Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 53
IV Nagedagtenis aan my vader
ОглавлениеBuite
waai ’n vaal misreën, en teen die ruite
buig rooi huise en die silwereike skeef
in druppels wat vergly; spits blare beef
uit palmboë, soos ’n stralekrans
om die gebroke beelde in die waterglans.
Ek weet die wêreld was ’n oop kol lig om
my, waar geeste uit die donker streke kom,
soos in ’n akwarium se groot kring glas
en water skuwe visse nader tas
tot teen die skelle lig, dan vlug van hier
na verre skemeringe groen koraal en wier.
So kon ek dink dat ná die siekte
jy moeg van die liggaam, in die diepte
van die aarde eers ’n rukkie rus; vermoed
toe ek die kleurbont kransie links neerlê, sy gloed
sal in jou bly – jou hart is ’n palet
en jy sou verf wat jy verower het:
blou-brokkelrig uit donker krans en kolk,
die Drakensberge bo wit banke wolk;
so sou die stapelwerk van klippe, vasgebind
deur worteltoue, toegang tot die hemel vind.
Ek het verwag jy sou ook nie vergeet
van ons gesprekke, hoe ek graag wou weet
en jy deur nagte heen vir my kon lei
langs luiperd, leeu en wyfiewolf verby
deur bosse, af teen steiltes van die Skulp
– was dit my eie siel? – altyd my hulp
en gids; ek het van ver gesien toe eens
rysmiere uit ’n donker gat vlieg ná die reëns
met ligte vlerkgeritsel, hoe die engele
so lank gevange, opstyg na die hemele . . .
Nou wag ek deur herinneringe afgesonder,
op jou verskyning of ’n klein wonder;
maar alles bly nog soos dit was, strak
afgesluit deur hoek en lyn en vlak.
Ek weet nie waar jy is, of hoe verkeerd
ons menslike denke tas, ek weet
maar net die petrea se trossies blou
rank daagliks digter tussen my en jou.