Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 16

13

Оглавление

Krygkor-hoofkantoor,

Erasmuskloof, Pretoria

8 Desember 1987

Doktor Johan du Toit is wêrelde verwyder van die leidende kernwetenskaplike wat ’n mens na aanleiding van sy CV sou verwag. Die fisikus en hoof van Krygkor se kernontwikkelingsprogram is ’n saggesproke, plat-op-die-aarde Namakwalander wat nie onnodige formaliteit kan verdra nie.

Dis hoekom hy so opsien teen kolonel Jan Beetge se besoeke. Die man se koue beleefdheid ontsenu hom. Terwyl hy wag, vroetel hy met die dokumente op sy lessenaar, teken en liasseer vorms.

Du Toit staan op agter sy lessenaar toe Beetge en Tonie du Plessis by sy kantoor instap. Beetge groet, stel Du Plessis aan die wetenskaplike voor as Krygkor se liaison in Parys. Du Toit trek liggies aan sy das, die wurgketting van sy korporatiewe bestaan.

Hoewel doktor Du Toit en Tonie du Plessis vir dieselfde instansie werk, is dit hul eerste ontmoeting. Ook Tonie se eerste blootstelling aan die binnewerke van die kernprogram. Die geheimhouding is die gevolg van die noodsaaklike kompartementalisering van inligting binne Krygkor.

“Hoe vorder julle?” Beetge mors nie tyd nie. Hy bly ook staan, ignoreer die stoel wat die doktor hom aanbied. Tonie staan terug.

“Nee wat, sommer voor die wind, kolonel. Ons kán darem ’n draaibank werk.” Die sarkasme is uit voor hy homself kan keer.

“Sal ons gaan kyk?” Beetge wys vir hom om voor te loop. Die fisikus maak so, gryp op pad uit sy wit laboratoriumjas agter die deur. Hulle volg hom gangaf.

Die gebou is op die oog af niksseggend, net nog ’n vleuel van die hoofgebou, met ’n onopvallende sekuriteitsingang waar Tonie en kolonel Beetge hul besoekerskaarte moet wys en inteken. Elkeen word met ’n besoekerskaart en wit jas uitgereik.

Doktor Du Toit lei die groepie deur ’n stel toegangsbeheerde deure waarby elkeen sy kaart moet deurtrek. Voor hulle is ’n groot staaldeur met ’n sleutelbord. Du Toit tik ’n kode in en ’n blink hysbak se deure trek geruisloos oop.

Twee verdiepings ondertoe onthul die staaldeure ’n ruim, goed geventileerde werkarea met verskeie glasafskortings. Personeel in wit jasse is oral oor ingewikkelde masjiene gebuk: klein draaibanke, freesmasjiene, handskoenkaste en chemiese toestelle. Tonie staar verwonderd. Van buite af sou hy dit nooit kon raai nie.

“Hel!” sê hy sag.

“Dis ons workshop vir die navorsingsreaktor,” sê Du Toit. “Radio-isotope vir kernmedisyne. Maar kom, dis nie waarheen ons op pad is nie.”

Hy tree terug in die hysbak en pons ’n verdere stel kodes in. Die deure gaan toe, en ’n verdere verdieping ondertoe stap hulle uit in ’n soortgelyke werkarea: hierdie keer met selfs meer gesofistikeerde toerusting agter glasafskortings, en ’n bedrywige span tegnici waarvan party gesteurd opkyk toe die groepie binnestap.

Sommige dra maskers en handskoene, en beweeg deur dubbeldeure met lugdigte afskortings tussen vertrekke. Voorsorg teen kontaminasie, verduidelik doktor Du Toit.

“Wat jy hier sien, is tegnologie wat ons oor jare versamel het. Almal se werk word geïntegreer en deur daardie rekenaar op regterhand beheer. Groot dele van dié tegnologie is nog glad nie eens buite bekend nie,” sê hy trots.

Tonie sien die yslike rekenaar, ’n hele muur vol, met rollende magneetbande en tegnici wat ponskaarte by ’n rekenaarleser invoer. Hy het nog nooit so iets aanskou nie. Du Toit sien sy verwonderde blik.

“Amerikaanse tegnologie van ICL. Wys jou net: geld praat.”

