Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 7

4

Оглавление

Fisher Island-gholfbaan,

Miami, Florida

21 November 1987

Jean Bertrand is moeg na sy transatlantiese vlug. Hy wieg van die een voet na die ander om die pyn in sy lae rug te verlig, taamlik verontrus omdat hy met ’n kontinentale snyerspak op ’n gholfbaan staan. Hy weet hy is opsigtelik. In sy besigheid is anonimiteit koning.

Daar was nie tyd om iets aan te trek wat meer geskik is nie. Sekere dinge, soos om wapentransaksies aan te gaan en sensitiewe inligting oor te dra, kan jy net in lewende lywe doen. Daarom moet hy maar reis. Buitendien is dit veiliger hier buite. Mure het ore.

Die pyn in sy lae rug is die gevolg van ’n onderonsie in Marokko. ’n Transaksie wat ondanks sy noukeurige beplanning skeefgeloop het. Dit is soms onvermydelik, weet hy, en wonder wanneer die volgende aanslag sal kom. Waarskynlik van ’n stilgemaakte .22 in ’n stegie naby sy Paryse appartement.

Hy wag geduldig dat sy vriend van die tweede bof moet afslaan. Net nege putjies, het David Duncan beloof, dan’s ons terug.

Voor hom skuifel Duncan sy voete. Hy’s oorgewig, in ’n geruite blou gholfbroek en geel hemp ondanks die gholfbaan se stemmigheidsvoorskrifte.

Die goeie lewe wys om sy heupe, wat komieklik wieg voor sy bofhou. Hy swaai met mening deur, maar tel sy kop te vroeg op, haak die bal en bunker dit.

“Mo-ther-fuck-er!” Sy bos rooi hare wip met elke lettergreep. Hy kap die houtstok deur die lug, woedend. Hy swaai om na Bertrand. “Jy’t dit gesien, nè? Ek doen alles reg. Vir wat betaal ek daai gholf-pro so baie? Ek speel soos ’n paloeka!”

“David, kalmeer. Hou jou kop af. Ek sal die bal volg. Moenie jy dit doen nie. Probeer weer.”

Die volgende hou is aansienlik beter en die bal bly in die speelveld. Duncan gly sy stok grommend terug in die sak en die twee begin langsaam die tweehonderd meter na die volgende hou toe stap. Hulle is alleen op die baan, ’n lushof op die klein eiland aan die Miami-strandfront. Maar nou’s dit tyd vir besigheid.

“David, jy het nog kontak met die Firma?”

Duncan steek vas. “Natuurlik. Hoekom? Het jy iets vir hulle?”

As vertroulike informant vir die FBI en later die CIA het Duncan deur die jare goed geld gemaak deur ewewigtig oor die Ierse, Italiaanse en Russiese mafia in New York se bedrywighede te klik. Maar dis ’n werkwyse met ’n beperkte raklewe. Sy stil aftrede hierso was minder van ’n leefstylbesluit as wat dit ’n kwessie van oorlewing is. En nou vang die verveling hom. Enige afleiding is welkom, veral as daar geld ter sprake mag wees.

“Ja, ek dink so.”

Duncan leun op sy stok, die spel vergete.

“Watsit?”

“Kan jy vir my ’n ontmoeting reël, my vriend? Ek het ’n boodskap van die KGB.”

Skag

Подняться наверх