Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 18
15
ОглавлениеJan Smuts Internasionale Lughawe
11 Desember 1987
Daar’s nog twee uur oor voor sy laatmiddagvlug vertrek. Jos se agterent is seer gesit op die harde stoel in die groot vertreksaal. Dis raserig, die eggo’s hol en oorverdowend.
Hy voel nog die week wat verby is. Nommer Een en Twee het hom gehamer, die dae stampvol, maar hy kon dit vat. Niks erger as sy seewaartse opleiding nie. Jy bly net kalm, laat jou kop sak en takel die branders een-een soos wat hulle inkom.
Daardie vermoë dra hom deur taai tye, weet hy. Fokus, en die stelselmatige uitskakeling van hindernisse eerder as om deur die geheel oorweldig te word.
Dit het in die gesprek met Lida Struwig opgekom. Ja, dis ’n taktiese voordeel om vrees, moordlus en woede eenkant te kan skuif. Dit hou jou aan die lewe. Maar wees bewus van die keersy.
Soos?
Soos die vernouing van emosies wat dit meebring. Die gebrekkige ervaringsveld wat hulle so dikwels by operateurs sien. Hy’t haar dwars aangekyk.
“Die onvermoë om emosies so ten volle soos ander te ervaar,” het sy verduidelik.
Na sy moeilike week sien hy dit nou. Hy was so gefokus dat hy Lida Struwig heeltemal uit sy gedagtes kon skuif.
Nou, met tyd op sy hande, tree daardie gedagtes weer op die voorgrond. Selfkennis bring geen troos nie. Miskien moet hy ’n kans waag en Lida bel, terwyl hy wag.
Vir die soveelste keer staan hy op en strek hom uit, sy hande agter sy kop. Hy swaai sy bolyf stadig van links na regs. Terselfdertyd flits sy oë deur die ruimte, van mens tot mens. Hy oefen sy nuutontwikkelde teenobservasie-tegnieke, bespied die vertrek om te sien of iemand skielik wegkyk, oogkontak vermy of uit plek lyk.
Hy het homself só geposisioneer dat hy ’n wye gesigsveld het. Hy’t die saal nou al drie keer deurgekyk, elke keer onder die dekmantel van bene rek. Sover kon hy niks verdags sien nie. As iemand hom dophou, is die persoon ’n ekspert.
Jos weet reeds waar al die publieke telefone is. Een links, naby die uitgang van die vertreksaal. Een skuins oorkant, by die boekwinkel. Een by die toilette. Dis die een wat hy teiken.
Hy vat sy rugsakkie, maar los met opset die koerant op sy sitplek. Begin lui oorstap na die boekwinkel, maar stop na ’n paar treë asof hy onthou van die koerant, en swaai om. Kyk vinnig vir oë op hom. Niks. Hy gaan kry die koerant en stap aan na die boekwinkel.
Binne beweeg hy om ’n rak sodat hy na buite kan kyk, tel ’n tydskrif op en bestudeer die buiteblad. Hy kyk nie op nie, skandeer net vir beweging aan die rand van sy gesigsveld. As iemand hom hierheen gevolg het, sou die persoon vasgesteek of weggedraai het. Die abrupte beweging sou dit verklap.
Hy sit die tydskrif terug op die rak en slenter uit na die toilette toe, draai sy kop stadig van links na regs sodat hy uit die hoeke van sy oë enige tekens van agtervolging kan gewaar. Niks.
Hy stoot die toilet se deur oop en stap in, stoot dit toe, maar hou dit op ’n skrefie oop. Loer deur die skrefie. Geen beweging nie. Hy wag twee minute, tot hy seker is, en glip uit na die eerste tiekieboks op regterhand.
Hy ken Lida se direkte kantoornommer uit sy kop. Met die eerste lui tel haar ontvangsdame op. Dêmmit, dit was nou onnodig! Hoe minder mense weet, hoe beter.
Jos herstel gou. Kan hy met doktor Struwig praat?
Doktor Struwig is ongelukkig in die hospitaal. Kan sy dalk help?
Hospitaal? Jos herstel gou.
Hy wou net sy maandelikse afspraak aanskuif, hy is uitstedig, lieg hy glad. Is daar fout? Is sy siek?
“Met wie praat ek?”
“Fourie. Sersant Fourie.”
“Sersant, ek’s jammer, ek het slegte nuus. Ons weet nie wanneer sy gaan terug wees nie. Sy is aangeval. In haar huis, net so oor ’n week gelede.”
“Sy’s wát?”
“Ek’s jammer, sersant. Sy’s in 2 Mil-hospitaal in Wynberg … Sersant?”
’n Groot hand verwyder die gehoorbuis uit Jos se greep en sit dit kalm terug op die mik. Jos ruk geskok om, sy rug teen die tiekieboks. Voor hom staan kolonel Jan Beetge, sy gesig ’n donderwolk.
“Fourie, het ons jou absoluut niks geleer hierdie week nie?”
Sy oë deurboor Jos s’n. Dan, sonder om weg te kyk, steek die kolonel sy hand in sy baadjiesak en hou iets na hom uit.
Jos kyk af. Twee foto’s. Lida Struwig op die vloer, haar gesig opgeswel en bebloed. En ’n grinterige beeld van iemand in ’n sweetpak wat deur ’n melkhoutheining beur. Dis onmiskenbaar hy.