Beetge kug veelseggend, en Du Toit beduie in die gang af.

“Manne, ek het ’n paar verpligtinge bogronds, en ek het nou wragtig nie nodig om te weet waaraan julle werk nie. Die werkwinkel wat julle soek, is daar, derde een regs. Praat met Dale Drummond. So ’n korterige outjie. Hy sal julle ook weer uithelp deur die sekuriteit.”

Hy groet almal, en staan terug in die hysbak

Die deure suis toe. Tonie kyk vraend na Beetge.

“Is dit klaar?”

“Dit is.”

“Weet doktor Du Toit?”

“Hy weet nie wat ons laat maak het nie, en die tegnikus weet nie waarvoor dit is nie. Dis hoe dit bly.”

Hulle stap ’n skoon, helder verligte vertrek binne. ’n Tegnikus met ’n blonde kuif wag vir hulle, ’n senuagtige trek op sy gesig. Beetge stel Tonie bekend.

“Drummond,” mompel die tegnikus. Hy knik in Tonie se rigting, maar sy oë bly op Beetge gerig.

“Wat het jy vir ons, meneer Drummond?”

Hy wys na ’n geel skubatenk op ’n werkbank in die middel van die vertrek. Tonie herken dit as ’n duiksilinder wat kommersieel beskikbaar is. Niks buitengewoons nie.

Om die tenk lê ’n verskeidenheid mikro-meetinstrumente, ’n blink staalsilinder en hopies poleerlappe besmeer met politoerseep in verskillende grofheidsgrade.

“Waarna kyk ons?” vra Tonie.

“Dis die vraghouer. Wys hom,” sê kolonel Beetge en beduie. Die tegnikus staan nader, tel die skubatenk op, draai dit onderstebo en gee dit vir Tonie aan. Hy wys na die onderkant van die tenk.

Met die eerste oogopslag lyk dit doodnormaal, maar Tonie merk ’n fyn, noukeurig gemasjineerde naat. Die fyn paswerk is indrukwekkend, die las feitlik onsigbaar.

Hy draai daaraan en met ’n bietjie inspanning begin die tenk se boom glad oopskroef. Die tenk is leeg binne. En as hy moet skat, pas die silinder op die tafel presies binne-in.

Tonie kyk met bewondering na die tegnikus. “Jou werk? Dis netjies, jy kan omtrent nie die las sien nie!”

Drummond knik ingenome.

Tonie draai die boom weer uit en loer na binne. “So die vrag gaan hierin, maar hoe stewig pas dit? Gaan dit nie skud nie?”

“Dit pas honderd persent,” sê Drummond, sy uitspraak effens Engels. Hy tel die silinder van die werkbank op en gee dit aan. “Probeer.”

Tonie skuif die vlekvryestaalhouer in die staalsilinder. Dit verdwyn geruisloos en vul die beskikbare ruimte tot op die millimeter. Hy skroef die boom weer in. Ook dit pas presies binne teen die silinder. Hy skud dit, maar dit is rotsvas. Hy knik sy goedkeuring vir Drummond.

“Dit lyk goed, meneer Drummond,” sê Beetge. “Het jy ’n boks hiervoor?”

Drummond knik en skarrel weg om dit te gaan soek. Beetge draai na die Krygkor-man.

“Is jou tasse al gepak?”

Tonie knik. “Ek ontmoet Bertrand in Berlyn oor ’n paar dae. Die wapens is reeds op pad na die pakhuis in Rostock.”

“Nou goed. Ek laat hierdie goed met die diplomatieke sak Berlyn toe stuur. Ek wil nie hê jy moet daarmee reis nie. Niks moet ons met die vrag verbind nie. Kry die uraan by Bertrand, en oorhandig dit weer aan ons man by die konsulaat. Moenie jy verder daarmee rondloop nie. Hy sal dit Rostock toe vat en dit in die krat verpak saam met die ander silinders.”

Tonie is steeds bekommerd. Beetge sien dit.

“Moenie worry nie, Tonie. Die tenks lyk almal presies dieselfde. Jy sal nie sommer die verskil sien nie. In elk geval, ons het ’n goeie dekverhaal in plek. Sorg jy net dat niemand jou saam met Bertrand sien nie. Jy’s vir seker op rekord by die CIA.”

