Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 12

9

Оглавление

Ooswalstraat, Langebaan

2 Desember 1987

Die ding met Lida Struwig het ’n week gelede begin tydens ’n formele regimentsete. Die soort geleenthede wat Jos haat. Gratis bier, ja, maar ook langdradige toesprake en beleefde applous. Dinge wat jou aandag laat dwaal.

Lida Struwig se teenwoordigheid in ’n nou olyfgroen rok het niks gehelp nie. Sy was langsaan, aan tafel by haar man, die basisadjudant.

Kaptein Rolf Struwig het Jos ’n week tevore uit die bloute aangesê om vir offisierskeuring aan te meld.

Die moontlike bevordering moes die adjudant diep gegrief het, want hy kon Jos nie verdra nie. Die twee was lankal pal haaks, oor kleinighede soos ’n uitslaap-pas en sy oom se gedurige aanbevelings vir nóg kursusse wat Jos van die basis en werk weggehou het.

Die man was ’n drol. En hoewel dit seker in enige adjudant se posbeskrywing is, het adjudant Struwig dit hopeloos te ernstig opgeneem.

Jos kon dit ook sien aan sy houding teenoor sy vrou by die tafel langsaan. Sy onderlangse aggressie, haar krimpende wegskram. Die pyn was duidelik in haar oë in ’n talmende blik tussen haar en Jos. Twee mense wat enkele dae later in haar kantoor saamgekluister sou wees, waar sy, die basis se sielkundige, Jos se evaluasie sou waarneem.

Struwig moes iets opgemerk het, want die twee is kort daarna daar weg.

Die sessies het stram begin. Jos is van nature wantrouig, terughoudend, maar Lida (“Noem my op my naam, asseblief.”) het hom verrassend gou op sy gemak gehad, sy reaksies op ’n reeks situasies getoets, bevraagteken, met hom daaroor geredeneer.

Hy’t haar drie dae lank fyn dopgehou terwyl sy die response aanteken. Gewonder oor die seer wat hy geëien het by dié mooi vrou wat hy stelselmatig toegelaat het om dieper in sy siel te vroetel. Hy het ontspan, dit selfs geniet, terwyl sy sagkens sy terapie-vooroordele omseil het, hom laat praat het, die trant van die gesprek toenemend gemaklik en persoonlik.

Sy het ingevra oor sy verhoudings met die ander operateurs, hoe goed hulle saamwerk, enige haakplekke, probleme met ander range. Of hulle sosialiseer na werk, wie sy vriende was.

Dis waar hy vasgesteek het.

Hy het eers vaag probeer antwoord, maar onder haar sagte aanmoediging vertel van wat hy destyds as sy “willekeurige vriendeloosheid” beskou het. Dit was ’n vreemde konsep en sy wou meer weet. Jos wou nie daarop uitbrei nie, besorg oor watter uitwerking dit op sy bevorderbaarheid kon hê. Maar sy het dit gesien kom, hom aangemoedig.

Hy het dit traag gaan haal. Uit sy kinderdae, uit die tyd toe hy besef het dat hy sy maats emosioneel en intellektueel voor was, dat hy meer gemeen gehad het met kinders twee of drie jaar ouer.

“Hoekom was dit ’n probleem? Was jy verveeld met hulle?”

Hoe verduidelik jy jou vrees dat jou “beter weet” as beterweterigheid beskou sou word? Dat jou selfvertroue as arrogansie afgemaak sou word? Hy het dit toe reeds besef, en homself liefs onttrek eerder as om so iets aan ander op te dwing.

“Jy’t hulle probeer beskerm? Deur hulle weg te stoot?”

“Jinne, dit klink darem te windgat!”

Sy was reg, moes hy erken. Die gevolg was ’n groeiende afstand tussen hom en sy tydgenote. Die begin van die alleenmens. Maar dit het hom nie gepla nie. Hy’t geweet hy kon op sy eie regkom, en hy het.

Lida het hom stil aangestaar, ’n pen tussen haar lippe. Toe uitgevra oor sy verhouding met sy ouers. Of hulle hom enigsins as kind aangemoedig het om dinge op sy eie te doen, self reg te kom, onafhanklik te dink?

Hy moes mooi daaroor nadink. Hulle het, ja, subtiel. Vroeg al. Het hom selfs ’n naweek of wat alleen by die huis gelos, lank voor sy maats se ouers dit sou doen.

“Het dit jou alleen laat voel? Verwaarloos?” Hy kon sien waarheen sy daarmee op pad was.

Nee. Ironies genoeg het dit hom meer geselskap besorg. Sy onttrekking was ’n soort aantrekkingskrag.

“Hoe so?”

“Die cool kid. Almal wou saam met hom uithang. Dit was weird.”

“Meisies?”

Hy het verleë geknik.

“Daar’s niks so aanloklik soos dit wat jy nie kan kry nie.”

Die stelling het tussen hulle bly hang. Tot Lida voortborduur het oor hoe ouers hul kinders se vroeë ontwikkeling beïnvloed.

Jos het met ’n halwe oor geluister. Hy kon dié deel van sy bestaan nog nooit met iemand deel nie. Was nog altyd bang mense sou nie verstaan nie. Lida was anders. Daar was ’n rare konneksie, ’n begrip wat vinnig verby die grense van ’n professionele verhouding gedring het.

Hy het dit voel gebeur, die ding tussen hulle, maar niks gedoen om dit stop te sit nie. Tot die oomblik toe hulle gistermiddag traag by haar kantoordeur groet, ’n oomblik talm, en sy die deur weer toestoot.

