Читать книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor - Страница 38

Fisieke vraagstukke VERRASSENDE FEITE OMTRENT JOU PASGEBORE BABA

Оглавление

Selfs al het jy al die boeke gelees en na al jou vriende geluister, gaan daar baie dinge­tjies omtrent jou eie spesiale bondeltjie vreugde wees wat vir jou as ’n verrassing kom – en dit is wonderlik, want dit is alles mylpale op die pad van ouerskap. Hier is ses feite wat jou moontlik nie net sal verras nie, maar ook effens mag bekommer. Dit help hopelik om jou gerus te stel.

•Die grootte en/of sagtheid van jou baba se fontanelle: Baba het in werklikheid vier sagte plekkies waar die skedelbene ontmoet. Die grootste, die anterior fontanelle bo-op en effens na die voorkant van die kop, is die grootste; die posterior fontanelle, op die middellyn van die agterste ronding van die skedel, is die tweede grootste. Die ander twee is heelwat kleiner en aan weerskante van die kop geleë, maar vir die meeste mense is hulle nie eens waarneembaar nie. Dié fontanelle en die strukture wat hulle verbind, stel enersyds die skedelbene in staat om oor­mekaar te skuif om die geboorte te vergemaklik, en laat andersyds die brein toe om ná geboorte aan te hou groei sonder om deur ’n vaste struktuur aan bande gelê te word. Die anterior fontanelle gaan tussen ses en agttien maande toe. Voel liggies met jou vingerpunte al langs die anterior fontanelle om jou te ver­gewis van die grootte en hoe dit normaalweg voel. Moenie bang wees om Baba se hare te was nie; werk eenvoudig net saggies oor hierdie gedeelte. As die anterior fon­ta­nelle stadiger toegaan as gewoonlik, het jou baba dalk die weefselsout Calc. phos. (2) nodig. Babas met buitengewoon groot koppe met ’n groter fontanelle en rietskraal lyfies het dikwels die weefselsout Silicea (12) nodig. Raadpleeg onmiddellik jou dokter as die anterior fontanelle ooit merkbaar uitbult terwyl jou baba koors het of siek lyk. As dit besonder ingeduik is en Baba swak drink, braak of diarree het, moet jy onverwyld mediese hulp kry vir ontwatering.

•Baba se borsweefsel en geslagsdele is geswel. Pasgebore seuntjies én dogtertjies het gewoonlik harde knoppies onder hul tepels en die weefsel mag selfs op die oog af geswel wees. ’n Dogtertjie se labia (die lippe van die vagina) en ’n seuntjie se skrotum is gewoonlik verbasend groot in vergelyking met hul algehele liggaams­grootte. Dit het niks te doen met die drukking wat gedurende die geboorteproses uitgeoefen word nie, maar is bloot die gevolg van die blootstelling aan Ma se hormone gedurende swangerskap. Babadogtertjies kan selfs ’n effense bloede­rige vaginale afskeiding hê. Nie een van hierdie simptome hoef jou te bekommer nie en behoort binne ’n week of twee te verdwyn.

•Jou baba se gryprefleks is buitengewoon sterk. Een van die toetse wat jou dokter of vroedvrou kort ná geboorte sal uitvoer, is om hierdie refleks te toets aangesien dit een van die aanduidings van spiertonus, ontwikkeling en welsyn is. As jy een wys­vinger in elke handpalm van jou baba plaas, sal jy sien hoe sy outo­maties styf vasgryp. Sy sal nie laat los terwyl jy haar stadig uit ’n liggende in ’n sittende po­sisie regop trek nie. Hierdie refleks sal geleidelik verdwyn. Dit sal tot tyd en wyl moeilik wees om haar vingertjies los te maak om iets wat sy vasgryp.

•Die meeste babas slaap die eerste drie tot vyf dae baie. Die inspanning van die geboorte het ongetwyfeld iets hiermee te doen, en miskien ook die aanpassing by die lewe op Moeder Aarde. Wat die rede ook al mag wees, dit is beslis nogal ’n verrassing as jy jou gestaal het vir strome trane en onderbroke slaap. Dit gaan nog kom, maar waarskynlik in mindere mate as wat jy verwag het. Babas met geelsug is moeër, en groot babas wat nie goed of dikwels genoeg drink nie, sal spesiale aandag nodig hê. Origens is dit wys om slapende babas met rus te laat en die stilte voor die storm te geniet.

•Borsbabas het ongeveer agt tot tien stoelgange per dag in die eerste maand tot ses weke. Sodra die mekoniumstadium verby is (dit is die dik, taai, groenswart stoelgang van die eerste paar dae), sal ’n borsbaba waarskynlik met elke voeding ’n vuil doek hê, en dikwels meer as een per voeding! Party stoelgange sal groot en eksplosief wees, ander skaars ’n smeerseltjie. Borsbabas se stoelgange is mosterd­kleurig, sag soos gesmelte roomys, en lyk asof dit sesamsaadjies bevat. Dit word maklik afgevee en ruik glad nie sleg nie. Ná hierdie seswekeperiode sal die stoelgange verminder tot so min as een elke vyf dae.

•Babas kan diep slaap terwyl hulle hul melk drink. Jy het seker al Madonna-agtige prente van ’n slapende baba aan die bors gesien, maar het jy al ooit ge­wonder of dit werklik kan gebeur? Wel, dit kan, en ja, die baba kan vas aan die slaap wees, met die ogies styf toe, terwyl die kakebeentjies aanhou werk met die bors of bottel. Dit gebeur alles sonder om te verstik of te hoes en proes. Dit is veral harde werk om aan die bors te drink, en die koesterende gevoel om so in Ma se arms te lê en drink het ’n sussende uitwerking. Ma’s wat borsvoed, kan gerus Baba se voorbeeld volg en ook ’n uiltjie knip terwyl sy drink. Lê gemaklik en haal ’n bietjie slaap in. Bottelbabas moenie plat lê nie, aangesien hulle geneig is tot oorinfeksies weens die melk wat deur die buis van Eustachius tot in die oor kan lek. Hou hulle teen ’n hoek van 45º in jou arms.

Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg

Подняться наверх