* * *

Dale Drummond se bejaarde Datsun 120Y spoeg ’n stink streep olierook by die sekuriteitshek uit. Hy wuif ingedagte vir die wag in die verbygaan en vleg die laatmiddagverkeer binne.

’n Blok verder terug trek ’n vuilwit Colt Galant uit ’n parkeerplek en volg hom op ’n afstand.

Drummond oefen die telefoonnommer wat hy moet skakel. Hy sweet blink druppeltjies, en draai die ruit oop om ’n bietjie vars lug te kry. Hy’s benoud, soos altyd wanneer hy moet bel.

Twee kilometer verder sien hy die grys telefoonhokkie links op die sypaadjie. Hy trek af. Gelukkig is daar ’n parkeerplek. In die uitklim voel hy in sy beursie vir ’n paar munte.

Agter hom parkeer Bertus Verwey sy Colt op ’n veilige afstand, grawe ’n filterlose Gauloises uit ’n verfrommelde pakkie, swets toe hy sien dis die laaste. Hy steek dit aan, gooi die pakkie by die venster uit, en trek diep aan die sigaret. Rook krul oor sy vergeelde snor, ’n oorblyfsel van sy militêre loopbaan, en dit laat sy oë traan.

Voor hom wag Drummond ongeduldig op die luitoon. Die verbinding kliek in plek.

“Yeah?” Niks meer nie. Amerikaanse aksent.

“Dis Drummond. Die ouens was by my lab gewees vandag. Die kolonel en nog iemand. Ek het hulle die duiktenk gewys.”

“Wie’s die ander man?”

“Tonie, het hy hom genoem. Langerig, so ses voet een. Bietjie plomp. Hulle het die tenk deurgekyk, en my toe vir ’n boks gevra om dit te vervoer.”

“Waarheen?”

“Weet nie. Hulle het nie gesê nie. Maar ek vermoed dit gaan binnekort vertrek. Hulle het baie druk op my gesit om die werk teen vandag klaar te kry.”

“Oukei, mooi. Ons praat weer.” Die foon gaan dood.

Drummond staan vir ’n oomblik met die gehoorbuis in sy hand. Hy kom agter hy bewe. Vrees, opwinding? Hy weet nie. Maar hy het pas sy eerste verslag van waarde aan die CIA gelewer sedert sy oorplasing van die WNNR na Krygkor ’n paar maande gelede. Een waarin hy geen keuse gehad het nie. Die druk van moontlike ontbloting was gewoon te groot.

“Wat de hel het ek gedoen?” prewel hy terwyl hy stadig terugstap na sy motor.

Bertus Verwey wag tot die Datsun weg is voor hy die telefoonhokkie nader. Dis warm binne en hy trek sy neus vies op toe hy die angssweet ruik.

Hy skakel ’n Pretoria-nommer, vra die operateur om die rekords vir die telefoon te trek, en gee die hokkie se nommer en die tyd van die oproep.

“Verwey. Nasionale Intelligensie,” sê hy toe die operateur om identifikasie vra. “Soek jy my magsnommer?”

“Dis nie nodig nie,” sê die man, en Verwey glimlag. Almal is maar skytbang vir ons, dink hy terwyl hy ’n pen uithaal en die nommer wat die operateur gee op sy hand skryf.

Hy lui af en skakel sy kantoor.

“Lucky.”

“Lucky you.”

“Bertus? Stop nou jou kak, my china. Ek’s besig. Wat makeer jou altyd?”

Bertus lag. Lucky treiter tog so maklik. Dan doen hy verslag: “Die moffie by Krygkor het nou net met iemand kontak gemaak. Telefoonhokkie twee kilometer van sy werk af. Ek het ons connection by die Poskantoor gevra om die rekords te trek. Hier’s die nommer.”

“Wait, wait, lat ek gou ’n pen kry. Oukei, gooi.” Lucky skryf die nommer neer. “Right, we’ll take it from here. Kom terug kantoor toe. Ons gaan moet begin plan sien met daai Drummond-laaitie. Sal die colonel laat weet.”

“Copy that.”

Skag

Подняться наверх