Hy kon dit nie keer nie. Of wou nie – haar lank ingehoue drif wat hulle van bank tot tapyt gedryf het, en toe uitasem, oorbluf, langs mekaar op die vloer gelaat het. Toe eers het die realiteit weer skuldig sy opwagting gemaak.

Jos is stil daar weg, sy gedagtes ’n onstuimigheid van angs en opwinding, alles tintelend eksoties – en verkeerd op soveel vlakke.

Daar was iets totaal buite sy begrip en beheer van die situasie. Dit was dinamiet, ’n loopbaanbreker, ’n yslike fout. En hy moes dit nou stopsit, voor dinge kon vererger.

Daarom het hy ja gesê toe sy hom bel en vra om oor te kom. Haar man was tot die volgende dag op ’n kursus by Ysterplaat. Hy’t gehoop hy was sterk genoeg om te doen wat hy moes, want Lida Struwig, sy wat rigting moes gee, het sy morele kompas laat tol.

* * *

Teen skemer glip Jos die Struwigs se agterplaas stil binne vanuit die oop erf langsaan deur die melkhoutheining. Hy dra ’n sweetpak en drafskoene, ingeval die buurt oë het.

Die agterdeur is oop. Hy klop en stap in.

Lida Struwig leun teen die kombuiseiland, een arm oor haar maag gevou, ’n glas rooiwyn in die hand. Die oop deur laat die fleurige somersrokkie om haar bene kabbel.

Vir ’n oomblik staan hulle oorkant mekaar in die halfdonker aan, Lida se oë vraend op syne, albei nog ongemaklik oor die middag se gebeure. Hulle het woordeloos uiteengegaan, sonder om ’n vorentoe of agtertoe te definieer.

Dis hoekom sy hom gevra het om te kom, weet hy.

“Wyn?” Sy draai na die werkoppervlak, trek ’n leë glas nader.

“Nee dankie, Lida. Ek kan nie bly nie.”

Sy steek halfpad deur die terugdraai vas, en Jos kan haar gemoedsverandering sien in die skouerlyn wat buig onder die gewig van wykende hoop. Sy bly wegkyk.

“Lida, jy weet dit kan nie. Vanmiddag was ’n fout. Ons kan nie.”

Toe sy weer na hom kyk, is haar gesig strak. Sy wag.

“Vir alle redes onder die son, Lida, maar grotendeels vir jou werk en jou huwelik. Dit sal jou ruïneer as dit uitkom!”

“Jy weet absoluut niks van my huwelik nie!” Haar stem styg met ’n opgekropte venyn wat hom onkant vang.

“Dis steeds nie reg teenoor jou man nie.”

“Dis ’n bietjie laat daarvoor, Jos!”

“Lida, ek het nie dié storie begin nie.”

“Nog minder probeer keer!”

“Jy’s getroud, om hemelsnaam!”

“Ek sê weer, los my huwelik hieruit!” Haar oë blits.

“Hoe kan ek? Dis jou hele toekoms! En wat van jou werk? En myne? Ek kan uit die Mag gegooi word hiervoor!”

“Oukei, so dit gaan meer oor jou loopbaan as myne?”

Hy weet sy’s reg. Hy het toegelaat dat dinge eskaleer om sy eie, selfsugtige redes. Maar dit maak dit nie reg nie. Dit maak hom net meer aandadig. En hy weet hy is besig om met gevaarlike gevoelens te speel. Hy antwoord sag, sukkel om sy argument op koers te hou.

“Dis nie wat ek sê nie, Lida. Ja, my loopbaan is ook in die gedrang. Maar wat ons doen, is eenvoudig verkeerd. Ek wil dit nie op my hande hê nie. Vandag was ’n fout, ’n ongeluk. Ek was verkeerd, ek moes net geloop het …”

“Jy’t dit ook gevoel, Jos. Moenie stry nie.”

Hy gaan nie, probeer liewer die gesprek in ’n ander rigting stuur.

“Wat’s fout, Lida? Met julle? Ek kon sien dinge is nie lekker by die dinee nie.”

Sy antwoord nie, maar haar lyftaal beaam wat hy by die dinee opgetel het. ’n Mynveld van hartseer wat hy nie wil deurkruis nie.

“Dis nie ’n huwelik nie, Jos.” Hy bly stil, hoop sy praat. Maar sy bly net staan, kop omlaag en arms om haar bors gevou, en hy sien die hoop uit haar wegvloei.

“Ek waai môre op ’n ops.”

Dan eers kyk sy op, kyk hom gelate aan. Haar oë verraai hoe sy opnuut oor ’n onseker toekoms moet dink.

“Hoe lank?”

“Jy weet hoe dit werk.”

Sy knik. Wys met haar kop na die deur.

“Gaan. Jy moet seker gaan pak.”

“Lida …” Jos reik na haar.

“Los my eerder. Gaan.” Haar stem is sag en sy ontwyk sy oë, Jos se hand magteloos in die lug tussen hulle.

“Ek sal jou kontak. As ek kan,” is al wat hy lamlendig kan bied.

Sy staar na die vloer tussen hulle en Jos draai om en stap weg. Hy trek die deur agter hom toe.

Buite laat die koue suidooster hom sy sweetpakbaadjie tot by sy ken toerits voor hy deur die melkhout straat toe beur. Hy stap, oë op die grond voor hom, tegelyk verlig en selfveragtend oor wat hy toegelaat het om te gebeur.

In die dowwe lig van straatlampe begin hy terug basis toe draf, teen die raserige suidooster in, sien nie die motor wat oorkant die pad geparkeer is nie.

Nog minder die twee mans wat wag tot hy buite sig is voor hulle uitklim.

Skag

Подняться наверх