Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 5

2

Оглавление

Mosambiekse kus

20 November 1987

’n Duikboot is ’n benoude ding. Jy bly in almal se pad.

Jos Fourie en die ander spanlede sit saam met die intelligensie-offisier in ’n kajuit vasgekluister. Hy weet hulle stink vir die offisier. Hul Frelimo-uniforms is vol droë modder, styf en kriewelrig van salpeter na dae se oplê in die bos met sy muskietswerms.

Raubie gee nou terugvoer oor die demolisie van die treinbrug. Oorkant hulle sit Tex en Carlos stil, rûe teen die wand. Die twee Portugeessprekende operateurs is van hul sustersregiment, 5 VR, en moes met die infiltrasie help en toevallige kontak met die plaaslike bevolking hanteer. Ook maar goed. Carlos, ’n Angolees, moes hulle twee keer uit onverwagse ontmoetings met veewagters praat.

Met die debrief uit die pad, laat die intelligensie-offisier hulle alleen om te rus. Dis vir ’n paar tellings stil in die kajuit.

Raubie staan hande in die sye, kyk die spanlede beurtelings aan.

“Netjies, boys.”

Vir nou is dit genoeg. Hulle knik moeg.

Jos voel hoe die dae se spanning uit sy lyf sypel. Tog is hy uitgelate. Hulle is ongesiens in en uit, en hy het sy deel gedoen. Dit voel goed.

* * *

Jos Fourie het dit nog altyd maklik gehad.

Sy ouers het groot verwagtinge vir hul seun gekoester. Geneties geseën, die skool se topswemmer, akademies onder die eerste tien in sy klas. Dis miskien waarom hulle hom Josua gedoop het, wat hy bitter gou verkort het.

Alles is netjies beplan. ’n Loopbaan in die regte, ’n junior vennootskap by Fourie & Fourie. Ingelyf. Jou plek is gereserveer onder die Paarlse adel. Maar diep in sy binneste het hy geweet hy wou iets anders doen, nie voldoen aan die verwagtinge nie.

Teen sy matriekjaar het sy rebellie daarteen fermer ingeskop. Hy het eers sag hulle koppe probeer swaai. Suggesties van ’n ander loopbaan. “Wat anders wil jy doen?” Hy kon nie sê nie. Hulle sou ontplof.

Die wete, die besliste oortuiging, het gekom na ’n paar eenkant-gesprekke met sy oom. Kommandant Robert Fourie, sy pa se jonger broer – en sy held. Die bevelvoerder van 4 Verkenningsregiment, Langebaan.

Robert het gewoonlik aan die einde van die jaar half teensinnig by die strandhuis op Hermanus ingeloer. Hy’t probeer om die Fouries se gewone stroom gaste op hul vakansie-onthale te vermy. Die stug aktuaris-hoofbestuurder van Sanlam. Die Franschhoekse eiendomsontwikkelaar en haar man, ’n waagkapitalis en finansier.

Robert, kort, fris en breed van skouer, het ’n bier bo die gevierde wyn daar binne verkies. Ook Jos se geselskap, die lang stiltes om die braaivleisvuur, albei gemaklik met die minimale kommunikasie wat net sommige mense verstaan, gewoonlik mans.

Dis hier waar die geskil tussen die Fouries en hul kind op die spits gedryf is daardie laaste Desembervakansie voor Jos se universiteitsloopbaan sou begin.

Hy het gefassineer geluister hoe Robert vertel van die harde opleiding, die karakters wat hy leer ken het. Sy verwysings na geheime operasies het Jos se verbeelding aangegryp.

Recces. Die elite. ’n Misterieuse wêreld van ’n baie spesiale talent en koverte operasies wat ’n naïewe, adolessente verbeelding oorweldig het. Dís wat hy wou doen. Nie regte nie.

