Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 3
Vooraf
ОглавлениеDie nag word verlig deur ’n verblindende flits wat die brug skud voor ’n wit rookwolk dit omvou. ’n Presies berekende lading springstof, met aluminium aangevuur tot ’n versengende hittegolf, ruk deur die dik staal, verwring dit soos klei en laat die struktuur sissend in die donker water van die Pungwerivier neersyg.
Ses sekondes later ontsteek die lading teen die romp van die Mosambiekse patrollieboot langsaan en blaas ’n mensgrootte gat reg op die waterlyn. Die wagte op die dek word oorboord gegooi deur die slag voordat die boot terugwieg en water deur ’n gapende wond begin inlaat.
Oorkant die rivier pluk die skokgolf van die dubbele ontploffing droë blare uit die bome bokant Jos Fourie, laat dit neersif oor hom in sy observasiepos. Langs hom is Raubie Naudé se swartgesmeerde gesig vir ’n oomblik sigbaar, verlig toe die tweede lading suksesvol afgaan.
Hulle kan dit later vier. Nou moet hulle eers verdwyn, voor alle hel by die Frelimo-basis oorkant die rivier losbars. Raubie, die spanleier, beduie met sy kop na die draai in die rivier regs van hulle, waar die ander twee lede van die groep die Klepper-kano’s oppas en hul agterhoede beskerm.
Hulle kruip agteruit, gryp rugsakke op pad en begin geruisloos hul eksfiltrasie deur die donker Mosambiekse bos.
By die opslagplek hou Raubie sy vuis omhoog, fluit laag en sag, en wag vir die antwoord. Dit kom en hulle tree versigtig vorentoe.
Voor hulle word die bos mens – twee figure met donker klere wat uit vormloosheid verrys, wapens borshoogte gehou. Vir ’n paar gespanne sekondes staar hulle mekaar aan. Dan sak die wapens.
Die bonkige Carlos Viyera wys met sy AK47: Kom! Hy wag nie, swaai om en beweeg stil teen die rivieroewer af. Jos en Raubie volg versigtig, hul nagsig nog nie heeltemal herstel na die helder flitse nie. Agter hulle hurk Tex Texeira in die paadjie, sy ore gespits vir enige agtervolging terwyl hulle oppak.
Die Kleppers is binne minute gelaai, dryfgras bo-oor gestapel om die buitelyne te verberg. Hulle is gereed om die nag in te verdwyn, stroomaf tot by die kus, waar die duikboot wag.
Oorkant die rivier is die nag nou kakofonies, hard genoeg dat Carlos vir die eerste keer na sewe dae se byna woordelose infiltrasie hardop kan praat: “Vamos, meus amigos! Kom ons gaan huis toe.”