Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 14
11
ОглавлениеWaterkloof-lugmagbasis
3 Desember 1987
Jos is styf en moeg na die ongemaklike vroegdagreis met die flossie van Ysterplaat na Waterkloof. Hy het amper nie ’n oog toegemaak tydens die lang vlug nie. Die Hercules C-130 se sitplekke, ’n stel gevlegte nylonbande, is sleg ongemaklik. G’n mens kan daarin slaap nie.
Sy gemoed is boonop somber. Hy is steeds omgekrap oor gisteraand se ongemaklike afskeid, teleurgesteld in homself omdat hy die gemors sien kom maar dit nie betyds gesystap het nie.
Dit was die onvermydelike gevolg van die week se tergende opbou, van die sonderlinge verbintenis met iemand wat diep in sy siel kon sien, het hy homself probeer troos. Maar ten koste van wat?
Uiteindelik moes hy erken hy het aangejaag. En gevaarlik ook.
Nou, in die ontvangssaal by Waterkloof, kan selfs die prikkeling van die onbekende voor hom nie sy gemoed lig nie. Dis waarskynlik hoekom hy aanvanklik die lang man in die swart pak miskyk. In die middel van die saal, op ’n bank. Lank en skraal, baie donker gelaat, sy oë deurdringend blou agter ’n swartraambril. Hy kyk Jos stip aan en staan stadig op.
Dit moet sy kontak wees. Hy stap nader.
“Môre. Ek’s sersant Jos Fourie. Is jy …?”
Die man ontsenu hom, sy oë onleesbare poele. Dit en die stilte wat soos ’n mantel om hom hang. Hy hou Jos se blik ’n paar oomblikke voor hy reageer.
“Beetge.” Hy steek sy hand uit. Die greep is koud, ferm. “Kom.” Hy begin stap na die uitgang.
Jos volg hom tot by ’n beige Mercedes in die parkeerarea. Jos sit sy rugsak op die agterste sitplek en klim in. Hy brand om te vra waarheen hulle op pad is, maar iets aan die man se houding laat hom stilbly.
Dis sy eerste ervaring van die intelligensiewêreld. Dit voel of hy getoets word. En hy gaan wragtig nie soos ’n kletskous oorkom nie. Nee, as die man wil swyg, speel hy saam.
Beetge trek uit by die parkeerarea en draai wes. Die bordjies wys Lyttelton, toe noord langs die Groenkloof-reservaat. Dan weer wes. 1 Militêre Hospitaal se aanwysers doem op en Beetge draai af. Jos frons.
Beetge parkeer, wink vir Jos om saam te kom. Hulle stap die hospitaal binne, draai af in ’n gang na die hoësorgeenheid. By ’n ontvangsarea vra Beetge na iemand. Jos herken nie die naam nie. Die verpleegster wys na ’n saal oorkant die gang. Hulle bly staan in die deur.
’n Ongeskeerde, borselkopman, sy oë toe, lê alleen in die saal. Hy is aan verskeie monitors gekoppel. Die man se bene is skraal, die spiere weggevreet deur ongebruik.
Beetge praat sag.
“Dit is kaptein Swart. Mirage-vlieënier. Jy’t dalk gehoor van die insident. Hy is verlam in ’n noodlanding op Rundu. Deur ’n Kubaanse MiG-23 raakgeskiet.
“Hierdie mense veg sonder lugruimdekking in Angola, en hulle doen dit met verouderde toerusting, Fourie. Ons vliegtuie is nie opgewasse teen die Kubane se nuwe MiGs nie. Dit beperk ons oorgrens-operasionele vermoëns geweldig, wat ons troepe op die grond onnodig blootstel.
“Dis waar jy inkom. Jy gaan help sorg dat mense soos kaptein Swart op albei bene kan huis toe kom. Ons land is dit aan hulle en hul families verskuldig.”
“Hoe?”
“Ek kom later daarby. Ek wil net eers hê jy moet verstaan hóékom ons doen wat ons doen by die intelligensiedienste, Fourie. Net ingeval jy ’n verkeerde indruk het. Daar’s niks glamour nie. Kry dit sommer by voorbaat uit jou kop. Ons werk in die stilligheid. Niemand weet nie, niemand gee medaljes nie. Jy doen die job, jy verdwyn. Ons soek mense wat die job kan doen en bevele volg. Met my?”
Jos knik. Beetge se preek is monotoon, maar onheilspellend donker, die soort wat nie teenspraak duld nie.
“Goed. Ek gaan jou later meer volledig inlig, maar van nou af is alles wat jy hoor hoogs geklassifiseerde inligting. Jy praat met niemand behalwe met my en jou instrukteurs nie. Het jy my?”
Jos knik. Beetge vat sy arm, stuur hom deur se kant toe, beduie gangaf na die hospitaal se ingang, en volg Jos woordeloos na buite. Twee pasiënte in hospitaaljassies staan en rook by die ingang, hul rûe teen die bruin baksteenmuur. Die wind is koel ondanks die somerson.
Toe hulle buite hoorafstand is, draai Beetge na Jos, sy kop omlaag en hande in die sakke. Jos moet nader staan om te kan hoor.