Die besluit het maklik, natuurlik gekom. Ironies genoeg aangevuur deur sy ouers se jare lange kondisionering, hul konstante herinnering aan sy historiese en genetiese meerderwaardigheid. Hy was beter as ander. Nie omdat hulle dit so direk gestel het nie. Die wete is tuisgebring deur die gemak waarmee alles gekom het. Sport, akademie, die girls.

Robert Fourie het dit raakgesien. Jos se selfstandige denke en vertroue in homself. Alles wat die keurders soek, die vermoë om plan te maak, dan met beslistheid op te tree in situasies waar elke sekonde tel.

“Jou pa wil hê jy moet gaan regte swot?”

“Ja, oom. Stellenbosch.”

“En jy wil nie?”

“Ek wil recces toe.”

Robert het dit lankal sien kom. Stil en geduldig gewag daarvoor, ingeval hy die skuld kry vir die kind se kopswaai. Dit moes Jos se besluit wees. En hier is dit nou. Hy het dit laat hang, Jos nie daaruit probeer praat of dit probeer aanwakker nie.

“Hoekom?”

Jos het nog ’n stomp rooikrans op die vlamme gegooi en gekyk hoe die vonke opvlieg.

“Seker omdat ons land sulke mense nodig het, oom. Vir jobs wat die gewone troepe nie kan doen nie.”

“Dis baie edel van jou, maar jy gaan niemand daarmee oortuig nie. Allermins jou pa-hulle. En nog minder enige Spesmagte-keurder. Probeer weer.”

“Oom Rob, ek weet nie regtig hoe om dit te sê nie. Die gedagte aan ’n job by my pa-hulle, in die praktyk … dit klink so vervelig.”

“Die teenoorgestelde van ’n vervelige regspraktyk is nie ’n loopbaan in die recces nie, Jos. Daar is ’n menigte meer opwindende jobs daar buite. Minder gevaarlike goed.”

“Is seker so, oom. Maar … van die stories en die mense waarvan oom al vertel het … elke keer as ek dit hoor, klink dit of oom van mý praat. Dis ék daai. Dis asof ek daar hoort. En ek weet ek sal dit kan dit doen, oom. Skiet en hardloop en uithou en so aan. Ek wéét dit net.”

“Jy glorify die werk nou.”

“Oom?”

“Operator wees is nie cowboy speel nie, Jos. Jy bly uit die oog, jy bly buite skoot, jy verken en fok stil daar weg. Recce is verkenning, dis nie firefights nie. Jy los dit vir die infanterie. Jy sal verstaan wat ek sê die eerste keer as jy vuur trek en moet terugskiet. Of ’n lewe moet neem. Ouens pis hulleself nat of kots agterna. Oorlog is ’n ander storie, Jos. Moenie dit idealiseer nie.”

Die ferm trek op sy broerskind se gesig het gewys sy argumente maak geen verskil nie.

“Jy gaan dit self aan jou ouers moet verkoop, Jos. Ek kan jou nie help nie. Jou ma is klaar die donner in vir my.”

Die res het blitssnel gebeur. Jos se pa se opsigtelike teleurstelling, sy ma se yskoue afkeer, daarna die dae lange stilte in die huis. Tot hulle ’n skikking bereik het. ’n Kontrak om te kom regte swot as hy nie die recce-keuring en -kursus slaag nie. Slegs dan sou sy ouers vir sy studies betaal.

Jos het diep asemgehaal en geteken, seergemaak deur die formele kontraktering van sy toekoms. Dit was ook die laaste vakansie wat hy saam met sy ouers deurgebring het.

Met kommandant Robert Fourie se hulp is hy opgeroep Vloot toe vir sy diensplig, vinnig gevolg deur keuring en oorplasing na die duikeenheid.

Na ’n jaar se duikopleiding het hy by die Staande Mag aangesluit en by die Spesmagte-proses ingeval: keuring en kwalifikasie, toe sy valskermkursus en die oorplasing na Donkergat by Langebaan vir gespesialiseerde seewaartse opleiding.

