Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 13
10
ОглавлениеNasionale Intelligensie,
Concillium-gebou, Pretoria
1 Desember 1987
Kolonel Beetge se hand huiwer bo die skryfblok. Hy sukkel met die toespraak vir die minister. Stoei om die woorde te vind wat tot die troepe se emosies sal spreek, eerder as dié van intellektuele.
Menere, sterk en doelgerigte verset is ons enigste wapen teen die totale oorheersing wat ons in die gesig staar. Kommunisme se ware betekenis, menere, is doelbewuste inmenging en ’n drakoniese beheer oor elke faset van ons lewens, van godsdiens tot die grond waarvoor ons so hard geveg het, wat ons elkeen se verblyfreg waarborg.
Nee, dis hopeloos te akademies.
En dit begin met die wegneem van jou besitreg, van jou grond. Want die mees ontstellende aspek van die kommunistiese stelsel, menere, is die wegneem van jou eiendomsreg.
Ja, dis al beter. Maar nog nie sterk genoeg nie. Dit moet spreek tot iets wat elke liewe mens in die land verstaan en diep raak. Want hulle is besig om die stryd te verloor. Die land se uurglas loop uit, die opsies beperk tot kragdadige verset teen ’n totale aanslag.
Stel jou ’n wêreld voor waarin die staat alles besit. Van jou grond tot die ure waarmee jy jou brood verdien. Van jou reg om te bly waar jy wil, tot wie jy aanbid. Selfs jou reg tot keuse. Ja, selfs die vermoë om self te kan besluit.
Dit, menere, is kommunisme, en die bedreiging dring deur tot die diepste wese van ons nasie, van ons boere – ons liefde vir die grond, ons geestelike verbintenis met daardie grond, ons behoefte en begeerte om ons kop te kan laat rus op ’n plek wat ons verdien, wat ons ons eie kan noem. Kommunisme, menere, verwyder hierdie konsep van verdienste geheel en al. Vir ewig.
Nee, daar verval hy nou weer in die akademiese.
Dit verwoes private besit in al sy vorms – van grond tot onderneming, tot die vermoë om te arbei. En hulle noem dit nasionalisering. Alles behoort aan die staat, alles waarvoor ons deur generasies ons bloed verspil het.
Beetge sit terug, sy gedagtes skielik ver weg van die toespraak. Hy weet lankal sy regering is uitoorlê. Die kommunistiese propagandamasjien het stelselmatig die gety van wêreldopinie teen die land geswaai deur saam te span met die swart nasionaliste, as kampioene vir hul ideale van geregtigheid en demokrasie. Daardeur die land slim geïsoleer deur die beleid van apartheid as wig tussen Suid-Afrika en openlike Westerse hulp in te slaan. Dit was ’n KGB-meesterskuif, moet hy toegee.
Daarom, menere, moenie jou laat verwar deur hul propaganda nie. Ons stryd hier is nie ’n stryd tussen wit en swart nie. Dit is en bly ’n stryd tussen Christelike orde en Marxistiese wanorde, teen die opsetlike leuen wat ons vyand die Weste voer om opinie teen ons te swaai.
Dis ’n stryd wat daagliks ons kragdadigheid toets, en een wat ons danksy jul toegewydheid tot nou kon slaag. Nog nooit het die Russiese Beer so sleg pak gekry nie, menere, nog nooit het hy sulke enorme verliese op elke front van Angola tot Zimbabwe en Mosambiek gely soos nou nie. Laat ons nie nou stop nie. Staan vas. Ons vyand is op die agtervoet, danksy jou. Jou land dank jou vir daardie opoffering.
Beetge sit terug, rol sy pen rusteloos tussen sy vingers terwyl hy na niks staar. Hy voel dit nog nie. Daardie emosionele oproep wat nodig is. Miskien omdat dit net woorde is.
Nee, minister, doen jý maar die praatwerk.