Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 59

Water-engel

Оглавление

Uit ’n afgestorwe wêreld duur

boomvarings en die see wat slaat

teen rotse in jou klare liggaam,

soos ’n sprietjie mos gevange in deursigtige agaat.

Jy is die water in die lyf se ope put

waarin die nesvoël en die geel seringetros

en alles aards tot trilling in jou stort

en langsaam opgelos jou helder gestalte word;

so bestendig jy bokant die eerste skepping

grootser en wisselend in eie hemele,

die palmtakke van die nag

wat uit dun skedes van die skemering

geel trosse sterre oopsprei oor die see

met ver die wit magnolia van die maan.

Versamelde poësie

Подняться наверх