Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 58
In die landskap
ОглавлениеEk het vanmiddag in ’n halwe droom
gevoel in oop velde warm gras,
asof die stam van die maroelaboom
tog êrens in my lyf gewortel was,
asof sy takke en sy blare uit
vervloeide grense van my liggaam kom:
ek was die velde, kranse, elke kruid,
die wolke en die boom wat drup met gom.
Hoe heerlik is dit nie om God te wees
met my gedagtes wat die wolke is;
die berge, bome en die gras my vlees
en elke neergetrekte bok my lis;
hoe heerlik as my talle stemmings styg
tot winde wat die takke snags uiteen
verskeur maar in die gryse oggend swyg
onder die drup van blare in die reën.
Hy leef alleen wat saam met God kan droom,
die wolk-wit visioene wat Hy het,
aanvoel bo wind en windvernielde boom
en onverskillighede van die wet
waar Hy verdeeld saam met die visse gaan
en met die blou visvanger langs die stroom,
want in verdeling en die pyn bestaan
Sy worsteling na ’n volmaakter droom.