Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 62

Оглавление

Dagboek

DRANG

Ek weet as maanlig oor moerasse skyn

dan wil die aandblom bo die turf verskyn

in skoner lug; ’n inherente wil

tot styg bring al die bitterheid en pyn.

RYKDOM

Wat baat die volle skure, troppe vee,

die malse somergras, my krag bestee

aan die gekapte klip as ek ook nie

my ganse self aan iemand anders gee?

REIS

Bedags reis ons tesaam in vrolikheid

op groot, bruin hingste na die ewigheid,

maar snags moet elkeen droef-alleen kampeer

onder die wit tent van sy eensaamheid.

BESKAWING

Snags gevange tussen valse mure

kom ’n oerverlange na die vure

waar die heidene hul trommels slaan

en dans deur middernagtelike ure.

TYD

Die nagte het die somerlig wat skyn

in druiwekorrels, met swart voete fyn

getrap, maar nou uit donker kelders kom

die saamgedronge lig in kelkies wyn.

KUNSTENAARS

Ons is die taaie en die stil-bedaarde

adel van die akker wat die aarde

skoner skoffel; kluite, dade fyner slaan

en enkel dinge eis van hoë waarde.

FONTEINE

Om die fonteine saans wil ons die taal

van sterre en ’n groter doel bepaal;

ons wil ’n helder visioen eers hê

voordat ons môreoggend weer opsaal.

Versamelde poësie

Подняться наверх