Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 26
23
ОглавлениеDie Vesta, Noordsee
15 Desember 1987
Jos wil besig bly. Hy is kriewelrig, krapperig oor die rondsittery wat aan hom opgedwing is. Hy het sy eerste oggend aan boord gebruik om elke hoekie van die Vesta te leer ken. En nou wil hy by die ruim inkom om sy handwapen uit te haal. Maar dit sal moet wag tot dit nag is, en dit stook die vuur van sy ongeduld.
Hy het met die kaptein bevestig dat hy die skeepsradio af en toe kan gebruik. Die verskoning is dat hy ’n telefoondiens in Suid-Afrika sal kontak en vra vir ’n verbinding met ’n landlyn. Hy wil darem met sy familie in kontak bly.
Hy’s nie seker of die kaptein dit gesluk het nie, maar vermoed die man weet in elk geval meer as wat hy voorgee. Die kaptein lyk na iemand wat die wêreld ken, sonder bog. Bowenal diskreet, want iemand het hom klaarblyklik betaal om anderkant te kyk toe die vrag gelaai is, en op kort kennisgewing vir Jos plek te maak.
Die Vesta se superstruktuur is twee dekke hoog. Op die boonste gedeelte is ’n verbasend ruim stuurkajuit en kaartkamer, en langsaan ’n kleiner radiokamer.
Direk daaronder, op dieselfde vlak as die buitedek, is ’n gemeenskaplike ontspanningsvertrek waar die dag- en nagskofte op bystand bly, en ’n groterige eetsaal gemeubileer met kotsgroen vinielstoele uit die sewentigs. ’n Interne trap verbind die twee verdiepings. En daaronder, die woonkwartiere – een lang gang met verskeie enkelkajuite vir die bemanning en offisiere, en die bootsman se voorraadkamer.
Jos se verkenningstog het uiting gegee aan sy rooimiere. Ook sy krapperige agterdog oor die twee Amerikaanse Seals, wat hy vanuit die hawe in Rostock na kolonel Beetge deurgebel het. Nou is nog ’n Amerikaner aan boord …
Is die ops daarmee heen?
Die kolonel het die vraag stil aangehoor. Nee, gaan voort soos beplan, was sy opinie. As die Yanks iets weet, wát weet hulle? As ons dit kan vasstel, kan ons dit gebruik. Gaan voort, hou jou oë oop, moet niemand vertrou nie.
Dis teetyd.
In die ontspanningsvertrek sit drie bemanningslede in gemakstoele en kyk ’n video op ’n gehawende klein televisiestel. Hulle kyk om toe hy instap, maar die komedie eis dadelik weer hul aandag op. Dis Noors en Jos kan nie ’n woord daarvan uitmaak nie.
In die hoek staan ’n koffiemasjien met bekers langsaan. Langs dit, Ashley Ramirez, in jeans en ’n rolnektrui. Sy glimlag en Jos knik terug.
Sy gaan sit by ’n tafel naby die vensters. Buite begin dit nou regtig triestig lyk, en die loodgrys see se deining voel merkbaar hoër.
Jos skink vir hom koffie. Dis bitter, olierig en het te lank gebrou. Hy sien Ashley kyk na hom, nooi hom om by haar te kom sit. Hy stap oor.
“Wat bring jou hier?”
“Ek is ’n student. Op pad Kaapstad toe om … O, jy bedoel hoekom is ek op die skip? En vlieg ek nie? Ek het ’n longprobleem. Een het platgeval kleintyd. Dokters wil nie hê ek moet lang afstande vlieg nie. Jy?”
“My oom voer ’n klomp skubatenks in vir ons besigheid. Diamantduik in Suidwes-Afrika. Dis ’n duur vrag, so ek moes Duitsland toe om seker te maak alles is daar en goed verpak. Tussen jou en my, hy’s net te veel van ’n vrek om vir die vliegtuigkaartjie terug te betaal!”
Sy lag. “Maar dis tog seker ’n avontuur?”
“H’m. Ons sal sien. Jy’t gesê jy’s op pad Kaapstad toe?”
Sy knik. “Besig met my meestersgraad in gevorderde materiaal-modellering.”
Jos kyk haar onbegrypend aan.
“Al gehoor van eindige elementontleding? Numeriese metodes? Nee?”
Hy skud sy kop.
“Dis eintlik maar net baie komplekse wiskunde. Jy gebruik dit om byvoorbeeld materiale se gedrag onder ladings te voorspel. Soos hoe ’n kar se metaal sou buig in ’n motorongeluk. Jy het groot rekenaars daarvoor nodig.
“My universiteit in Miami se masjiene is nie so groot soos dié by die universiteit in Kaapstad nie. Dis een van die grootstes ter wêreld. Ek hoop om Fortran daar te leer sodat ek my eie programme kan skryf … Ekskuus! Ek verveel jou!”
“Nee, inteendeel. Dis interessant, al het ek geen idee waarvan jy praat nie.”
“Jammer! Ek doen dit met almal. Begin verduidelik en sien hoe mense se oë omdop van verveling.”
“Dis darem nie so erg nie. My wiskunde is maar beperk, en ek het nog nooit met ’n rekenaar gewerk nie. Ek het al een gesien, ja. ’n Commodore, of so iets …”
“Commodore 64, ja. Maar die rekenaars waarvan ek praat, is baie groter. Hoofraammasjiene. Letterlik so groot soos ’n vertrek se muur … Daar! Daar raak jou oë weer glasig! Ag sies, man, jy’s ongeskik!”
Jos lag saam, half verleë. Hy sien die terg in haar oë, die onderlangse kyk, en hy tik haar gemaak ernstig op die boarm.
“Jy bullshit, nè?”
Sy knik, grinnik terug.