Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 9
6
ОглавлениеAan boord van Vlug SA 295,
bo die Indiese Oseaan
28 November 1987
Dis klam in die Boeing se vragruim. Stoom hang onversteurd in die roerlose lug en kondenseer teen die binnewande, klein druppels wat mettertyd vanweë die vliegtuig se vibrasie spoortjies na onder toe traan oor die bondels draad tussen isoleerkombers en metaalwand.
Dit is hier waar die eerste vonk tussen drade boog. Een wat ’n stroombreker in die stuurkajuit laat uitskiet, en toe ’n volgende, soos vonk na vonk smeulend op nat isoleerkomberse land.
Toe die eerste vlammetjie, een wat meedoënloos sy pad deur die veelkleurige isolasie om die drade vreet. Genoegsaam om ’n rookverklikker in die ruim te aktiveer, alarms in die stuurkajuit te laat afgaan, en die kaptein en sy eerste offisier verdwaas na mekaar te laat kyk.
Ervaring maak dat hulle gelyk, kalm, die noodprosedure begin volg. Daal na veertienduisend voet om die lugdruk in die kajuit te verlaag. Lig Mauritius se beheertoring in, vyfhonderd-en-vyftig kilometer verder. Probeer die probleem isoleer. Terwyl die een na die ander stroombreker uitskiet totdat die medevlieënier hulpeloos na sy bevelvoerder kyk.
Agter hulle is die honderd-nege-en-vyftig passasiers en bemanning onbewus van die stygende kommer in die stuurkajuit. Dis kort voor middernag en doodstil in die passasiersruim. Tot die vliegtuig se skielike daling mense laat regop sit.
Tóé die reuk van rook. Besorgde stemme wat ander wek. Die stygende paniek, ondanks die lugwaardinne se gerusstelling. Wat gebeur? Hoekom daal ons? Waar kom die rook vandaan?
Alles is onder beheer, mevrou, dis net ’n roetine-daling tot ons die fout kan isoleer, moenie u bekommer nie.
Vyftien minute later tref Vlug SA 295 die donker water van die Stille Oseaan driehonderd kilometer noord van Mauritius. Breek aan skerwe sodat wrakstukke reusagtige waterpluime meters hoog die lug laat inskiet, voor die see ’n nat kombers oor nog ’n lugramp trek.
Die Helderberg het pas sy laaste rusplek bereik.