Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 23

20

Оглавление

Nasionale Intelligensie,

Concillium-gebou, Pretoria

15 Desember 1987

Sy foon lui. “Kolonel Beetge.” Hy laat die gehoorbuis tussen skouer en oor hang terwyl hy nog ’n dossier oopmaak, begin lees.

“Boss, dis Lucky. Ek’s hier by die bugging team.”

“En?”

“Nie oor die foon nie, boss.”

Beetge verstar, kyk op. Costa moes iets raakgeloop het.

“Nou?” Hy is nie in ’n bui om onderbreek te word nie. Lucky Costa weet dit, en sou hom nie gebel het as dit nie belangrik was nie.

“Nou, boss.”

“Ek kom.”

Beetge sluit die kantoor agter hom en sit af na die gebou langsaan. Na sy agent se verslag oor die Navy Seals was hy kniediep in buitelandse intelligensieverslae, op soek na vermeldings van ander operasies, enige iets wat die Seals se teenwoordigheid in die gebied kon verklaar.

Hy’t gehoop teen hoop in dat dit doodonskuldig en onverwant was, maar hy weet van beter in hierdie besigheid. Nee, maak reg vir die ergste. Die CIA het vir seker oë op hulle.

Beetge het die meeluisterspan in die gebou langsaan gehuisves – drie voormalige poskantoormense wat om die beurt die verskeie Tandberg-bandmasjiene monitor wat oral op rakke gemonteer is.

Nasionale Intelligensie het feitlik ’n vry hand om in te luister. Dis ’n kwessie van ’n patch aanvra by die Poskantoor se sentralediens: ’n ekstra loep wat op ’n lyn geïnstalleer word, en ’n direkte voer na NI se meeluistergroep gee. Sodra iemand ’n gehoorbuis optel, verander die lading op die lyn en skakel ’n bandmasjien outomaties aan.

Daarna is dit net ’n kwessie van die opgeneemde gesprekke deurluister en die gemors uitfiltreer. Die vleis word daagliks in ’n verslag aan Beetge deurgegee. Iets groters regverdig ’n oproep. Soos nou.

Voor hy kan instap, kom Lucky by die deur uit en maak dit sag agter hom toe.

“Wat’s dit?”

“Boss, daai Drummond wat ons watch by Krygkor? Jou gut feel was reg. Ons het hom laas week van sy werk af getail tot by ’n phone booth. Dit het fishy gelyk, toe trace ons die nommer wat hy gebel het. Die Amerikaanse ambassade hier. Ek scheme dis CIA.”

“Die bliksem. En julle weet nie waaroor hulle gepraat het nie?”

“Nee, boss, net waarheen hy gebel het. But here’s the thing – hy het die call gemaak die middag net na boss daar by sy workshop was. By Krygkor.”

Beetge snap oombliklik die moontlike sekuriteitsimplikasies vir sy operasie. Drummond sou definitief die inligting oor die skubatenk en die silinder oorgedra het. Dis hoekom daar oë op Fourie in Rostock was! En hoewel die CIA waarskynlik nie sou weet waarvoor dit was nie, het hulle ’n leidraad – en die nodige intelligensie-analiste – om te begin krap. Dis ’n kwessie van tyd voor hulle dit uitwerk.

Die klein bliksem!

“Moet ons hom uithaal, boss?” Tipies Lucky Costa.

Hy antwoord nie onmiddellik nie, sy brein in hoogste versnelling. Hy glimlag dun. Solank die CIA dink hul mol is veilig, het hy nog tyd.

“Nee, Lucky, nie nou al nie. Ons kan hom dalk nog gebruik. Hou julle hom nog dop?”

“Positive, boss.”

“Hou dit so.”

“Sure. Dan’s daar iets anners, boss.”

Hy gee Beetge ’n bruin koevert.

“Daai’s die transcription van ’n meeting vanoggend van die defence minister met die president. Dis rof. Boss wil dit dalk terugvat kantoor toe. Da’s net een copy. Ek het gedag dis beter so.”

Skag

Подняться наверх