Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 22

19

Оглавление

Die Vesta, Noordsee

15 Desember 1987

Ashley Ramirez leun oor die Vesta se veiligheidsreling en trek haar nek toe teen die ysige wind. Dit waai slierte wit uit die see. Dié is ontneem van kleur. Lae wolke wat feitlik naatloos een word met die see, laat alles in monotone skakerings. So anders as die art deco-kleurvolheid van Miami.

Haar donker hare waai onder ’n wolmussie uit om haar gesig, en sy druk dit ingedagte agter haar ore in, verwonderd oor die toneel voor haar. Trek die donker windjekker stywer om haar bolyf teen die koue en sproei, en verwens haarself dat sy nie beter gepak het nie. Haar denims bly koud.

Sy het dit net betyds gemaak Rostock toe danksy ’n ononderbroke transatlantiese vlug vanaf Langley-lugmagbasis by Hampton. Daar was nie tyd vir ingewikkelde dekverhaal skep nie. Nog minder om ’n vervalste paspoort te bekom. Sy moes onder haar eie naam reis.

Dis nie die einde van die wêreld nie, het Marcia de Longhi haar in die motor op pad na die vliegveld gerusgestel. Jy is nog geregistreer by die Universiteit van Miami. Jy is besig met jou meestersgraad. As iemand jou gaan navors, sal die storie klop.

Die res van haar voorbereiding was net so gejaagd. Hoe om die missiele se beheerstelsels te identifiseer en te vernietig. Seewater is die einde van enige elektronika, het ’n CIA-tegnikus gesê, en haar foto’s van die komponente gewys. Jy moet dit net laat lyk of dit met die inlaai nat geword het.

Die Vesta se kaptein, ’n stewige, borselkop-Noorweër genaamd Robert Örnvang, het Ashley beleefd maar saaklik op die brug ontvang en rondgewys. Hy’s ’n besige man, en daar’s hordes admin wat afgehandel moet word voor hulle kan vertrek.

Sy het haarself voorgestel as Ashley Ramirez, ingenieurswese-student. Sy’t ’n longkwaal, mag net kort ente vlieg. Net ingeval. Sy het pas ’n universiteit in Duitsland besoek en is nou op pad na die Universiteit van Kaapstad.

Haar kajuit is ’n vierkantige metaalhok met ’n slaapbank en klein afslaanlessenaar teen die muur, die enigste natuurlike lig ’n kleinerige patryspoort wat aanhou traan aan die buitekant.

Ashley het haar teiken nog nie gewaar nie. Dis geen probleem nie. Die skip is klein en die passasiers min. Hulle sal noodwendig in mekaar vasloop, en as passasiers sal dit heel natuurlik wees om tyd in mekaar se geselskap deur te bring.

Wat haar meer bekommer, is haar hanteerder se finale opdrag, oorgedra in ’n laatnag-jaagtog deur die reën na Hampton.

“En ’n laaste ding. Kom en bly naby die teiken, Ashley.”

“Hoe naby?”

De Longhi se aarseling het waarskynlik haar eie kommer weerspieël oor agente se vermoë om onder die druk van ’n operasie ’n emosionele afstand met ’n teiken te handhaaf. Dis oor en oor in haar opleiding beklemtoon. Daardie onrustigheid knaag nou weer.

“So naby as wat nodig is.”

Die grou lug voorspel ’n koue front uit die noorde. En voor dit, het die kaptein gesê, ’n groot deining, ses uur voor die front opdaag. Dit kan ongemaklik raak.

Die bemanning werk vinnig, almal in geel reënpakke. Niemand wil op die dek wees wanneer die gemors hulle tref nie.

Ashley draai haar rug teen die wind, kyk hoe die bemanning wegpak en vasmaak. Hulle behou hul afstand. Die kaptein is bedonnerd.

Dit laat haar alleen voel. Sy hunker juis nou na ’n konneksie met mense, om die tweestryd tussen haar instink en dit wat sy moet doen, te oorbrug. Want dit gaan pynlik wees. Dit weet sy.

Die manne is besig om kabels te rol. Dit word gestoor in kaste aan weerskante van ’n grys, verhewe platform in die middel van die skip. Die platform huisves die yslike hysdeure wat hidroulies oopvou om vrag per hyskraan in die ruim te laai.

Die koue het nou deur al haar lae klere gedring. Tyd om in te gaan. Die Vesta ry die deinings, eers ’n klim en dan ’n sagte duik, ’n ligte siddering toe die boeg die volgende deining tref.

Die beurtelingse terughouding en verlossing van die romp maak stap moeilik. Ashley probeer haar daarby aanpas: ’n voet wat ’n oomblik te lank hang, dan weer ’n oomblik te vroeg op die dek neergesit word.

By die deur na die superstruktuur wil sy oor die verhewe drumpel tree, toe die Vesta opwaarts beur en haar vorentoe gooi.

Sy val kop eerste die donker gang binne, en gooi haar arms vorentoe om te keer. Pleks van die metaal van die oorkantste muur, tref sy die stewige lyf van ’n man.

Skag

Подняться наверх