Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 10

7

Оглавление

Krygkor-hoofkantoor,

Erasmuskloof, Pretoria

29 November 1987

Swartjan Beetge is doodmoeg. Hy staar nou al minute lank stip na die oorkantste muur. Vier dae en vier nagte se aaneen werk het sy tol geëis. Beplanning, sy pynlike beheptheid met detail, wat nou teen hom tel.

Die ergste is die alleen werk. Die alleen besluite neem. Die verantwoordelikheid daarvan, die geheimhouding. Hoewel Krygkor se Tonie du Plessis hom in die beplanning bystaan, geld dit net vir die logistieke deel. Die waar en wanneer. Nie die hoekom nie. En só moet dit bly.

Die plan het mooi vorm gekry. Die wapens word vervoer na die Rostock-hawe in Noord-Duitsland. Daar wag ’n Deens-geregistreerde skip onder bevel van ’n Noorweegse kaptein wat nie vrae vra nie. Die Vesta is groot genoeg vir die vrag, die missiele in stukke in kratte versteek. Die vragbriewe is gekook, die eindgebruiker-sertifikate uitgemaak aan die Keniaanse weermag. Daarsonder kan die vrag nie wettig beweeg nie.

Die uraan was ’n ander storie.

“Dis ’n disaster,” sê Tonie du Plessis oorkant hom, vir die tweede keer. Weer antwoord Beetge nie.

Die Helderberg-ramp het elke lughawe in die wêreld soos ’n tang laat toeknyp. Deursoeking en skanderings is verskerp. Daar was geen manier waarop hulle die uraan op ’n kommersiële vlug kon laat verskeep nie.

Tonie du Plessis sit vooroor, sy kop in sy hande, sy bles blink in die lig wat by die venster inkom. Hy is effe oorgewig en vlesig om die ken en nek as gevolg van die staatsbesoldigde goeie lewe in Parys.

Oorkant hom sit kolonel Beetge agteroor in die besoekerstoel, sy vingerpunte nadenkend teenmekaar, sy normaalweg blou oë seegrys in die helder lig.

Die stilte maak Du Plessis nou ongemaklik. Hy, ’n joviale tipe, is gewoond daaraan dat gesprekke vloei. Eerder die geklets by die vele Paryse ambassade-partytjies wat hy moet bywoon as só, waar jy dinge aanhoudend aan die gang moet roei. Beetge is ’n bietjie creepy. Staar jou net aan asof hy wag dat jy moet klaar praat. Terwyl jy lankal het.

“Hoe groot is dit?”

“’n Verseëlde staalsilinder. So groot soos ’n koffiefles.”

Du Plessis het toevallig van die uraan se bestaan te wete gekom. Die wapenhandelaar, Jean Bertrand, het na afloop van die onderhandelinge oor die missiele terloops daarna verwys. Du Plessis het onmiddellik regop gesit. Hy was bewus van die kritieke tekort aan hoogverrykte uraan. En die prys was onder die omstandighede aanvaarbaar. Dis net die vervoer. ’n Yslike probleem.

“Kom ons laat dit saam met die wapens inkom.”

“Hoe? Ons kan dit tog nie oop en bloot daar laat lê nie, Jan?”

“Dis nie die probleem nie.”

“Wat is?”

“Sekerheid. Ons moet versekering hê. Twintigmiljoen dollar is ’n klomp geld om te verloor. Ek wil iemand aan boord hê, Tonie.”

“’n Babysitter? Hoekom?”

“Waar kom die wapens vandaan? En die uraan?”

“Die verkoper sal dit mos nooit verklap nie, Jan.”

“Here, gebruik jou kop, man! Dis Oos-Duitsland. Die plek val uitmekaar en hulle verkoop alles voor die voet. Wat beteken dit gebeur met die KGB se toestemming. Die Russe weet ongetwyfeld daarvan. Nou vra ek jou – hoekom sou hulle dit toelaat?”

Du Plessis kyk hom lank aan. Haal sy skouers op.

“Ek weet nie.”

“Ek ook nie. Nog nie. Behalwe dat hulle dit wíl laat gebeur. En ek dink nie dis oor die geld nie. Dis iets anders, en dis hoekom ons iemand aan boord moet hê. En ek dink ek weet waar om die regte mens te kry.”

* * *

Beetge weet sy kollegas ontwyk hom. Hy sien hulle by kantore in verdwyn wanneer hy in die gang afstap. Dit pas hom.

Vrees is jou vriend. En in sy geval welverdiend. Die gevolg van jare se reputasie bou. Eers in die Brixtonse speurafdeling, toe die Polisie se Veiligheidstak, waar sy metodiese deeglikheid die weg vir sy onvermydelike opgang gebaan het.

Vriende het hy nie gehad nie. Hy was sonder vrou. Uitnodigings na die tak se braaie was skaars, net wanneer dit sosiaal onvermydelik was. Sy aandrang om altyd ’n pak klere te dra en sy formele, stug persoonlikheid het nooit meer as ’n armlengte-beleefdheid van kollegas ontlok nie.

