Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 48
Shaka LANGENI
ОглавлениеLangsaam het die lede van die kraal
op Langeni haar verstoot soos Witfoloos
’n stukkie bas vanuit sy binnewaters
kantwaarts spoel; en eensaam en verneder
in ’n donker stroois moes Nandi lê,
want buite huwelik en wet het sy
en Senzangakona van die Zoeloe-stam
mekaar geneem. Die verlore pit
wat eenkant stoel, is sy, maar weeldrig
met wilde hartstog en sku onder blare
die klein kalbassie aan haar vasgerank.
Die daad van ouers was ’n klip wat in
stil waters val en hom voortdurend uit
die stam met kring na kring van nyd verstoot:
wanneer die vure by die beeskraal brand
en seuns agter hul vaders soms ’n reep
gebraaide vleis ontvang en luister
na verhale van jagtogte en geveg,
het elke kind waar Shaka stilletjies
hom voeg, met luide stem gevra of dit
sy vader is; en almal het geswyg
tot hy van hulle sluip vol skaamte
na die geknoopte gras waar hy die vlakvoël
op haar nes bekruip en vang; so het hy
die bessies en die bolle van die veld
leer ken, die uintjies en die wildepruim,
die sakaboela wat swaar flap oor die vlei,
die gespikkelde patrys wat voor
sy kierie knak, die sterre in hul stand
en gang van die getye; so het hulle
hom gehard as hy die duikertjie moes dra,
boodskappe loop en beeste soek. Wanneer
die wagters in die veld ’n bol uitgrawe
en gooi, het hy met skerpgemaakte kierie
eerste die lobbe van die ui deurklief;
en in kleingevegte baiemaal gewen
met oë stip op elke roering
in ’n spel van mik en skielik elders slaan.
As die potte vol pampoenpap koud is
en die geel velletjies word afgetrek
en omheen vir honde op die grond
gesmyt, word smalend ook na hom geroep.
Saans moes hy die mans se voete voor
die kraal afspoel en, lê die ander, lank
die stif tamboekiegras wat stadig gloei
vir hulle hou; die gloed was dan sy wraak
wat oor die lywe brand, die stif sy kierie
waarmee hy nog sou veg, die koppe slaan,
die bene breek, sy assegaai wat in
die sagte vlees ingly, oorwinning
oor elke man, oor elke opperhoof,
sy assegaai wat blink oor elke stam.