Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 47
Nagskip langs Afrika
ОглавлениеMoes ek as rustige skipper vaar
met opgelegde doel,
het ek verby die ewenaar
dit as ’n onreg aangevoel
om só ’n andereen te bind;
U kompas en U kaart verstoot,
die swartvlag van my eie wil
laat opskiet in die wind
met die gevreesde tekens van die dood.
Ons is geswore vriende, nie geboei
aan kettings, maar die skipper is ons maat,
ons buig die rûe na gesang en roei
die skip na nuwe liefdes, nuwe haat;
ons het die ander skepe Gods beroof
van eie goud en reg; geen vrou kon lank
ons hongerende hart verdoof
met tenger arms om ons lyf gerank.
Ons is geswore vriende, nie geboei
aan kettings, maar die skipper is ons maat.
In hierdie skriklike na-doodnag
weet ek my trots was jeug, my wil was waan,
U het my uitgeborste seil, my vlag
gedruk tot waterborrels op ’n oseaan;
en onder U wind en weerlig gly
net stukke rots of ’n kaap verby.
O God! verlos my van die teruggevaarde
skip, van my bemanning en hul hunkering na die aarde.
Ons is geswore vriende, nie geboei
aan kettings, maar die skipper is ons maat;
ons ruk in elke wind wat spring en groei
die volle seile oop met groter haat . . .
Skenk ons bevrediging van luste!
Ons laveer ons moeg en toornig
maar immer, immer wyk die kuste.