Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 25

22

Оглавление

Nasionale Intelligensie,

Concillium-gebou, Pretoria

15 Desember 1987

Kolonel Beetge haal sy bril af, kyk teen die lig na die lense en vestig dan sy aandag op Lucky se transkripsie.

Kantoor van die Staatspresident

Teenwoordig: SP, Genl. M Rautenbach

Afskrifte: 1

Verspreiding: Kol. Beetge

Soos dit hoort. Ongemagtigde meeluistering in die staatspresident se kantoor is net vir sy oë bedoel. Hy lees die transkripsie aandagtig.

SP

Hierdie onderhandelinge is nog in ’n absolute beginstadium, Mike. Roelf Vermaak neem dit persoonlik vir my waar. Hy vlieg elke dan en wan af Robbeneiland toe. Die gesprek verloop blykbaar baie goed. Hy sê Mandela is verbasend redelik. Hy’t gesê sy mense het lankal aanvaar die Afrikaner gaan nêrens nie, dat ’n nuwe Suid-Afrika sonder die Afrikaner ondenkbaar is. Dis bemoedigend, maar ons kan nie kanse vat nie. Ons moet daardie soort gematigheid aanmoedig. Wat dit moeilik maak, is dat Mandela gereeld met sy mense in Lusaka moet konfereer. Hy kan nie net besluite op sy eie neem nie. Dit is in ons belang dat hy as leier gesien word, so ons laat hom toe om met hulle te praat. Dit gaan maar stadig, maar dis belowend. Baie meer as wat ons ooit gehoop het.

MR

President, die man is tog ’n veroordeelde terroris! Hy gaan mos nooit sy streke laat staan nie?

SP

Hy’s baie ouer en besadigder, Mike. Hy het klaarblyklik oor die jare tot meer vreedsame insigte gekom. Ons wil en moet die gesprek ’n kans gee. Dis Plan B. Maar dit is totaal afhanklik daarvan of hy óns vertrou, nie andersom nie. Ons kan nie aan die een kant praat en die ander kant skiet nie. Tensy dit selfverdediging is, natuurlik. Dis hoekom ek jou laat kom het. Van nou af moet julle operasies beperk wat ons gesprek met die ANC kan skade doen. Julle bly weg van ANC-kampe in Zambië en Lesotho.

MR

Meneer, met alle respek, dis mos onmoontlik! Dis ons werk om die vyand maksimum skade te berokken!

SP

Ek vra nie dat julle operasies stopsit nie. In Godsnaam, moet net nie iets doen wat ons goedertrou kan skade doen nie. Ek wil nie hoor van oorgrensoperasies met Militêre Intelligensie en aanvalle op huise in bleddie Lesotho nie, Mike! Niks wat die gesprek kan skade doen nie. Ons moet ten alle koste ons goeie bedoelinge bewys, en ek bedoel ten alle koste.

As iets uitlek, sal Mandela daarvan hoor. Volgens Roelf is hy merkwaardig goed ingelig. Hoe sy maters in Lusaka dinge uitvind en hom laat weet, weet ons nog nie. Hul intelligensie is goed.

Roelf wil hom na Victor Verster in die Paarl skuif. Hom direkte toegang tot ’n telefoon gee om met sy mense te praat. Dit sal ons ook kans gee om sy kontakte te monitor. Hy sal dit weet, natuurlik. Hy sal versigtig wees. So as julle iewers aanjaag, gaan dit uitkom, en hy sal dit beslis teen ons wil gebruik. Dit sal ons ernstige skade berokken. En daar’s net te veel op die spel daarvoor.

Nog iets, nie ’n woord oor die planne met Mandela aan jou departemente nie. Niks. En Mike, waar daar los drade is, maak seker dat julle in die toekoms alle spore doodvee. Soos in dood vee. Het jy my?

MR

(Onhoorbaar)

(Eindig)

Beetge het beurtelings yskoud en woedend geraak terwyl hy lees. Dis soos ’n suur in sy keel, die strategie so lynreg in stryd met hul eie van geen kompromieë en sterk, daadwerklike optrede.

Hier is dit nou. Hy voorspel al jare in die stilligheid dat die Afrikaner nie op sy eie die mas gaan opkom nie. Beslis nie as hy voor ’n keuse gestel gaan word tussen skiet en praat nie. Sy nasie is hopeloos te diep verdeel om soos een mens op te staan teen ’n vyand.

Nee, sy volk het hulp nodig, want ’n oormag sal hy nooit hê nie. Hy sal moet bly veg vir sy territoriale voordeel. En hier wil sy eie regering hom nou ontneem van daardie mag. Die vermoë om terug te veg vir wat hy wéét is reg.

Skag

Подняться наверх