Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 52
DUKUZA
ОглавлениеDie eerste vlermuise het net gevlieg
toe moeë draers met die boodskap kom
dat Nandi sterf. Stil het Shaka van die vuur
se gloed gedraai, en al die jagters spraakloos
hom gevolg deur donker bos en vlakte;
weer was hy die kind wat na haar strooisie sluip
van hulle wat hom haat. By haar lyk
het hy gesnik en saam met hom sy volk;
maar toe hy droë oë om hom peil,
vermoed dat hulle Nandi nog verag,
en dat haar dood aantoon wie teen hom is.
Toe was sy agterdog en al sy woede
’n losgeraakte rots wat in sy vaart
klip na klip uitruk die helling af
en breed deur struike en deur bome breek;
sy leër het in die stat en oor die land
versprei en iedereen wat nie kom treur
met assegaai en kieries neergevel,
of vasgekeer binne ’n stroois van vlam;
en uit rookwolke het die koningsvoëls
met nekke rooi en benerige vlerk
langs lyke neergesak; en snags in slote
is die dier gehoor wat knor en vreet.
Hy wou die verre stamme om hom breek
wat nie kom treur; het op oorwinning aan
sy leërs die huwelik en rus beloof;
hy sou op die groot Fees van Beeste-gee
met nuwe vel en veer voor almal dans
dat hy in elke vrou se hart nog bly;
maar toe die impi’s uit die suide kom
en by Dukuza hy geen jagters vind,
is hulle na die noorde uitgestuur.
Waar die leër beweeg het man teen man
gekla dat hy geen menslikheid meer ken;
vir hom is hulle woorde en gevoel
soos druppels reën wat van ’n klip wegspat.
“Nie net die arend van die kranse soek
’n maat, maar selfs die klein, bruin kwarteltjie!
Waar moet die ooitjies wei, en waarom het
Nandi, die Wyfie-Olifant, gesterf ?”
Dingaan, nog altyd sonder leër, het dit
sy kans geag, en deur die gras soos mambas
het Mhlangaan en hy, sy halwe broers, gesluip;
die lyfwag, die simpele Mbopa,
in ’n stroois oortuig sy dae is getel
want Shaka het gedroom van sy verraad;
maar vanmiddag as hy met die koning
langs die beeskraal wag, sal uit die ruigte . . .
Waar Shaka eenkant by die skerm sit,
het die jagters skielik opgedaag:
“Nou kom julle eers met velle van
die wildekat, die otter en die aap!
Waar is die vere van die bloukraanvoël,
die spierwit vel met . . . ?” Mbopa, half bevrees
dat hulle planne sou misluk en oor
die koning skyn-begaan, het die jagters
uitgeskel en met sy kieries weggedryf.
Oor sy voorbarigheid verbaas wou
Shaka hom berispe . . .
In sy rug steek
’n assegaai, nog een, drie asgaaie
deur sy lyf: “Kinders van my vader . . .”
toe sak hy neer; die lyk het deur die nag
nog so bly lê en is die oggend in
’n koringgat met klippe toegegooi.