Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 21
18
ОглавлениеKantoor van die staatspresident, Pretoria
14 Desember 1987
“Meneer, die minister is hier.”
“Stuur hom in asseblief, Greta.”
Minister Mike Rautenbach stoot die swaar deur oop en stap binne. Die president se kantoor is ruim, die vloer bedek met ’n Persies tapyt wat die klank van sy voetstappe demp.
Die staatspresident sit agter ’n breë lessenaar, sy bril laag op sy neus. Hy kyk op oor die bril en wuif na ’n bank en stoele om ’n lae tafeltjie waar koppies tee gereed staan.
“Sit solank en skink vir jou.”
Die minister maak so.
Die staatspresident skuif sy stoel terug en stap bril in die hand om die lessenaar. Rautenbach het ’n ekstra koppie geskink, en hou dit na die president uit. Die twee staan vir ’n oomblik woordeloos en roer.
Rautenbach ken sy president. Daardie stilte beteken hy het iets swaars op die hart.
Die president gaan sit in die middel van ’n bank met ’n roosmotief, sy oë afgeslaan.
“Mike, die Veiligheidsraad sit volgende Maandag. Na aanleiding van Finansies se jongste syfers gaan ek ’n voorstel indien. Ek wou jou eerste inlig.”
Die minister van verdediging knik moeg. Hy het dit verwag. Die koste van die Angolese oorlog, nou aangeblaas deur die moeilikheid by Cuito Cuanavale, die lewensverlies en slegte publisiteit. Die Finansies-mense is oplaas besig om hul aptyt daarvoor te verloor. Dit raak daagliks moeiliker om die Bosoorlog aan die kabinet te regverdig, en die druk neem toe om te onttrek. Hy skud sy kop.
“Dinge lyk sleg, Mike. Ons kan nie verder bedel by die belastingbetalers nie. Nie so na aan die volgende verkiesing nie.”
Tipies. Politiek wat altyd oor strategie moet seëvier.
“Meneer, ons het ’n jaar nodig, miskien twee, dan’s ons daar. Ons is besig om die suide van Angola skoon te maak. Ons behoort binnekort die lugruim te beheer. Dán gaan ons hulle regtig rook.”
“Mike, ons het hierdie ding al soveel keer heen en weer geredeneer. Ons kan nie aanhou lewens verloor nie. Die politieke koste is net eenvoudig te hoog. Ons moet realisties wees en plan maak. Ons kan nie die oorlog vir ewig volhou nie.”
“Daar’s altyd die taktiese kernopsie vir Angola, meneer, as ons dinge bietjie wil aanjaag.”
“Ja, en dan? Ons vee Luanda plat, en die week daarna is Pretoria én Kaapstad moer toe? Met beide die VSA en USSR wat ons onder skoot het? Nee, Mike, ons het die kernprogram geërf, ek en jy, maar ek het nog nooit geglo jy onderhandel met ’n loop teen iemand se kop nie. Dis ’n kortsigtige strategie.”
Rautenbach kook. “Is dit waarvoor ons al daai bloed vergiet het, meneer?”
“Mike, ons het bloed vergiet om Suidwes sy onafhanklikheid met ’n vrye en regverdige verkiesing te kan gee. Dis waar ons nou is. Daardie verkiesing gaan moet plaasvind, en Swapo gaan daaraan deelneem, en gaan dit waarskynlik wen. Dis onvermydelik. Of ons dit nou wil hê of nie.
“Dis die realiteit, my vriend. Die Kavango en die Kunene is lankal nie meer ons grens nie. Dis nou die Oranje, en dis hoekom ons alternatiewe móét oorweeg. Al wen ons in die loopgrawe, gaan ons die oorlog verloor.
“Dis hoekom ek direkteur Roelf Vermaak en sy mense by Nasionale Intelligensie so ’n ruk gelede toestemming gegee het om met die ANC te begin gesels. Met die prisonier Nelson Mandela. Mike, dis vir my ’n swaar ding om vir jou te sê, maar na my mening is ons vervroegde onttrekking uit Angola én Suidwes noodsaaklik vir die sukses van daardie gesprekke. Ons moet ons goedertrou bewys in enige onderhandelinge met die ANC.”