Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 6

3

Оглавление

Unter den Linden, Oos-Berlyn,

Ampt der Kommerzielle Koordinierung

20 November 1987

Alexander Golodkowski kou aan die agterkant van ’n plastiek-staatspen, verdiep in die notas wat hy pas op ’n vel papier gemaak het. Sy byna vierkantige gesig toon die onvermydelike spore van sowel swaartekrag as ’n bankrot republiek. Onder ’n kop blinkgesmeerde hare spreek die diep sakke onder sy oë en sy hangende wange van nagte se wakker lê.

As hoof van die Kommerzielle Koordinierung in die Oos-Duitse Republiek is dit sy taak om buitelandse valuta te verdien. Op enige moontlike manier. Wapens, ammunisie, selfs deur die verkoop van Oos-Duitse politieke gevangenes en ’n gesmous met tegnologies gevorderde produkte.

Die eertydse droom van ’n selfstandige Kommunistiese republiek is lankal aan skerwe. In die plek daarvan, ’n sukkelende staat gedryf deur korrupsie, desperate geldsug, onderhou deur vrees vir die geheime Stasi waarin hy soveel jare gedien het.

In sy duister wêreld is jou vyand jou vriend solank hy sy beursie oopmaak. Maar hy’t al jare vrede daarmee, sy vroeëre ideale diep onder ’n hoop geheime transaksies begrawe. Dis immers onafwendbaar dat die hele spulletjie die een of ander tyd sal ineenstort.

Daarom is hy geensins verbaas oor die oproep wat hy pas ontvang het nie. Bevestiging van nog so ’n transaksie. Missiele dié keer, vir sy goeie vriend Jean Bertrand in Parys.

Die diskrete middelman.

Soos gewoonlik is die uiteindelike koper se identiteit geheim. Nie dat dit nodig was nie, want missiele bestem vir Angola kan net een ding beteken. Dis wapens vir die vyand: Suid-Afrika, en uiteindelik seker Unita.

Dit is een ding wat hy nie vir sy meesters kan wegsteek nie.

“Konstanz!” roep Golodkowski sy sekretaris terug.

Die kort, bleek amptenaar is onmiddellik in die deur, notaboek in die hand.

“Stuur ’n sein aan ons kollegas in Moskou. Merk dit geheim. Rig dit aan Ilyich Serov, KGB. Prioriteit. Dit lees soos volg …”

Hy sit agteroor en dikteer dit stadig, metodies, ’n opsomming van die aantreklike aanbod op sy lessenaar. Daarmee saam, ’n plan om meer as slegs op geldelike wyse munt te slaan uit ’n situasie wat pas in sy skoot beland het.

Skag

Подняться наверх