Читать книгу Skag - Jaco Wolmarans - Страница 20
17
ОглавлениеRostock-hawe, Duitsland
13 Desember 1987
Dis vriesend, maar Jos kies ’n buitetafel by ’n straatrestaurant oorkant die Warnow-kaai. Hy kon net nie aan boord bly nie. Hy het beweegruimte gesoek. En hy wil afkoel.
Die lug is grys en mistroostig, laas nag se ligte sneeu in reëlmatige hopies langs die straat gevee. Dit irriteer hom, besef hy. Dis so … bleddie ordelik, vergeleke met sy eie lewe.
Dit spook by hom. Die foto’s van Lida, bewusteloos op die vloer. Hy het homself probeer oortuig die voorval was bloot ’n nuttige toevalligheid om hom in sy spoor te laat trap. Maar nee, daar’s niks toevalligs aan kolonel Beetge nie.
Die sadistiese detail van haar opgeswelde gesig en die hoek waarteen die foto geneem is, reg van bo, die amper vulgêre magsposisie wat dit verbeeld het, wys waaroor dit gaan. Beheer oor hom, oor die situasie. Wat beteken dat Beetge dit moes gereël het. Berekend en koelbloedig.
Dit was ’n halfuur voor sy vlug. Hy kon niks daaromtrent doen nie. Beetge het dit gebruik, die situasie met teatrale vernuf laat uitspeel. Die groot hond wat pis op die kleintjie. Want dis die hiërargie van dinge. Jos was briesend, maar Beetge was onverstoord, het hom uitdrukkingloos deur die instaphek gewuif na sy nuwe identiteit.
Vaar jou wel, Viviers.
Die straatrestaurant is besig, meestal mense wat in die verbystap stop vir iets warms teen die see se ingewaaide koue. Of iets ligs vir middagete. Waarskynlik personeellede van die vele verskepingsmaatskappye met kantore en pakhuise in die Warnowufer.
’n Blonde kelnerin bring sy koffie en soetgebak. Sy talm om hom, neem haar tyd om alles mooi rond te skuif op sy tafel. Hy knik ingedagte, ignoreer die mooi glimlag.
Twee mans ’n paar tafels weg volg haar met die oë toe sy skinkbord teen die bors terugstap kombuis toe. Lig flits op een se pols en Jos merk die duikhorlosie op. Dieselfde aan die ander man se pols. Die twee leun na mekaar toe en praat sag, die mooi kelnerin duidelik die saak onder bespreking.
Hy keer homself om langer na die twee te kyk, sy instinkte meteens opgeskerp. Daardie tipe horlosie is skaars. ’n Benrus, wat net aan Spesmagte uitgereik word. En spesifiek aan Amerikaanse Navy Seals.
Toevallig? Nie eens amper nie. Hy voel sy spiere saambondel in reaksie. Jos gooi suiker in sy koffie en sorg dat hy nonchalant voorkom. Ontspan jou skouers, het die instrukteurs gesê. “Laat dit hang. Anders sien mense jy’s gespanne.” Hy lig die koppie tot by sy mond, blaas oor die inhoud en staar ongefokus, asof hy diep dink. Maar aan die rand van sy visie probeer hy die twee mans se buitelyne ontleed.
Gespierd, fiks. Albei in praktiese civvies: noupassend, niks wat kan haak nie, onopvallend grys en ligbruin. Beslis ’n militêre houding.
Maar dis die vermyding van oogkontak wat alles bevestig. Presies soos wat hy geleer is. Kyk na alles en almal behalwe die teiken. Amateurs! Byna glimlag hy wrang oor die ironie van sy eie onlangse taktiese geskiedenis.
Hulle het na hom hier kom sit, onthou hy. Miskien het hulle hom vanoggend by die Vesta ingewag toe hy sy bagasie gaan stoor het? Toe hierheen gevolg? Wat sou beteken hulle het geweet hy’s op pad. En waarheen.
Wat nou? Hy kan dit nie net rapporteer nie. Hy sal moet seker maak en intel versamel: getalle en oorsprong, as hy kan.
Hy kyk gemaak verveeld rond, laat sy blik ook oor die twee dwaal. Hulle sit by ’n tafel teen die restaurant se muur. Goed gekies. Geen manier om hulle van agter te nader nie.
Hy sien die klein vensters hoog bokant hulle. Die restaurant se toilette? Hy kry ’n plan, staan op en stap oor na waar die blonde kelnerin tafel skoonmaak.
“Waar is julle badkamers? Hier binne?”
“Ja, daar,” beduie sy.
Jos voel die twee se oë op sy rug. Hy knik asof hy dankie sê, en sis onderlangs: “Gaan wys my!”
Sy lyk vir ’n oomblik onseker, maar dan draai sy om en wys die pad aan.
Buite sig van die mans vat hy haar arm, draai haar terug. Haar oë is nou groot.
“Die twee mans by die tafel teen die muur, onthou jy hulle? Ek is seker hulle hou my dop. Seker al weer my eksvrou se nonsens. Ek wil seker maak. Kan jy my help?”
Hy hou ’n klompie Deutschmarks na haar toe uit. Sy knik, vat die geld onseker.
“Gaan uit, vra of hulle nog iets nodig het. Gesels sommer. Vra hulle uit oor waar hulle vandaan kom. Enige iets. Ek sal vir jou wag by die toilette om te hoor wat hulle gesê het.”
Sy knik, sit die skinkbord met borde neer en stap uit.
Jos glip in die gang af, sien onmiddellik die twee deure: Damen en Herren. Die mans se deur is gesluit en hy stoot sonder versuim die een aan die vrouekant oop, sluit dit agter hom en kyk vir die klein venster wat hy van buite gesien het. Dis hoog. Daar’s nie tyd vir staanplek soek nie – hy spring, gryp die vensterbank en trek homself op.
Met sy kop dwars gedraai, is die kelnerin se stem duidelik hoorbaar. Ook die Amerikaanse aksente van die twee klante.
“Net die gewone toeristegoed,” antwoord een op haar vraag. “Miskien kan jy ons vanaand bietjie die dorp wys?”
Jos luister na die res van die gesprek, die manne se ligte flirtasie met die kelnerin. Sy doen haar bes om uit te vis, maar hulle hou haar bedrewe op ’n afstand. Die professionaliteit sou dit vir Jos beklink het as hy nie reeds seker was nie.
Hy glip uit die vrouetoilet en soek in die restaurant ’n telefoon. Sien een teen die muur langs die kombuis se swaaideure, en stap traag soontoe. Hy sien nie uit na die verslag aan kolonel Beetge nie.