“Ons het gesoek na ’n baie spesifieke profiel vir hierdie operasie, Fourie. Ek het jou rekords by Langebaan gekry en jou geskiedenis deurgegaan. Daarvolgens was jy die topstudent. Hoogste punte in al jou kursusse. Voor die res van jou kollegas gekeur vir ontplooiing. Aksie in Angola, demolisiewerk in Mosambiek. Dis hoëprofiel-ontplooiings vir ’n nuwe operateur, nie waar nie? En toe bevorder na sersant? Na net drie jaar?”
Hy laat die stelling ’n oomblik lank hang.
“Jou oom is die basisbevelvoerder, reg?”
“Daar’s g’n voortrekkery op Langebaan nie,” sis Jos. “Ek het hard gewerk vir my rang, meneer Beetge.”
“Kolonel.”
“Skuus, kolonel, nie geweet nie.” Sy lippe is saamgepers. Hy is nou deeglik die moer in.
Maar die kolonel vee die verskoning weg met die hand, sy gesig koud.
“Vergeet dit, Fourie. Rang is irrelevant. En jou rekord is verlede tyd. Wat nou tel, is hoe jy oor die volgende paar dae gaan vaar.”
Jos byt sy ergernis hard terug. Dis darem seker nie nodig om soos ’n rower behandel te word nie!
Beetge se stem is saaklik.
“Dit beteken jy gaan moet fokus, Fourie. Geen sideshows nie. Geen telefoonoproepe nie, geen kontak met enige iemand nie. Vir die volgende paar dae gaan jy van jou private lewe vergeet. Anders pos ek jou summier terug Langebaan toe.”
* * *
Die Plaas, soos kolonel Beetge Nasionale Intelligensie se opleidingsfasiliteit noem, is versprei oor ’n yslike perseel teen ’n koppie wat oor Rietvleidam uitkyk.
Dit was eens ’n werkende plaas, sien Jos. Groot vlaktes voorheen bewerkte en ontboste grond, ’n menigte ou buitegeboue en skure, nuwe tennisbane en ’n swembad. Dis net die radiomaste en satellietskottels wat agter hoë mure uitsteek wat jou hond se gedagte gee.
Beetge draai sy ou Mercedes van Delmasweg in deur ’n sekuriteitshek, volg ’n teerpad tussen ’n klompie verspreide ou plaasgeboue wat klaarblyklik nou woonkwartiere is.
Hy het Jos op pad oor die missie ingelig. In die motor, weg van ander ore, was hy aansienlik meer spraaksaam.
Die operasie vereis iemand met ’n militêr-maritieme agtergrond, het hy gesê. Iemand met die opleiding om op ’n skip te kan opereer. En wat kan plan maak, in isolasie, indien nodig, want hy sal vir ’n geruime tyd sonder ondersteuning moet kan werk.
Waarvoor, wou hy weet?
“Ons wil hê jy moet ’n vrag missiele uit Duitsland vergesel Walvisbaai toe.”
Jos het gefrons: “Wapens babysit, kolonel?”
Beetge het hom koud aangekyk.
“Fourie, dit sou fataal wees om die operasie te onderskat. Ons reken daar’s ’n goeie kans dat die vrag gaan aandag trek. Die buitewêreld hou ons met arendsoë dop. Van die CIA tot die KGB en MI6, almal. Dis feitlik onmoontlik om wapens ongesiens te vervoer. Dis hoekom ons dit per skip moet doen. Dis altyd ’n waagstuk, die blootstelling is hopeloos te lank na my sin. Maar dit kan nie anders nie.
“Jy sal verstaan die risiko is aansienlik hoër. Ons vat ’n kans, maar dis ’n berekende een. Die vrag sal vir meer as twee weke blootgestel wees op die skip. Ons het iemand nodig wat ’n ogie kan hou by die laai, miskien help om doeane te omseil as dit nodig is. En natuurlik die vrag op die see te beskerm.”
“Waarteen, kolonel?”
“Teen enige aanslag op die oop see. En as ons moeilikheid kry met ander intelligensiedienste, moet jy hulle kan ontwyk. Of neutraliseer. Jou rekord wys jy sou kon.”
Jos is nie seker of hy gevlei of bang moet voel nie.
Beetge draai regs by ’n kruising, stop ’n halwe kilometer verder voor ’n staalhek in ’n hoë vibracrete-muur. Hy kan die dakke van ’n reeks kleinerige huise net-net bo dit sien uitsteek. Maar niks verder nie.
Beetge toet, en ’n man in gewone drag stoot die hek oop. Hy ry deur, hou stil in ’n parkeerterrein langs die eerste huis, een van ses in ’n netjiese ry geboue.
Jos kyk na die hoë mure. Beetge sien dit.
“Dis waar Nasionale Intelligensie al sy koverte opleiding doen. Normaalweg sou ons jou eers na donker ingebring het, maar ons het nie tyd nie. Ons gaan maar moet aanstoot met die opleiding. Waar slaap hy?” vra hy die man wat die staalhek agter hulle toestoot.
Die man wys na die eerste huis. “Daar. Enige kamer. As jy klaar is, kom oor na nommer twee, daarso. Die instrukteurs wag.”