Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 8
5
ОглавлениеKantoor van die Minister van Verdediging,
Uniegebou, Pretoria
21 November 1987
“Waarmee het jy geskiet?”
“My .375. Is maar die beste vir die grootwild,” sê die brigadier, teekoppie in die hand. “Lekker lang horings ook. Reken ses-en-twintig duim. Nekskoot op so tweehonderd tree.”
Kolonel Swartjan Beetge luister met ’n halwe oor na die groep offisiere se jagstories. Sy gedagtes dwaal altyd wanneer die lede van die Veiligheidsraad begin jag praat. Daar’s sekerlik dringender dinge om jou mee op te hou.
As operasionele hoof van Teenintelligensie by Nasionale Intelligensie moes hy die weeklikse sieldodende vergadering met die minister van verdediging, generaal Mike Rautenbach, bywoon. Bloot as adviseur, ’n agterbanker wat slegs nou en dan oor ’n feit geraadpleeg is, ’n toedrag van sake wat sy sin vir humor geen guns bewys het nie.
Dis die uithangplek vir lede van die militêre en intelligensiegemeenskappe, ’n geleentheid vir terugvoer oor projekte en operasies, bedreigings en taktiese response daarop. Die werkkamer van die Suid-Afrikaanse regering en sy weerstand teen die Rooi Gevaar en Totale Aanslag van die Kommunisme, soos die president hulle gereeld herinner.
Dis terselfdertyd ’n addernes van politieke rugstekery en faksies binne die kabinet. Partypolitieke en persoonlike wedywering wat Beetge ontstig omdat dit die veel dringender kwessie van blanke oorlewing totaal oorheers. Broedertwis, ja. Alles ten koste van Afrikaner-solidariteit.
Dit het hom verbitterd gelaat. Die regerende party se totale miskenning van die land se werklike strategiese en politieke prioriteite, die vae veralgemenings waarmee die kabinet ’n politieke toekoms vir die stemloses wil uitstippel, en bowenal hul gebrek aan ’n daadwerklike plan, walg hom.
Ja, hy weet van die agterlangse gesprekke met die ANC-terroriste. Swartjan Beetge weet alles. En hy skud daagliks sy kop in ongeloof oor die naïwiteit waarmee die regering wit oorlewing in die land probeer verseker. Het hulle niks uit soveel vorige pogings geleer nie? Het Afrika nie genoeg voorbeelde voorsien van hoe jy dit nié doen nie? Dat jy nie uit ’n posisie van swakheid kan onderhandel nie?
Nee. Die probleem lê by die gebrek aan doeltreffende leierskap. Die gebrek aan ’n duidelike, kragdadige pad. Maar hy, Swartjan Beetge, hy weet wat nodig is. Daarom sal hy sy bek hou en stil aangaan.
Beetge se oë dwaal, vang dié van die minister, wat hom met die oë konferensiekamer toe beduie. Hy stap vooruit en Beetge volg. Daar gekom, stoot die minister die swaar houtdeur agter hulle toe.
Beetge is in sy gebruiklike netjiese donker pak, die elmboë effe blink van lang ure by sy lessenaar. Hy is skraal en benerig, met ’n vol bos hare wat grys word om die slape. Onder dit, ’n donker gelaat en swaarraam-leesbril wat hom die alledaagse voorkoms van ’n beroepsburokraat gee. Tot sy ysblou oë jou vaspen en jy die intelligensiemens agter die anonieme voorkoms raaksien.
“Jan, ons moet gesels. Jy’t tyd?”
Beetge knik.
Rautenbach lyk moeg, afgerem deur die druk van die Bosoorlog en die nimmereindigende frustrasie van politieke druk wat in die pad staan van sy praktiese, militêre gesindheid om dinge gedoen te kry. Hy hang sy grys baadjie oor ’n stoel se rugleuning, rol sy moue netjies op soos die regulasies van sy uniformdae bepaal het. Sy arms is steeds bruingebrand en hy is fiks en lenig vir sy agt-en-vyftig jaar, sy selfdissipline nog nie op civviestraat versag nie.
