Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 49
DINGISWAYO
ОглавлениеBy Dingiswayo, hoof van die Mtetwa
en kleiner stamme, is sy vlug voltooi;
en in die vrede van die kraal het hy
met woordspelinge en ratse dans
van witgekwaste bene op die blad,
veel guns gewen; wanneer sonbesies
uit die doringbome om die strooise sens
en meidjies in die skadu’s matjies vleg,
of met kambas op die kop afsak
na die fontein, is in ’n nuwe lied
al meer sy dade en sy durf besing:
“Almal het die besetene gevrees
wat tussen klowe woon, sy dagga rook
en beeste steel; almal was bang, net Shaka
het alleen bly staan, hom in sy assegaai
laat loop . . .” “Hy tel die mane ongeduldig
voor die oeste ingesamel word;
dan sal ieder in ons impi’s vinnig
spiese uit sy bondel op die vyand werp,
maar hy tussen die digste horde jaag
en met ’n enkel wapen veg: die kort steel
met die lang en breë lem wat langs
sy skildvel flits, en man na man laat val . . .”
Op die Fees van die Oorwonnenes
toe bakke vleis gestaan het in die kring
en koel bierpotte in die hande rus,
het Senzangakona, klein onderhoof,
trots op die knapste danser van die kraal
en op die leier van die leër geroem;
maar toe dié seun sy assegaai bekyk,
die blad, die sening wat dit bind, die steel
se draad, dit bêre, neem en weer betas,
moes hy met oë op die grond beken:
“Dit hoort reeds aan jou broer, Mfokazaan.”
Ontsteld het Shaka verby die struike
waar tarentale in die koel sand
lê en skarrel tot los bolle veer,
en met sy koms opspring en vinnig vlug,
die rantjie ysterklip beklim; van hier
teen hellinge die groepe stroois gevolg
wat vér miershopies word en strepies rook.
So, toe sy vader sterf, het by sy broer,
die nuwe hoof, ’n uitgewekene
gekom, maar spoorloos weer verdwyn eerdat
Mfokazaan gevind is in die water,
skuins deur sy bors ’n assegaai gesteek.
Morester nog aan die lug, die vlaktes
nat en stil tot kiewietjies opskrik
en uitskree in die voorglans van die dag,
het Shaka met ’n eie impi
as hoof na die klein Zoeloe-stam beweeg.