Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 17

14

Оглавление

Die Plaas, Pretoria-Oos

9 Desember 1987

Jos kreun en rol om. Dis al sewe-uur. Sy eerste laat slaap in ’n week.

Hy staan op en gaan maak koffie. Die huis is vreemd stil nadat die instrukteurs gistermiddag vertrek het. Sonder om te groet.

’n Toet buite die hek. Jos gaan maak oop. Dis die kolonel se Mercedes.

Beetge klim swaar uit, wys Jos moet terug in die huis. Hy dra ’n aktetas en is in ’n donker pak, die baadjie oor sy vry arm teen die vroegoggendhitte. Dis die eerste keer dat Jos die kolonel sonder sy baadjie aan sien.

By die eetkamertafel haal Beetge ’n groot bruin koevert uit die aktetas, en keer die inhoud op die tafelblad uit. ’n Vliegtuigkaartjie, ’n liggies verweerde paspoort, ’n getikte lys nommers.

Die paspoort is ’n wonderwerk. Vervals deur een van die beste in die bedryf, sê Beetge. Jos vra nie uit nie. Die ID-foto is ’n paar jaar terug geneem toe hy nog snor gedra het. Seker uit sy militêre personeellêer gevat. Netjies. Dis natuurlik meer geloofwaardig as hy nou ouer lyk as op sy paspoort.

Beetge neem hom vir die res van die oggend deur sy reisplan, wys hom op kaarte hoe om van die betrokke lughawe in Berlyn tot by die sentrale stasie te kom, en dan die trein na Rostock se hawe te haal. Waar die pistool en ammunisie sal wees wat hulle vir hom in Duitsland gereël het. Wat die radiofrekwensies is wat hy moet gebruik om te laat weet alles is nog op dreef.

Ook wat die kode is indien hy een van daardie oproepe onder dwang moet maak.

Dit is niks stremmend nie – Jos se opleiding by Langebaan het geheue-oefeninge ingesluit.

Beetge gaan weer en weer deur die inligting, vra vrae, maak seker Jos kan alles foutloos antwoord. Dit moet die gebruiklike roetine vir inligtingsoperasies wees, neem hy aan. Net soos voor verkenningsoperasies. Roetine is jou vriend.

Maar iets aan Beetge se dringendheid maak Jos onrustig. Hy besluit om die water te toets.

“Kolonel, ons bly hamer op noodprosedures, maar ek gaan vir twee, drie weke op see wees, weg van alles af. Wat’s die ergste wat kan gebeur? Ek meen …”

“Onderskepping, Fourie. ’n Teenintelligensie-operasie van die KGB of CIA. Ek’s oortuig hulle gaan oë op die boot hê. Onthou, dit is in niemand se belang behalwe ons s’n dat die vrag Walvisbaai haal nie.”

“Met respek, kolonel, is dit realisties? Hoekom nie net die operasie uitstel tot ons weet nie? Of tot ons ’n ander plan kan maak nie?” probeer hy weer, maar word skerp onderbreek.

“Om hemelsnaam, man, luister net en maak soos ek vir jou sê as jy aan die lewe wil bly!”

Hy gluur na Jos oor sy bril. Beetge stoot sy stoel terug, staan op en druk sy uitgebolde hemp terug onder sy lyfband.

“As ek die luukse van tyd gehad het, het ek een van my eie agente met ’n volledige plan en backup op die Vesta gesit, Fourie, en nie met amateurs rondgeneuk nie! My mense is bloot nie opgelei in jou werk nie. As dinge warm raak, het ons iemand soos jy met jou agtergrond en opleiding nodig. Ek het nie veel van ’n keuse nie.”

Die man is duidelik omgehel vanoggend. Moet die min slaap wees. Hulle het hard gewerk dié week.

Beetge haal sy bril af en begin dit met ’n sakdoek skoonvryf. Hy draai na Jos, sy stem nou weer bedaard: “Jy verstaan die omvang van die buitelandse druk op ons land?”

Jos knik. “Ek dink so, kolonel?”

“’n Klomp goed het onlangs gebeur wat die druk verhoog het. Ons regering se plan destyds om stemreg te verbreed, het ongelukkig … tegelyk binnelands hoop en wanhoop geskep. Dis ’n gemors. Nes ek voorspel het.

“Die enigste ding wat ons nog red, is die feit dat die swart nasionaliste erg verdeel en hul leierskap gefragmenteer is. Ons ry dit so ver as ons kan. Maar dit gaan ook vinnig tot ’n einde kom, en die druk gaan net verhoog. Hierdie mense kry opleiding in Oos-Europa en Kuba, en die kwaliteit van hul agente verbeter by die dag. Dis ’n kwessie van tyd, Fourie, net ’n kwessie van tyd.

“Moskou gaan nie rus voor hy sy doelwitte bereik het nie. Die druk daarvan op ons is enorm. Op die ekonomie, op die nasionale psige, die troepe … hel, die militarisering van elke faset van ons daaglikse lewe! Ironies genoeg is Suid-Afrika die enigste plek in die wêreld waar kommunisme werklik ’n kans het om pos te vat, Fourie. As jy kyk na ons townships, die toestande daar … En dit deur ons eie toedoen.” Hy skud sy kop.

“Daar’s troepe oral, ons verloor ons mense in die bos en die publiek se moraal duik. Ons kan nie vir ewig uithou nie.

“En soos dinge nou gaan, is ons eie politici besig om die Weste teen ons te verenig. As dit eers gebeur, is dit tickets. Die einde. No boats in the harbour.”

Jos volg nie heeltemal die kolonel se sydelingse mymeringe nie, maar bly beleefd luister. Hier iewers is ’n punt.

“Hierdie volk kan nêrens heen vlug nie, Fourie. Daar’s nie genoeg bote in die hawe om ons mense elders te hervestig nie. Ons gaan hierdie geveg op eie bodem moet deursien. En ons opsies om dit te doen, is hopeloos beperk. Ons is militêr sterk, maar ons geld is op. En buitendien kon militêre oplossings nog nooit langtermynoplossings vervang nie. So swaar soos wat dit is om te aanvaar.

“Permanente oplossings. Dis was ons soek. Ons probleem is tyd. Ons moet eers tyd wen. Wet en orde herstel. Beheer kry oor die townships. Aan al die oorlogsfronte. Ons mag ordentlik laat geld, veral in Angola. Dán kan ons praat.”

Jos is onseker of hy moet reageer. Beetge staar by die venster uit.

“Daar is geen groter mag as om jou eie land se geskiedenis te help skryf nie, Fourie, en elke liewe politikus in hierdie land baklei nou om daardie voorreg. Ego’s en kortsigtigheid staan loodreg teen gesonde verstand en die land ly daaronder. Dis afstootlik, en dis waansin, Fourie. Iemand moet ingryp en iets daaromtrent doen.

“Ongelukkig is die buiteland se geduld nou op met ons. Jy lees seker koerant? Ons townships is die teelaarde vir kommunisme en ons het geen beheer daaroor nie. Die driekamer-parlement is ’n aborsie wat die swart nasionaliste in die land net help verenig en die wêreldopinie net verder teen ons gedraai het.

“Ons ou vriende oorsee werk nou aktief teen ons met intelligensie-operasies pleks van anderpad kyk soos tevore. As jy my sal verskoon, ons is diep en ordentlik in die kak. Dis hoekom ek so hamer op sekuriteit, Fourie.”

Die intelligensiehoof sug, staar vir ’n wyle in die niet, ’n geboë mens met ’n land se laste op sy skouers.

Skag

Подняться наверх