Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 4
1
ОглавлениеVastrap, Kalahari
Die plaas Vastrap lê diep in die Kalahari-duineveld. Golwende rooi sand wat oor dekades neergesif het, weggevreet en herbou totdat die swart rondings deurvleg is met donker swaarmetaal-aksente.
Dis die donker strepe wat jou voete brand, wat jou met hoogson van skaduwee na skaduwee laat hardloop om jou voetsole te spaar.
Die witgatwortel het die digste skaduwee. Koel sand onder sy swartgroen blare en genoeg loof bo jou kop vir ’n bietjie lafenis as jy daar wil vertoef.
Dis hier waar die veewagter nou hurk, ’n boog in die sand voor hom geplant. Sy geplooide gesig is opgeskroef teen die helder son, maar die hitte maak hom niks.
Vyftig jaar se leef in die woestyn het N//arson Lys se vel kliphard gebraai.
Die veewagter het dekades gelede uit die bloute oor die Moloporivier hier opgedaag. Bloot by die wit man aangekom en gesê die duusman moet gaan kyk, sy skape is deur die lyndraad. Loop nou in anderman se grond. Die draad is stukkend daar in die verste hoek, by die hoë duine. Daar’s beter weiding oorkant.
Die wit man het gesê daai sand is te dik vir sy Ford. En gevra of N//arson werk soek. Hy’t gesê net blyplek, bietjie kos, duusman. Hy sal die skape oppas. Die wit man het sy skouers opgehaal. Meel en sout het die kontrak verseël.
Die twee het min gepraat. Die wit man het nie !kung geken nie, en N//arson het min Afrikaans gehad. Maar N//arson het nie geselskap gesoek nie. Die wit man ook nie. Hy wou net sy skape opgepas hê.
N//arson Lys het ’n heenkome gehad. ’n Takhutjie met suurgras bedek in ’n duinstraat, uit die oog en die bek van die wind.
Toe is die wit man dood.
N//arson het dit sien kom, in die droom. Dis hoekom hy uit die duine teruggekom het plaas toe. Net daar gewag, onder ’n ruggebreekte kameeldoring langs die werf, in die laaste koelte van ’n tak wat ophou baklei het. Soos die siek man daar onder in die huis. ’n Kwessie van tyd voor dit inval en een word met die rooi grond.
Hy het hom daar begrawe, die wit man, daar onder die boom.
Toe kom die nuwe wit man. Die een met die droogte in die oë. Alleen in die groot huis, sonder vrougoed. En die drome wys dis ook sy laaste rusplek dié.
N//arson tuur in die verte, na die wit kalkvlakte tussen die rooiduin en die pad waar die soldate so hard gewerk het in die hitte. Na die sementput met die diep skag wat hulle jare terug hier kom grou en net so laat staan het.
N//arson verstaan nie die wit mense nie. ’n Put sonder water maak tog nie sin nie.