Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 11

8

Оглавление

4 Verkenningsregiment, Langebaan

2 Desember 1987

Jos Fourie sweet op die paradegrond. Selfs die suidooster wat spoed kry bo-oor die rotskoppie en torring aan sy baret, koel hom nie af nie. Hy was net-net betyds vir die ordergroep. Hy’t ’n harde week gehad, ’n offisierskeuring wat hy tussendeur al die ander opleiding moes inpas.

Tóé die komplikasie met mevrou Lida Struwig.

Dit het hom agterna in die kroeg saam met Raubie en van die ander operateurs laat beland. Dit het in die oggendure geëindig, en hy voel dit nou.

Sy laatkommery het die regiment-sammajoor nie ontglip nie. Die kort, seningrige instrukteur staan nou omtrent teenaan hom, en basuin sy skril paradestem opwaarts na Jos toe. Dié kyk bo-oor hom, wat die RSM net verder afpis.

“Sersant Josua fokken Fourie! So, jy reken jy kan my paradegrond ontsier met jou gatslepery?”

Jos sê niks. AO John Thackeray is bekend vir sy tirades. Hy kan dit minute lank volhou sonder om homself te herhaal. Dis ’n kunsvorm. En Jos geniet dit om daarna te luister. Hy was al meermale die rede daarvoor.

Jos wil sy wang droogvee, maar gaan nie die RSM daardie genoegdoening gee nie.

Dan eers raak die AO bewus van die jong korporaal wat bleek agter hom staan en sy aandag probeer trek. Hy vlieg verwoed om. “Wát?”

“Sammajoor, verskoning. Sersant Fourie moet by die OC rapporteer. Dadelik.”

Thackeray kyk terug na Jos, wat sy glimlag net betyds wegsteek.

“Dis reg, ons is mos fokken buddies met die kommandant, jou wanker! Fok af van my paradegrond!”

Kommandant Fourie se kantoordeur staan oop. Jos se oom wuif hom binne, sy oë op ’n teleksboodskap op sy lessenaar. Jos kom op aandag, salueer hom. Die bevelvoerder gee ’n vae saluut terug vanuit sy stoel.

“Jos, sit.”

Hy stoot die teleks oor na sy broerskind. Die sein is van die weermaghoofkwartier in Pretoria, en gebied sersant Jos Fourie se teenwoordigheid so spoedig moontlik by Waterkloof-lugmagbasis.

Geen rede nie. Jos frons. “Waterkloof, kommandant?”

“Ek het ’n oproep van Nasionale Intelligensie gehad voor die sein gekom het. Hulle het iemand met jou vaardighede nodig, Jos. Vir ’n seewaartse job. In die buiteland. Twee, drie weke. Dis al wat ek weet. En dit moet blykbaar so bly. Hulle was uitdruklik daaroor. Jy vertel niemand waarheen jy gaan nie, jy vat net jou goed en ry.”

“Kommandant, ek het nie eens ’n paspoort nie!”

“Hulle sal jou issue met een, want jy sal waarskynlik nie onder jou eie naam werk nie. Gaan pak. Ysterplaat kom haal jou môreoggend sewe-uur hier met ’n Puma.”

Jos spring verbluf op en salueer. Hy swaai op sy hak om en drafstap na die onderoffisierskwartiere. Hy weet nie of hy opgewonde of bang moet wees nie. Of verlig?

God weet, ’n paar weke weg van die basis af sal dinge met Lida Struwig beslis laat afkoel.

Skag

Подняться наверх