Die vriendeloosheid dateer uit sy skooljare in die Oos-Kaap. Op Cradock, setel van die revolusionêre opstande in die sewentigerjare.

Hy was ’n skraal, tenger seun met ’n onnatuurlike donker gelaat. Byna dié van ’n Indiër. Die gekoggel daaroor was van meet af aan die bron van sy tienerwoede in ’n skool diep gebed in die hartland van rassehaat.

Die boelies se gespot het hom met vragte ingehoue woede gelaat. Vuisslaan kon hy nie, maar hy het geweet sy krag lê elders, in sy vermoë om sy wraak geduldig, metodies te beplan, oningeperk deur die noue bande van moraliteit.

Koue berekendheid, geleentheid en vervaardigde getuienis was gou die grondslag van sy intelligensiewerk. Dit en die onverskilligheid oor gevolge vir dié wat te naby aan die snykant van sy operasies gekom het.

Na ’n paar jaar as uniformman, en later speurder in Brixton, het Beetge ’n hoogs doeltreffende netwerk van onderwêreldse informante en medewerkers opgebou. Dis hier waar hy sy ware roeping gevind het: die bestuur van koverte medewerkers, deur enige manier van oorreding moontlik.

Maande lank grawe deur saakleggers om mense in die onderwêreld te identifiseer, hul swakhede uit te vis. Geld, kwesbaarheid, ontbloting, vrees.

Daarna die nadering, die oortuiging, die beloning om intelligensie te bekom wat hy selektief aan sy hoofde deurgegee het, of teruggehou het om later as hefboom te gebruik.

Een van sy medewerkers het mettertyd sy hoofluitenant geword: Lucky Costa, weggooikind van ’n bruin ma en Griekse kafeebaas-pa, later ’n bendeleier in die suide van Johannesburg.

Costa was ’n juweel. Straatslim, met ’n instinktiewe aanvoeling vir intelligensiewerk en die toepassing van druk op informante. Dit het hom die ideale brug tussen die formele intelligensiewêreld en die wrede werklikheid van die onderwêreld gemaak. Boonop ’n yskoue hitman, miskien selfs ’n psigopatiese grensgeval, en die enigste waarlik gevoellose mens wat Beetge al ontmoet het.

Danksy sy uitspattige klere, peroxide-blonde hare en nougesette, intense oë was Costa die laaste mens wat jy van koverte bedrywighede sou verdink. Hy was veels te herkenbaar.

Beetge het hom saamgeneem toe hy van die Polisie se gevreesde Veiligheidstak na Intelligensie oorgeplaas is. Die man se blinde lojaliteit het ’n groot rol gespeel in Beetge se uiteindelike bevordering tot operasionele hoof van Teenintelligensie, in die jare sewentig die teenvoeter vir politieke onstuimigheid.

Beetge was die ideale persoon daarvoor: obsessief oor die kragdadige optrede wat teen die verbanne African National Congress en ander organisasies vereis is.

Sy integriteit is agteraf beskinder. Sy netwerk van skadukant-informante, sy suksesse en alwetendheid is beny, soms met angstigheid. Vrees het hom toenemend geïsoleer. Behalwe vir Costa en die span mense, wie se lojaliteit aan hom onwrikbaar was.

Kennis was mag, die kern daarvan ’n stapel leggers in sy groen kluis: Sy persoonlike lys van agente, elkeen bloot deur ’n kodenaam en kontaknommer geïdentifiseer.

Daardie stapel lê nou voor hom op sy lessenaar. Nog net een los draad. Die vrag se babysitter.

Voor hom is drie kandidate, almal opgeleide Spesmag-operateurs met seewaartse opleiding. Al drie operateurs by 4 Verkenningsregiment, Langebaan. Beproefde operateurs met ’n bewese vermoë van onafhanklike optrede. Alles mooi vervat in ’n verslag van sy medewerker in plek, Watson. Met ’n aanbeveling vir een van hulle. Die jongste.

Beste in sy klas, onderskeiding in demolisie, en suksesvolle klandestiene ontplooiing in Mosambiek en Angola. En volgens Watson met ’n swak vir vroue.

Hy tel die gehoorbuis op en skakel ’n interne nommer. “Lucky? Reël vir jou ’n vlug Kaap toe. Kry vir jou verblyf op Langebaan. Ek het ’n job vir jou en Watson.”

“Watson? Ei, boss, daai’s ’n siek fuck!” Lucky en Watson het al een keer saamgewerk.

“Lucky! Asseblief, man, jou taal!”

Die ander man sê niks. Selfs die onderwêreld het standaarde.

Beetge ignoreer die stilte. “Trek ’n kamera by die stoor, reël jou vlug en kom sien my. Ek sal later verduidelik.”

“Boss.”

Toe skakel hy 4 VR op Langebaan.

Skag

Подняться наверх