Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 46
Gestorwene
ОглавлениеWanhopig het hy óm en óm die donker streek
wat oor die aardse heuwels en die stede vou,
gesoek na openinge waar die son deur breek
om die verlore mooie plekke te aanskou.
Toe Tonjenani by die kiepersol haar kruik
een middag borrelend deur die basbruin waters sleep
en eenkant plaas, het hy haar oë kon gebruik
om weer te sien: die papkuil in die donker streep
groen biesies; hoe die son oranje poeier stuif
oor doringkruine, en ’n ribbok uit die gras
opstaan, lui rek en aan die middagluggie snuif,
maar toe begin sy met ’n skurwe klip haar was.
En deur ’n grysaard het hy weer die stad gesien
met nat teerstrate waar ’n duisend skoene haas
in alle rigtings na die slapende masjien
nog voor die beuel om sewe-uur sy wit veer blaas;
hoe swerms duiwe om die torings en die mark
rondvlieg, ’n haag asaleas wat gloei, ’n strook
laat mis op die rivier, ver bloekoms in die park
en hoe skoorstene in die môreson weer rook.
En so was hy die tiermot van die duisternis:
die aarde het soos ’n geheime vlam hom uit
oerwoude van die nag gelok, getrek met lis
tot teen die harde mure en bedekte ruit.