Hy gaan sit op die rand van die konferensietafel, staar vir ’n oomblik voor hom.
“Jy het die sitrep gelees van die Mirage wat hierdie week afgeskiet is? Die vlieënier het dit net-net teruggemaak Rundu toe. Maar hy moes sonder brieke of parachute land. Overshoot toe die runway. Die uitskietstoel het geaktiveer en sy rug is in die ongeluk gebreek. Hy herstel nou in 1 Mil. Kaptein James Swart. Hy sal nooit weer loop nie. Tragies, ja.”
Dit was nie in die sitrep nie.
Rautenbach vou sy arms, sy voorkop in ’n frons gekeep. “Ons Mirages is net nie meer opgewasse teen die MiGs nie. Veral nie met die ekstra brandstoftenks nie. Dit maak hulle net nog stadiger. En dit help ook nie dat ons radar by Rundu blind is onder vier-en-twintigduisend voet noorde toe nie. Ons manne vlieg onbeskermd in.
“Ons kan nie ons boys so blootstel nie, Jan. Die baas het gevra ons moet plan maak. En die hemel weet, ons gaan. Ek moet weer op jou nommer druk.”
Die minister het gereeld sy frustrasie oor die Weste se verraad teenoor Suid-Afrika erken, hoe die Verenigde Nasies se wapenboikot hulle seermaak. Die swartmark is deesdae hul enigste opsie, en Beetge se uitgebreide netwerk van kontakte wêreldwyd word gereeld ingespan vir die koverte vervoer van verbode materiaal en wapentuig.
Beetge sien hoe die voormalige soldaat se opleiding oorneem. As jy in ’n hoek is, skiet jy jou pad uit. Rautenbach voel-voel agter hom op die tafel en trek ’n bruin legger nader. Uiters Geheim is in rooi boaan gestempel.
“Dit lyk of ons darem iets het. Ons het pas intel gekry dat Unita ’n paar missiellanseerders by die Kubane afgevat het. SA-9 Gaskins. Alles in werkende toestand. Hulle het net ammo nodig daarvoor. Dit gee my toe ’n idee. As ons nie die Mirages kan vervang nie, moet ons ten minste probeer om die lugruim van die grond af te beheer. Deur Unita.
“Ek het die versoek deurgesit na Krygkor, en hulle het jou wragtag ’n klomp ammo te koop opgespoor. Die stelsel word nie meer gemaak nie, so lyk my hier is nou ou voorraad beskikbaar. Maar heeltemal bruikbaar vir ons doel. Ons moet dit net hier kry.
“Hier’s al die besonderhede. Ons gaan dit met ’n ompad moet inbring, soos gewoonlik. Jou spesialiteit. Jou kontak is Tonie du Plessis by Krygkor. Jy ken hom?”
Beetge knik. Hy het al met Du Plessis en sy kollegas by die Paryse ambassade saamgewerk, voerkanaal vir die meeste van die koverte wapenaankope.
“Reël vir ons daai vrag, Jan. Laat dit in Walvisbaai aflewer. Maak seker dis veilig. As jy sien by wie ons dit koop, sal jy verstaan. Ek vertrou nie die vrede nie.” Hy stoot die legger na hom toe. Beetge tel dit op en wil begin blaai, maar die minister is nog nie klaar nie.
“Jan, dis nie al nie.”
Beetge frons, wag. Hy het iets vermoed, maar wou niks sê nie.
“Daar’s nog iets. Groters.” Rautenbach dink kennelik diep. “Die staatspresident wil die militêre kernprogram staak, Jan.”
Beetge se oë rek. Die regering se grootste troefkaart? Is die mense stapelgek?
Sedert die sewentigerjare het die land stil-stil by Valindaba sy kernbom-bouprogram bedryf. Andersins onverkrygbare tegnologie is stadig maar seker self ontwikkel, en ’n nuwe tegniek vir uraanverryking met tipiese Suid-Afrikaanse vindingrykheid vervolmaak. Die vordering was pynlik stadig en die uraan kon net in frustrerend klein hoeveelhede tot wapengraad verryk word.
Die program het nogtans voortgegaan. Die doel was ’n werkende kernbom, ’n afskrikmiddel eerder as ’n taktiese wapen. Beetge het dit ten volle gesteun en die kernprogram nog altyd as een van die doeltreffendste oorlewingstrategieë beskou vir ’n land wat jare reeds teen onmenslike druk moet uithou.
Die program het hulle die vermoë gegee om die vyand op ’n afstand te hou bloot deur fluisteringe dat hulle ’n kernvermoë het. En nou dít – die program staak?
Hy vee oor sy voorkop. “Dis kensgeit. Wie’s daaragter?” Hy kan sy woede skaars verberg.
“Die SP dryf dit self. Hy en jou baas. Kyk hier.” Rautenbach en die hoof van NI, Roelf Vermaak, is nie juis vriende nie. Hy hou ’n vel papier na Beetge uit. “CIA-verslag. Roelf se mense het dit onderskep.”
Beetge se oë flits oor die kort verslag, ’n ontleding van die Suid-Afrikaanse kernprogram, kapasiteit en die strategiese moontlikhede. Hy kyk na die laaste, opsommende paragraaf:
… weet die sekurokrate in die Suid-Afrikaanse leierskap dat ’n kerntoets onmiddellik herken sou word. ’n Lewendige kerntoets kon dus vertolk word as ’n doelbewuste poging om die wêreldmening teen te gaan, ondanks die risiko van verhoogde sanksies en sensuur op die land. Dit sou enige sensitiewe onderhandelinge waarby die land in hierdie stadium betrokke kon wees, ernstig benadeel. Ons vind hierdie gesindheid heeltemal konsekwent met die weerstandige Afrikaner-wêreldbeskouing …
Dis niks nuuts nie. Die CIA se besorgdheid oor militêre invloed op die regering.
“So?” Beetge gee die vel papier terug.
“Wel, die president het klaarblyklik reeds besluit. Die uraanaanlegte gaan omskep word vir vredesdoeleindes. Om laagverrykte uraan aan Koeberg te verskaf, niks meer uraan-235 vir die bomprogram nie. Hulle wil dit stelselmatig toemaak.”
“Twee dekades se harde werk!”
“Presies. Net om druk oor die kort termyn te verlig. Soos jy sê, kensgeit.”
Beetge is bewus van die chaos in die kabinet. Selfs die Broederbond het nou al met die ANC in ballingskap gaan gesels. Die mense is versteurd. Die pogings tot politieke transformasie is so gefragmenteer dat dit noodwendig onbedoelde gevolge sal hê, soos wat hy al telkemale aan sy baas uitgewys het.
Roelf Vermaak, ’n voormalige direkteur-generaal uit die staatsdiens, het gereeld met Rautenbach kop gestamp. Die minister is ’n paar jaar gelede uit die frontlinie in Suidwes-Afrika gepluk om in die kabinet diens te doen. Die soort mens wat glo dade dra meer gewig as diplomasie.
Waaroor die twee veral verskil het, was hoe om die politieke verwarring te beëindig. Vermaak, ’n fyn strateeg, het geglo enige verandering moet op ’n ordelike manier geskied. Rautenbach was weer oortuig ’n mens kan net met kragdadigheid onderhandel, en het alles in sy vermoë gedoen om die weermag en polisie te versterk. Orde eerstens. Binnelands en buitelands. Dan praat ons.
Beetge was geneig om die minister se kant te kies, want dit is bloot die vermoede van ’n moontlike Suid-Afrikaanse kernretaliasie wat tot dusver die VSA en ander Westerse moondhede suksesvol verhinder het om die SAW uit Angola te verwilder. Omdat hulle bang was dat die sterk militêre invloedsgroep binne die Veiligheidsraad sy ongesproke dreigement sou uitvoer en Angola se suidweste platvee. Die Kubaanse probleem eens en vir altyd oplos.
Die plan is ’n paar jaar gelede in die wiele gery toe ’n satelliet foto’s geneem het van twee toetsskagte op ’n plaas in die Kalahari. Die Amerikaanse Intelligensiediens het die regering daarmee gekonfronteer en die politieke druk verder met die dreigement van algehele sanksies verhoog. Die toetsterrein is oornag ontruim voor die Verenigde Nasies se kerninspekteurs opgedaag het, en die toetsskagte is bedek.
Vyf kerntoestelle is voltooi, maar nooit getoets nie – die regering steeds tandeloos teen Westerse druk.
Rautenbach kyk hom stip, ondersoekend aan.
“Jan, wat ek nou gaan sê, bly tussen ons. Reg so?”
Beetge knik.
“Ek is nou meer as ooit oortuig ons moet ’n kerntoestel toets. Dis strategies noodsaaklik. Of die Veiligheidsraad dit nou wil hê of nie. Ons moet dit eenvoudig doen en klaarkry. Maak nie saak of ons die bom ooit gebruik nie, ons moet wys ons kán. Anders gaan die buitewêreld ons en ons vermoëns net nooit ernstig opneem nie.
“Ek sal eerder later om verskoning vra as om met leë hande te bly staan. En ek wil hê jy moet dit laat gebeur, Jan. In die geheim. Buite die bestaande kanale. Geen papierwerk, absolute sekuriteit. Nie eens jou baas moet weet nie.”
Beetge is stil terwyl die omvang daarvan by hom insink. Dis enorm en dit grens aan verraad. Hulle kyk na mekaar.
“Jan, jy verstaan die implikasies?”
Inderdaad. Hy het geen twyfel dat Mike Rautenbach alles sal ontken indien dinge skeefloop nie. Dis hoe dit werk.
“Dis niks persoonliks nie. Ek sal moet afstand skep, alles ontken. Ek hoop jy verstaan?”
Beetge knik. Uiteindelik. ’n Plan, maar ’n gevaarlike een. En ’n harde besluit wat gaan om hoogverraad en vaderlandsliefde. Na gelang van jou politieke siening. En of jy in die proses gevang word.
Hy sal die risiko’s maar net moet beperk.
“Goed. Hier’s waar dinge nou bietjie gekompliseerd raak. Ons kan nie ons eie uraan gebruik nie. Ons het nog te min, want die groeiproses is hopeloos te stadig. En buitendien is al ons uraan vier-en-twintig uur van die dag onder video-observasie by Krygkor. Dis ’n hoogs gekontroleerde materiaal. Ons gaan dit elders moet kry.”
Rautenbach hou ’n legger na Beetge toe uit.
“Ons kan darem weer plan maak. Dis alles hierin. Lees en verbrand. As jy vrae het, kom sien my. Moenie die foon gebruik nie. Geen rekords nie, geen spore nie.”
Daar’s by Beetge geen twyfel oor die omvang van die magte wat die minister pas aan hom toegestaan het nie. Hy knik.
“Wie weet hiervan, minister?”
“Ek en jy. Tonie weet uiteraard van die wapens, en het toevallig van die uraan gehoor by die wapenhandelaar in Parys. Verder as dit weet hy niks nie. Hou dit so.”
Die minister staan op.
“O ja, nog iets, heeltemal onverwant. Ek moet Vrydagmiddag ’n toespraak lewer by ’n medaljeparade op Potch. Kan jy vir my iets skryf, asseblief? Die gewone – Christelike orde teen Marxistiese wanorde, kragdadigheid die enigste antwoord … jy weet, daai soort ding?”
Toe Beetge alleen is, sit hy lank en tob. Hy wag tot die geluide van gesels buite vervaag voor hy die legger oopmaak en begin lees.