Konstante uitputting, nimmereindigende watertrap en die angs van langafstandswem in die pikdonker nag. Daarna demolisie, ontplooiing uit aanvalsbote, infiltrasie en verkenning.

Hy het alles opgeslurp, die kuns van vinnige, besliste optrede in selfs die moeilikste omstandighede gou bemeester. Uitgeblink in sowel die tegniese as fisieke aspekte van sy opleiding. Hy móés alles slaag. Miskien om sy besluit te regverdig. Miskien om aan homself te bewys dat sy onwrikbare geloof in sy eie vermoëns nie blote arrogansie was nie. Hy moes hulle eenvoudig wys.

Kommandant Robert Fourie was in sy stilligheid trots en het die instrukteurs en keurders se terugvoer noukeurig op die jong operateur se legger aangeteken. Jos se vindingrykheid onder druk, sy hoë strestoleransie en vermoë om onafhanklik van ander te kon optree, is gou met bevordering beloon.

Toegegee, hy’t gesien Jos was nie lief vir reëls nie. Maar dis iets wat hy tersluiks onder sy operateurs aangemoedig het. Jy moes kon plan maak wanneer dit nodig was.

Soos eergister, toe sy groep in hul oplegposisie oorkant die bank van die Frelimo-basis finaal besef het hul plan gaan nie werk nie. Die patrollieboot wat langs die brug vasgemeer was, en die wagte daarop, was komplikasies wat nie voorsien is nie. Dit het nadering per kano hopeloos te gevaarlik gemaak. Selfs nou, met donkermaan.

Dit was ’n boomstomp wat stroomaf gedryf het wat Jos die plan gegee het. Kom ons kry ’n stomp, laai die sakke springstof daarop en dryf in die donker af tot onder die brug, stel die ladings, en dryf stil weg en steek weer die rivier oor.

Tex en Carlos het saamgestem. Hoe langer hulle hier wag, hoe groter is die kans dat hulle in ’n Frelimo-patrollie vasloop. Kom ons kry dit gedoen.

Raubie is saam met hom stroomop tot hulle ’n geskikte stomp gekry het. Met die springstof in sakke bo-op onder gras gekamoefleer, kon hy ongesiens langsaan saamdryf, stil kant toe skop en inbeweeg om die ladings te plant.

Jos het een lading PETN spesiaal vir die patrollieboot gehou. Hulle het nie geselskap gesoek vir die terugtog nie.

Die half-aan-die-slaap wagte op die boot was die grootste probleem. As iets sou verkeerd loop, sou sy spanlede hom nie kon help nie. Hulle was oorkant die rivier met hopeloos te min vuurkrag. En buitendien was dit die reël: jou buddies vat die pad sodat niemand anders gevang word nie.

Hy moes die magnetiese brugladings feitlik binne sig van die wagte plaas. Sy senuwees was snaarstyf gespan terwyl hy druppend van stut tot stut onder die brug beweeg het. Dit was die langste vier minute van sy lewe.

Toe weer af na die waterlyn, stil terug in die warm water. En, met die laaste lading gereed in sy hand, met die stomp weer die stroom in tot teen die boot se romp. Die lading was reeds bewapen en binne sekondes sag geplaas terwyl die wagte bo hom staan en rook het. Jos het daarna klouend aan die stomp by die stroom af verdwyn, die gedagte aan krokodille en seekoeie met mening eenkant toe gestoot.

Dit het soos eeue gevoel voor hy die oorkantste oewer bereik het. Toe die halfuur van gespanne wag voor die tydmeganisme afgaan, ruim tyd vir die brugpatrollie om die ladings te ontdek.

Geen wonder hy voel so gedreineer nie, dink hy nou. Goddank hy kon kalm bly deur alles. Toe lê hy sy kop neer en slaap.

Skag

Подняться наверх