Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 37

Ontmoet die wêreld

Оглавление

Die bykans tien maande wat hulle in die baarmoeder deurbring, dien as ’n buffer­periode vir ons babas voordat hulle die wêreld in alle erns begin beleef. Hulle raak geleidelik bewus van die goeie dinge wat op hulle wag, terwyl die minder goeie dinge deur ’n beskermende filter beleef word. Maar kom ons dink onsself ’n slag in ons pasgebore baba se posisie in.

Sodoende sal ons hom ’n inniger verwelkoming in die wêreld kan bied en terselfdertyd die trauma verminder wat dié nogal vreesaanjaende oorgang van die kalmte van die baarmoeder na die regte wêreld behels. Daar bestaan ’n denk­skool dat babas gewoond moet raak aan die harde werklikheid en dat ’n te sagte benadering hul karakterbou- en hanteringsvermoë sal benadeel. Die goue midde­weg lê iewers tussen dié twee uiterstes. Die gebruik van ’n motorstoeltjie is by­voorbeeld ononderhandelbaar van daardie heel eerste rit huis toe van die kliniek af, of die baba nou van die beperking hou of nie. Aan die ander kant is vroeë skei­ding van moeder en baba ná geboorte om Baba te meet en te bad nie net on­nodig nie, maar ook harteloos, en die eerste saadjie van emosionele angs word dikwels reeds daar geplant. Hierdie trauma kan wel later oorkom word, maar hoe­kom moet dit in die eerste plek geskep word?

Die aangename sensasies

Stel jou voor hoe dit moet voel om deur die geboortekanaal die wye wêreld binne te kom en jou ma se stem vir die eerste behoorlik te hoor. Ná die kreun- en sug-ge­luide van die kraamproses gaan dit oor in ’n warme verwelkoming. En jy weet sy het die proses met liefde deurgemaak, en dat haar trane trane van vreugde en verwondering is.

Nadat jy nege maande lank deur water omring was, afgesny van direkte aanraking, word jy nou op jou ma se naakte bors geplaas en voel jy hoe haar arms om jou vou, hoe haar sagte, warm lippe jou sensitiewe kopvel soen. Kan enigiets ’n mens veiliger of meer gelief laat voel?

Jy hoor Pa se stem, wat tot nou toe dof was, weergalm, en voel sy effens growwe, stekelrige, maar liefdevolle soen.

Jy soek instinktief na Ma se bors en ná die frustrerende soektog smaak jy diepe bevrediging. Die soet geur is soos haar vingerafdruk, en jy sal haar van nou af altyd aan dié kenmerkende reuk tussen ander ma’s kan uitken. Die smaak is ryk, romerig en intens bevredigend. Jy ontdek dat dit inspanning verg om jou kakebene te laat beweeg, en die lomerigheid oorval jou gou in die geborgenheid van jou ma se arms. Dit moet salig voel.

Stel jou daardie verblindende glimps van direkte sonlig voor wanneer jy vir die eerste keer buitetoe geneem word. Dit is so helder dat jy jou oë moet toeknyp, en tog so perfek lig dat dit jou waarskynlik sal laat nies – wat op sigself ’n unieke sensasie is. Die voëls se gekwetter, die geruis van die wind deur die bome, ’n hond wat blaf, ’n hadeda se roep, musiek en gelag – geen wonder dat pasgebore babas oorweldig en kort-kort aan die slaap raak nie.

Badtyd saam met Pa moet een van die hoogtepunte van jou vroeë babatyd wees. Om oogkontak te maak met Ma en Pa, jouself in hul liefdevolle blik te verloor – wat kan wonderliker wees as dit?

Wat van daardie eerste masserings, wanneer Ma instinktief jou voete vryf, die gevoel van ’n sagte handdoek, die kraakgeluid van ’n weggooidoek, die geur van jou eerste roompies of poeier?

Die minder aangename sensasies

Aanvanklik moet die koue lug nogal na ’n aanslag voel nadat jy so lank by liggaams­temperatuur geleef het. Hoekom is kraamkamers tog so koud? Gelukkig wil almal so gou moontlik die wêreld begin warm maak!

Stel jou net die kakofonie van vreemde, kras geluide voor wat ’n pasgebore baba moet hoor. Hoewel hulle ’n meganisme het wat hulle in staat stel om te veel gelyk­tydige indrukke uit te doof, sal dit hul aankoms mos oneindig vergemaklik as ons ons stemme demp en die geluide van metaalinstrumente tot die minimum beperk.

Die verblindende kunsmatige lig is ook ’n aanslag op die sintuie. Natuurlik moet hulle daaraan gewoond raak, maar dit sou ’n ware liefdesdaad wees om die ligte vir daardie eerste tydjie te demp.

Een van die ergste sensasies moet seker wees om pas ná geboorte te voel hoe mukus en ander vloeistowwe uit jou neus en mond gesuig word. Dit is ongemaklik en selfs pynlik, en selde werklik nodig. Die vriendeliker alternatief sou wees om Baba op sy sy te draai, die mukus af te vee en hom so gou moontlik te laat drink sodat Ma se kolostrum die slymdrywende funksie kan verrig.

Hoe voel dit as een kraamnasorgsuster ná die ander jou kop teen jou ma se bors vasdruk om jou “reg” te laat vassuig? Seker nie baie aangenaam nie.

Party van daardie eerste toetse moet ook maar vreemd voel: byvoorbeeld ’n koorspen in jou anus om seker te maak dat daar geen blokkasie van die rektum of kolon is nie; die reflekstoetse moet jou seker baie blootgestel laat voel, veral die Moro- of skrikrefleks. Dit is alles nodig, maar glad nie aangenaam nie.

Die ongemak van wind in jou magie, die suur smaak van opgebringde melk op jou tong, die rammelgeluide terwyl jou maag die uitdagings van spysvertering probeer te bowe kom, is daardie eerste paar dae waarskynlik uiters verwarrend, selfs vreesaanjaend. Geen wonder Baba knip sy oë so dikwels nie!

Om te voel hoe jou ma se emosies wipplank ry terwyl sy haar nuwe rol as ouer probeer verwerk, ontlok ongetwyfeld angs by ’n pasgebore baba. En dink net hoe dit moet voel as sy boonop aangeraai word om haar baba maar te laat huil sodat sy hom nie dalk bederf nie.

Stel jou voor dat jy vir die eerste keer ’n ambulanssirene hoor, of ’n yslike vragmotor wat verbydreun. Voorwaar ’n vreemde plek, dié ou wêreld van ons.

En so vertrek ’n pasgebore baba op sy ontdekkingstog om uit sy alledaagse ondervindinge te leer. Party dinge gaan onaangenaam wees, ander wonderlik. Ons as ouers kan baie van daardie eerste kennismakings met die lewe beïnvloed, hoe­wel nie almal nie. Natuurlik moet babas deur hul eie oë van die lewe bewus raak en moet elke mens die lewe op sy eie manier ervaar, maar kom ons sorg dat ons nie die proses onnodig bemoeilik nie.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх