Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 24
21
ОглавлениеDie Vesta, Noordsee
15 Desember 1987
Jos Fourie reageer blitssnel, swaai sy arms onder die jong vrou se blaaie deur. Haar voete is nog buite die drumpel, en sy klou vir die vale aan sy dik baadjie.
Hy help haar regop, staan terug.
“Jammer!” sê sy, laggend. Amerikaanse aksent, maar olyfkleurige, Latyns-Amerikaanse gelaatskleur en donker oë.
“Geen probleem.” Hy wil wegdraai, maar sy keer met ’n haastige verduideliking: “My voet het vasgehaak … die boot het gerol net toe ek by die deur inkom …”
“Skip. En poort. Dis ’n poort, die buitedeur op ’n skip.”
“O, oukei! Ken jy skepe?”
Hy antwoord nie daarop nie, nie lus vir klets nie. “Jy sal gou gewoond raak aan die duik en die rol, moenie jou bekommer nie.” Hy wil loop, maar sy steek haar hand uit.
“Dankie, e … Ek is Ashley. Ashley Ramirez. Van Miami.”
“Jos Viviers.” Haar handdruk is stewig.
“Jammer oor die hardhandige kennismaking!” sê sy laggend. “Vivy-yay? Is dit Frans?”
“Oorspronklik, ja. Ek’s van Suid-Afrika. Van Kaapstad.”
“Kaapstad? Ek is juis op pad soontoe, na die universiteit!”
“A.” Daar’s ’n stelling wat wag op sy respons. Maar Jos knip die gesprek kort. “Sien jou.”
Hy druk sy kajuitdeur agter hom toe, staan vir ’n oomblik en nadink, hande in die sye. Hy kan steeds haar parfuum ruik.
Nóg ’n Amerikaner?
Dis darem ietwat toevallig.
* * *
Allan Hughes haal sy bril af en sit terug toe Marcia de Longhi sy kantoordeur oopstoot na ’n ligte klop.
Plan B is in werking, sê sy. Hulle kon nie die Seals binne die pakhuis kry nie. Die plek was net te besig. Maar Ramirez is aan boord, die skip het vertrek. Daar’s niks wat hulle nou kan doen voor haar eerste oproep nie.
“En jy’s seker sy is hiervoor opgewasse?”
Marcia lag. “O ja!”
Haar agent was ’n besonder skrander student. Immigrantkind met ’n oordrewe behoefte om haarself te bewys. Daarom topstudent van haar inname.
Teenintelligensie het haar danksy haar wiskunde-agtergrond en ontledingsvermoëns vir analise-opleiding opgeraap. Maar sy was duidelik gou verveeld daarmee. Sy wou in die veld wees en het haar baas aanhou pla tot hy haar vir koverte opleiding gestuur en sy na Guatemala ontplooi is.
Ramirez was gestasioneer by die ambassade, waar sy inligting moes inwin oor die gerugte van massamoorde onder president Efraín Ríos Montt. Uiters gevaarlike werk wat haar voorgangers liefs vanuit die veiligheid van hul kantore gedoen het. Nie sy nie – sy kon die taal praat en het eerder inligting op die grond begin versamel.
Dit het die stasiehoof grys hare besorg, maar sy het haar goed van haar taak gekwyt, topklas-intel ingewin en haar toer ongeskonde voltooi. Met haar terugkeer na Langley het sy gevra vir ’n permanente oorplasing na operasies, en elke moontlike verdere kursus voltooi.
Analise se verlies was Operasioneel se wins, sê Marcia.
Terloops, sê Hughes, hy’t die foto’s van die Suid-Afrikaner op die Vesta ontvang. Hy stoot ’n koevert oor na haar.
Sy haal ’n swart-wit foto uit van ’n jong man, bruingebrande gesig, aan tafel by ’n buitelugrestaurant.
“H’m. Mooi man.”
“Sal nie weet nie.” Hughes steek ’n sigaret aan. “Ons het hom nie op rekord nie. Onbekend.”
“Ons sal seker weldra weet wanneer Ashley rapporteer.”
“Jip.”
“En ek’s bly ons het ’n vrou gekies.”
“Hoekom?”
“Hy’s waarskynlik ’n groentjie. En sy is mooi. Daai kombinasie werk gewoonlik.”