Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 50
BULAWAYO
ОглавлениеIn sy nuwe kraal terwyl hy strooise dek
en oor ’n melkwit kudde droom, het sy
gedagtes na Langeni teruggeneig
soos bye uit die donker skeure altyd
na die rooi spil van ’n aalwee keer;
toe is sy impi’s saam Mtonjaneni
oor na dongas waar hy weggekruip het
skaam as kind, die wildepruim moes soek;
en voor die vasgekeerde kraal het hy
elkeen wat Nandi uitgeskel of hom
gekierie het, herinner aan dié dag,
en soos die laksman krieke en sprinkane
in wit penne van die doringbome druk,
hulle in stokke om die kraal gelaat.
Daarna is al wat week is in sy stam
met asgaai uitgeroei: die vroeë
oesters van die graan, hy wat sy hartstog
op die vrou vermors, wat in die rug gewond
of sonder wapen van die slagveld kom.
Soos ’n trop bokke wat geskrik het met
één beweging deur die duisend lywe
agter die leier spring, het hy sy leër,
die halwe maan, met kort steekassegaai
gevoer om saam met Dingiswayo
die waterryke weivelde te wen,
of Qungebeni en Butelezi
met bierparty en liefdesdans binne
sy stam te sluit; maar in die groot geveg
toe Dingiswayo op versterkings wag,
in geil gras van die nek te lank bly lê;
toe met sy leërs en die Mtetwa
wat hy eens moes lei, Zwide, die moordenaar,
verjaag, en na pasgedekte strooise
kinders en jongmeide teruggeneem.
Soms het Shaka in die doringwêreld
waar boskraaie in die wildevyeboom
tussen die twee Folosi’s sit en blêr
saam met sy leërs gaan jag: die waterbok,
renoster, koedoe en die olifant,
die kortgepote seekoei uit die kuil,
waar troppe buffels proes en sebras
snork en poepend omspring langs die bos.
Of by Bulawayo in die kraal
het sy lang gestalte in die kring getree:
’n ottervel was om sy kop, die vere
van die loerie en die bloukraanvoël;
om sy skouers, heup, gewrig en been
sterte van die koei en aap wat swaai
wanneer hy dans; en in sy hand die viervoet,
spierwit skild met ’n enkel donker kol;
van kuddes het hy in sy dans gesing,
half stil gestaan, die oë ver gestel
en met die assegaai na die verskiet
gewys, dit langs die waterlyn omheen
getrek . . . Toe het die buffelkop van impi’s,
die halwe maan van horings, voortgejaag
en alles in sy skep vernietig:
leërs en stamme, strooise en gesaaides;
in vlaktes tussen berge en riviere
mans en meide met kleintjies klouend aan
die rug, in bosse en spelonke
ingedryf en oor die verre grense heen;
so het die punte van die horings nuwe
vergesigte oopgeswaai . . . En singend het
die impi’s teruggekeer met troppe vee,
bont en bruin, briekwa en wit; die beeste
van die koning het van bult tot bult gebulk . . .
En in somernagte swart soos nastergal,
dreun tussen berg en see die donderweer,
dreun tot die verte en verlig die strooise
van die Amazoeloe, die hemelvolk.