wat in babaolie gedoop is.

Sodra borsvoeding gevestig is, van ongeveer drie dae ná geboorte af, is ’n ti­piese stoelgang mosterdkleurig, met die bestandheid van ’n sagte pasta, bykans reukloos en glad nie onwelriekend nie. ’n Normale stoelgang bevat klein, witterige “pitjies”. Omtrent elke doek sal vuil wees: soms is dit net ’n smeerseltjie, ander kere weer ’n hele doek vol. Dit is nie diarree nie en glad nie rede tot kommer nie. Die spys­verteringstelsel is bloot besig om te ontwikkel en sal binnekort stabiliseer. Ge­reelde stoelgange duur ongeveer ses tot agt weke lank voort. Daarna sal dit baie minder gereeld raak indien Baba steeds uitsluitlik geborsvoed word, en selfs tot so selde as een keer elke sewe tot tien dae voorkom. As die stoelgang sag bly, is dit nie hardlywigheid nie. ’n Stoelgang van ’n hardlywige baba is altyd hard, droog en onreëlmatig.

Ouers is dikwels oortuig dat hul babas in dié stadium aan erge hardlywigheid ly, aangesien dit so onwaarskynlik klink dat ’n baba wat so selde ’n stoelgang het gesond kan wees. Onthou egter dat borsmelk bitter min afvalmateriaal bevat en dat daar weinig is wat deur die kolon moet beweeg.

Babas ervaar dikwels oënskynlik ongemak wanneer hulle nie gereeld ’n stoelgang passeer nie, maar hou in gedagte dat hulle baie bewus is van hul spysver­teringstelsel en soms vreeslike dramatiese gesigte trek vanweë die inwendige ge­rammel! Dit beteken nie dat hulle pyn het nie – jy sal gou genoeg die verskil sien; geniet dus hierdie bonus van borsvoeding!

Daar is egter afwykings van hierdie normale patroon waarvan ouers kennis moet neem:

•Dit is normaal as ’n pasgebore baba se stoelgang soms ’n klein bietjie bloed bevat. Dit is gewoonlik net ’n reaksie op die ma se hormone en sal gou opklaar. Tensy daar aansienlike of volgehoue bloeding is, is dit nie nodig om Baba dokter toe te neem nie.

•Baba se stoelgang kan ook Ma se dieet en medikasie weerspieël. Ysteraan­vul­lings en groen groente kan groen stoelgange veroorsaak.

•Babas met ’n geneigdheid tot allergieë reageer dikwels op suiwel- en graanprodukte en ander voedsel wat algemeen allergieë veroorsaak deur slym in hul stoelgange uit te skei. Dit kan wissel van ’n bietjie tot nogal baie skuimerige slym. In sulke gevalle behoort Ma hierdie produkte te vermy.

•As Baba medisyne gebruik het, kan die stoelgang ook verander; dit raak ge­woon­lik losser.

•As die stoelgang van ’n baba wat uitsluitlik borsmelk drink onwelriekend raak en hy baie winderig of geneig tot krampe is, moet jy jou dieet noukeurig ontleed en aanpassings maak. Win doktersadvies in as die probleem voortduur.

•As jou baba geelsug ontwikkel, sal jy opmerk dat die urienvlekke in die doek donkerder van kleur is as waaraan jy gewoond is. Dit is maar net die pigment bilirubien wat deur die niere afgeskei word, en glad nie rede tot kommer nie.

•Indien Ma ’n ysteraanvulling gebruik, kan Baba se stoelgange ’n groenbruin kleur hê en geneig wees om heelwat fermer of selfs ’n bietjie hardlywig te wees.

Bottelbabas se stoelgange

Bottelbabas se stoelgange is gewoonlik bruin en deegagtig en word meestal 1–2 maal per dag gepasseer. ’n Klein babatjie se stoelgange sal egter selde ’n vaste patroon ver­toon, afgesien van die stoelgange wat met voedings gepaard gaan. Jy mag moont­lik mettertyd ’n patroon begin raaksien, maar ’n gereelde uitskeidingsroetine kan nie afgedwing word nie. Groen skakerings kan die gevolg wees van die yster wat by die melkformulepoeier gevoeg word en is nie rede tot kommer nie, tensy dit met hardlywigheid gepaardgaan.

Die volgende afwykings moet wel aandag geniet:

•Hardlywigheid is nogal algemeen as die melkformule nie met Baba akkordeer nie. Hierdie stoelgange lyk soos keuteltjies en is pynlik om uit te skei. ’n Klein, diarreeagtige stoelgang sluip soms verby die hardlywige stoelgang, maar moenie dat dit jou flous nie.

•’n Aansienlike hoeveelheid slym in die stoelgang kan ’n aanduiding wees dat jou kind sensitief is vir sy melkformule. Dit kan egter ook bloot ’n tydelike simp­toom van ’n steeds ontwikkelende dermkanaal wees. Raadpleeg jou dokter as dit voort­duur en klaarblyklike ongemak vir jou baba veroorsaak.

•Party babas se stoelgange word met ’n groot lawaai uitgeskei, ander weer byna ongemerk. Dit is soms nodig om die melkformule aan te pas, maar net as jy sien dat jou baba ongemaklik is. Homeopatiese middels soos Rescue Digest en die weefselsout Mag. phos. kan merkbare verligting bring. Jy kan ook Baba se onderbuik en rug masseer.

•Groen, waterige stoelgange is beslis ’n rede tot kommer – laat jou baba medies ondersoek as dit ná een of twee episodes voortduur. Dit geld veral indien dit met koors gepaardgaan en Baba sy eetlus verloor.

Die beste manier om Baba ná ’n vuil doek skoon te maak, is om eenvoudig die meeste van die doekinhoud af te vee en dan Baba se boudjies in ’n skottel warm water te doop en met babaseep te was.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх